THE ONE (Reeks)

THE ONE (Reeks)

THE ONE. Dit klink na daai sigaretadvertensie waarmee ons in die jare sewentig gebombardeer is: “That’s… the one.” Maar hierdie reeks het nogal ‘n oorspronklike storie. Die probleem is dit raak later soos daardie koek wat jou koeksistertante op die tafel sit as julle gaan kuier. Sy skep jou bord tot boordens toe vol. Jy weet hoeveel slegte spysvertering dit jou gaan gee, maar jy moet eet anders vra die tannie: “Is dit dan nie lekker nie?” THE ONE neem vele karakters en storielyne en meng dit saam tot ‘n brousel wat jou laat voel of jy een push-up te veel gedoen het, en om genade pleit.

‘n Koelkop vrou, gedurig in ‘n misleidende rein wit pakkie en geblomde bloesie begin ‘n maatskappy met die naam The One. Dit bepaal wie jou ideale lewensmaat is deur jou DNS te bekom, en te sorg dat jy jou lewensmaat vind as die vrou jou én die ander persoon se DNS vergelyk. Nou: uit al die miljarde mense op aarde, wil dit gedoen wees om skielik jou ideale lewensmaat te vind wat sommer in dieselfde straat as jy woon. Lekker gerieflik nè? ‘n Quicky-soektog word woerts-warts afgehandel.

Moenie te  veel vrae in THE ONE vra nie, want ek twyfel of selfs die skrywer antwoorde daarop het. Hy neem skrywersvryheid tot die uiterste. Die storie moet werk, dus moenie jou logika droogskoonmaker toe neem nie. Smeer versiersuiker oor.