The Serpent (Reeks)

The Serpent (Reeks)

Jy is nie “in” as jy nie THE SERPENT onder jou televisiebelt het nie. Hierdie woeste, skokreeks wat op die waarheid gegrond is, herinner aan Bonnie and Clyde, maar dis veel erger. ‘n Juweeldief en smokkelaar, briljant gespeel deur Tahar Rahim, mislei avonturiers en duimgooiers in die jare sewentig. Hy bedwelm, beroof en vermoor hulle. Sy meisie (Jenna Coleman) is ‘n toeskouer. Deur haar verwarde oë sien ons hoe die psigopaat mense na hulle dood lei. Dis juis haar siening wat ‘n balans na die geweld en skokke bring.

THE SERPENT herinner aan ‘n slang wat jou hipnotiseer voor hy pik. Jy is hulpeloos. Jy staar in verstomming na waartoe psigopate in staat is, en het simpatie met hulle loslit-slagoffers. Die reeks styg van die eerste toneel af van die aanloopbaan op en gooi jou in gruwelike turbulensie. Dit skommel jou soos ‘n melkskommel rond. Maar dis daardie doodsoë van die moordenaar wat jou bloed laat stol. Glo my, THE SERPENT sal jou laat bespiegel, jy sal dit vraatkyk en jou hande in ongeloof saamslaan. Onthou, dit het seks en geweld en dwelmmisbruik, dus niemand onder 16. THE SERPENT is bloedstollend en skrynend, en sal jou onder jou sitvlak skop.