The Outlaws (Reeks / Britbox)

The Outlaws (Reeks / Britbox)

Hier is nou vir jou ‘n oorspronklike komedie. Net toe jy gedink het hulle dink nie meer vars komedies uit nie, en dat daar niks meer is om oor te lag nie, pop hierdie reeks uit ‘n verrassingspakkie uit. THE OUTLAWS is vol verbeelding, kwinte, geite, kaskenades en komedie-bollemakiesie.

Sewe vreemdelinge moet gemeenskapsdiens verrig deur ‘n ou vervalle gebou te restoureer. Die een karakter is vreemder en met meer streke as die ander. Voeg Christopher Walken by as ‘n klipgesig pa wat saam met die ander ses daar diens doen, en jy sal lag dat die krag weer aangaan.

Stephen Merchant speel ‘n bleeksiel wat langer as ‘n outydse Voortrekkerjuk is. Hy is ook ‘n prokureur wat die skelms, so nét op die tippie van chaos, van raad voorsien terwyl hy self aan die pen ry. Die karakters is so vars en oorspronklik asof hulle pas deur ‘n kitskos-afleweringsdiens afgelewer is. Dis pittig en gesofistikeerd.