THE PERSONAL HISTORY OF DAVID COPPERFIELD

THE PERSONAL HISTORY OF DAVID COPPERFIELD

THE PERSONAL HISTORY OF DAVID COPPERFIELD is een van die 20 beste films van die jaar, met Dev  Patel as Charles Dickens se geliefde karakter. Baie mense beweer sy gewilde roman is eintlik bietjie biografies.

Baie dinge gebeur op dramatiese, maar ook persoonlike en intieme wyse. ‘n Mens moet onthou dat vele van Dickens se treffers as vervolgverhale in tydskrifte verskyn het, vandaar die lang verhale met die baie kinkels.

Wat gebeur met ‘n jong weeskind wat van bakboord na stuurboord gestuur word? In die loop van sy lewe maak hy met vele mense kennis, onder andere die snaakse en moederlike Peggotty, een van Dickens se mees onvergeetlike karakters, met begrip gespeel deur Daisy May Cooper.

Die herskepping van periode is manjifiek en oorweldigend. En Copperfield se koppigheid en domastrante vasbeslotenheid word vermaaklik en met ‘n flink tempo beklemtoon. Vandat hy mishandel is as ‘n kind, tot hy ‘n slim sakeman word, word gewys. Net sy tante kan uiteindelik help as hy op sy laagtepunt is. Familiebande is sterker as enigiets anders. En dis waar sy redding lê. Sy vreemde tante.

As jy dus na ‘n inspirerende, warm, liefdevolle film soek, gerig op ‘n gesofistikeerde smaak, sal THE PERSONAL HISTORY OF DAVID COPPERFIELD jou aangryp. Dit is epies verfilm en vertel die bekende verhaal soos jy dit nog nooit gesien het  nie. Dit is briljant.