THE MATADOR

MATADOR is ‘n perd van ‘n ander kleur. Pierce Brosnan, beter bekend as die vorige James Bond, speel die rol van ‘n sluipskutter wat sy fut verloor. Hy maak vriende met ‘n bleeksiel, Greg Kinnear, en hierdie onwaarskynlike vriendskap vorm die kern van MATADOR. Dis ‘n gitswart komedie. Onthou, om te sien hoe ‘n skarminkel mense doodskiet en dan berou het daaroor, is nie almal se idee van ‘n grap nie. Jy moet dus van galgehumor hou en nie skaam wees om vir tragedie te lag nie. Wat die fliek die moeite werd maak, is dit verhouding tussen die twee manne, die vlymskerp, droë dialoog en wat die manne bymekaar leer. MATADOR is vermaaklik, dis koel, dis snaaks op ‘n ander manier as MRS HENDERSON PRESENTS en dis guitig. Maar jy moet liberaal wees om vir MATADOR te lag. Die toneel waar Pierce in ‘n Speedo deur ‘n vol voorportaal loop, moet gesien word om te glo. MATADOR is ‘n aangeleerde smaak – ‘n fliek om saam met jou vriende te gaan kyk.