THE TERMINAL

Hoeveel keer het jy al op ‘n lughawe gesit en die tyd omgewens? Jy lees al wat koerant is en bekyk die mense tot vervelens toe! Steven Spielberg se TERMINAL met Tom Hanks en Catherine Zeta-Jones gaan oor ‘n Oos-Europeër wat op New Yorkse JFK-lughawe vasgekeer word en vir 9 maande staatloos daar bly. Hoe hy homself besig hou, maak van THE TERMINAL ‘n snaakse, hartseer en aangrypende menslike drama. Kyk, daar’s min mense wat ‘n storie oor ‘n doodgewone man in buiten-gewone omstandighede soos Spielberg kan vertel. Jy’s nie vir ‘n oomblik verveeld nie, en die uiteenlopende mense wat Hanks ontmoet, sorg vir ‘n uitsonderlike vermaaklike fliek-bederf. Jy sal nooit weer na wagtende passasiers deur dieselfde oë kyk nie. As jy iets besonders soek, kies THE TERMINAL vanaand. Dit kry 8 uit 10 – die verrassing van die maand.