THE FOG

BABA SUPERMAN se TOM WELLING van SMALLVILLE-faam skrik himself besimpeld vir ‘n dik laag mis wat oor ‘n dorp toesak. Maar hy’t darem nie al sy varkies verloor nie. 100 Jaar gelede het ‘n groep gierige dorpenaars skipbreukelinge beroof en vir dood agtergelaat. Nou is hulle geeste terug om wraak te neem. En hulle kruip in die mis weg. Die fliek is ‘n nuwe weergawe van die John Carpenter-riller van die laat 70’s en DAARDIE fliek was nie skrikwekkend nie. ‘n Mens het gedink die nuwe weergawe sal meer hardebaard hê, maar vergeet dit. Dis omtrent so skrikwekkend as verf wat langsaam aan ‘n muur droogword. THE FOG is ‘n riller om voor skaam te wees. Die storie is onsamehangend, daar is geen groot skrikoomblikke nie, en die regie is sonder styl. Ek sou THE FOG vermy as ek jy is. Rillers moet mens darem een keer laat hop. En THE FOG stel hoë eise aan jou ooglede… en wel om hulle OOP te hou!