The Fear Index (Reeks / Showmax)

The Fear Index (Reeks / Showmax)

Hoe minder jy van THE FEAR INDEX weet, hoe beter. Wees net gewaarsku: die storie is ingewikkelder as jou laaste matriekvraestel, en jy moet stewig konsentreer om die kloutjie by die rekenaar te bring. Dit gaan oor ‘n aantreklike jong sakeman, wat allerweë as ‘n tegniese genie bestempel word. Maar dan voel dit vir hom asof hy van iewers af (dalk ‘n rekenaar?) geteister word. En verbeel hy hom dat hy Charles Darwin van die ewolusieteorie sien!

THE FEAR INDEX probeer baie hard om ‘n riller te wees. Die eerste episode wys vir ons die reuse donker huis waar die genie saam met sy vrou woon. Is daar iemand saam met hom in die huis? En is hy verantwoordelik vir rampe wat skielik plaasvind? Die reeks wérk op die oppervlakte as gevolg van die donker, broeiende atmosfeer wat geskep word, en al die slim lokaas wat vir die kyker uitgegooi word. Hulle moet sin maak uit wat gebeur. Maar later raak selfs die kyker verstrengel.

Die eerste helfte van die reeks is kykbaar, spannend en tart jou verbeelding. Maar sal die skrywer dit kan volhou?