THE VILLAGE

Jammer om te sê, maar THE VILLAGE was… nee wag, laat ek nie daai resensenteterm gebruik nie… Cobus sal my weer aanvat as ek in clichés praat. Of nee wag, laat ek dit sê: THE VILLAGE was die mees teleur-stellende fliek van die jaar. Daar’s hy, die cliché is uit. Dis gemaak deur M Night Shyamalan. En as jy ‘n prys wil wen moet jy mooi luister na wat ek nou sê, want die vraag kom hieruit. M NIGHT SHYAMALAN het THE SIXTH SENSE gemaak. Ook SIGNS en UNBREAKABLE. Maar as jy THE 6th SENSE verwag, vergeet dit. THE VILLAGE is ‘n geforseerde, flou nabootsing daarvan. Dit gaan oor ‘n groep mense wat soos die AMISH in ‘n dorpie in Amerika bly sonder kontak met die buitewêreld. Hulle sit hul voete nie uit die dorp nie… en hulle is veral bang vir die bos wat die dorpie omring, want ‘n grusame monster gaan hulle opvreet. Dan word een van die inwoners, gespeel deur JOAQUIN PHOENIX, siek en om sy lewe te red moet mediese hulp uit die buitewêreld ingeroep word. ‘n Blinde meisie vaar dan die bos in… Hoekom is dit so teleurstellend? Onthou julle hoe bang en verras was ons in THE 6TH SENSE. Wel, THE VILLAGE het ook so ‘n kinkel in die kabel, maar mens sien die geheim ten minste ‘n uur voor die tyd. Die karakters is stokkerig en onnatuurlik, die storie vloei nie, maar bowenal, dis HOEGENAAMD nie skrikwekkend nie. As jy wil skrik, huur liewer The 6TH SENSE weer of kyk na SUSPECT ZERO. THE VILLAGE is ‘n pap, trae fliek wat 4 uit 10 kry.