THE PRODUCERS

Ek weet nie of jy weet nie, maar ‘n kaartjie na een van Broadway se top produksies kos deesdae tussen R600 en R700. Dis wat mense moes betaal om na THE PRODUCERS in New York te gaan kyk. Nou wys daardie einste produksie op die silwerdoek, en dit gaan jou net R38 kos. Mel Brooks se trefferverhoogstuk het eers as ‘n fliek begin. Toe verwerk hy dit in ‘n musiekblyspel wat die meeste Tony’s ooit gewen het. En nou is dit weer ‘n fliek. “Al wat nog kan gebeur, is dat THE PRODUCERS klei-animasie word! Sê Brooks in sy grommende rokerslag. Jy sien dieselfde akteurs op enkele uitsonderings na as op Broadway. THE PRODUCERS gaan oor ‘n skelm paloeka (Nathan Lane) van ‘n Broadway-vervaardiger wat die swakste produksie ooit op die planke bring met die naam SPRINGTIME FOR HITLER. Hy wil dan sy beleggers se geld gryp en laat spaander daarmee. Maar hierna stel hy ‘n bleeksiel-boekhouer (Matthew Broderick) aan en sake loop uitspattig en uitbundig verkeerd. THE PRODUCERS is heeltemal oordadig. Die akteurs speel vir die verhoog, maar mens moet ook onthou dis ‘n klug. Daarom skop hulle hoog en pronk met hul stertvere in die regop posisie rond. Maar dit is eintlik groot pret. Moet dus nie dat die oordrewe styl jou afsit nie. As jy in ‘n verspotte bui is en jy wil vir Will Ferrell as Hitler sien, of jy wil sommer net jou hare laat sak en die onvoorspelbare aanvang, is THE PRODUCERS presies wat jy nodig het gedurende die baster langnaweek. Die produksie is sy R38 werd al is dit net vir die histeriese SPRINGTIME FOR HITLER-musiekblyspel, asook Uma Thurman in ‘n stywe wit nommertjie wat so knap sit, sy kan nie eers ‘n ertjiepit insluk nie.