The Lost City

The Lost City

THE LOST CITY is ‘n verspotte film met omtrent soveel realisme as beloftes dat slaggate op paaie herstel sal word. ‘n Skrywer van romanses (Sandra Bullock in ‘n nertsstywe pienk-pers pakkie) pleeg ‘n hygroman, telkens met dieselfde blonde macho model op die voorblad. Daarna ly sy aan skrywersblok, en raak moeg vir die gesukkel.

Sonder dat haar uitgewer dit weet, veroorsaak sy ‘n konsternasie wat daartoe lei dat sy en haar voorbladmodel (Channing Tatum wat heerlik met homself spot) na ‘n verlore skat soek. Daniel Radcliffe  is die man wat haar dwing om die skat te vind, en Brad Pitt, kan jy glo, help hulle om daar te kom. Pitt stuur homself ook hemelhoog op in hierdie romantiese slapstickkomedie.

Daar is ‘n oorvloed grappe, en natuurlik verwag jy nie realisme nie, dis nie daai soort fliek nie. Dis avontuurlik, groter as die lewe self, niks maak sin nie, niks is gemotiveerd nie, maar dis lekker om jou brein te laat rus. Genoeg van beurtkrag, slaggate en leë politieke beloftes gehad? Dan sal THE LOST CITY meer sin maak as wat ons tans beleef. Maar weet waarvoor jy jou inlaat.