THE STORY OF AN AFRICAN FARM

Goeie nuus. THE STORY OF AN AFRICAN FARM is ‘n knap plaaslike fliek wat julle moet ondersteun. Kan ek die volgende van my hart afkry? Elke keer as ‘n plaaslike fliek begin, sê die doemprofete: Afrikaners gaan nie fliek nie. Wys ‘n sepie en almal word sepie-lêbank-slawe. Wys ‘n goeie plaaslike rolprent, en jy kry hulle nie voor hulle TV-stelle weg nie. Ek stry, maar die doemprofete volstaan. THE STORY OF AN AFRICAN FARM begin vandag. Moenie weer sê: “ek het toe nie daarby uitgekom nie”. MAAK tyd om ‘n plaaslike fliek van gehalte te ondersteun. Sepies kan jy altyd weer kyk nadat jy dit opgeneem het. THE STORY OF AN AFRICAN FARM laat my aan Katinka Heyns se flieks dink. ‘n Beheersde aardse atmosfeer, goeie spel, ‘n goed-gekonstrueerde draaiboek en ‘n boeiende storie. Ek het 100 leerlinge Maandag in Potchefstroom oor AFRICAN FARM toegespreek en hulle het dit luidkeels applous gegee en net lof gehad. Ja, daar is dinge wat pla, maar as ek dit sou uitlig, hoor mense weer net die negatiewe, en ek wil nie hê julle moet dit as verskoning gebruik om nie te gaan nie. Bewys die doemprofete verkeerd en ondersteun THE STORY OF AN AFRICAN FARM wat 7 uit 10 kry. Dis die enigste manier om te sorg dat daar weer sulke prente gemaak word, deur dit te ondersteun.