THE PACIFIER

Julle sien hom al die hele week op televisie en in tydskrifte. Die man met die grondboontjiebotter-stem, die blinkgepoetste spiere en die lyf wat skrik vir niks. Ja, ek praat van Vin Diesel – die bul wat bekendstaan as die man met die tier in sy diesel-tenk. Sy THE PACIFIER begin vandag. En as daar een prent is wat jou van die stres van die week gaan laat vergeet, is dit hy. Nou kyk: Dis storie is eintlik maar KINDERGARTEN COP sonder Arnie. Die taaiste soldaat in Amerika word gehuur om die gesin van ‘n vermoorde wetenskaplike op te pas…. Want sien, iemand wil hulle vermoor. Maar dit word die moeilikste opdrag in sy lewe. Hy moet ‘n groep ongedissiplineerde kinders omskep in ‘n wenspan. Hoe sien ek baie onderwysers op pad skool toe wrang glimlag? Hoe hy dit regkry? Lag-lag, met ‘n grom wat ‘n leeu na ‘n sopraan sal laat klink, sy spiere wat soos ysterkabels onder sy vel bewe as iemand skeef opkyk en ‘n houding wat gebou is om te hou. Ja, natuurlik gaan jy lag… al dink jy: ek het hierdie grappies al tevore gehoor. En ek het die situasie al dikwels gesien. Die kombinasie van ‘n aksieheld en kriewelende kinders om die superster se sensitiewe kant te wys is ou nuus. Daarom was ek nie so gek oor THE PACIFIER nie. Dis ‘n gemiddelde komedie met prikkelende karakters, ‘n vriendelike atmosfeer en ‘n gemaklike storie. Meer as dit moet jy nie verwag nie. As jy van Vin Diesel aksie-flieks hou, is hierdie een die sout oor jou springmielies. As jy regtig na ‘n snaakse komedie soek, mag jy teleurgesteld wees. THE PACIFIER. Soos ‘n student in ‘n vraestel antwoord oor ‘n onlangse rolprent: “Dis okay en dis cool. Maar niks meer nie.”