THE WHITE TIGER

THE WHITE TIGER

Dis onmoontlik om te weet waaroor hierdie fliek met die doodgewone titel gaan sonder om dit ordentlik te bekyk en waardeer. THE WHITE TIGER het onlangs ‘n Oscar-benoeming gekry vir beste aangepaste draaiboek, dus is daar gewig aan die rolprent. Dit gaan oor ‘n jong lat wat ten alle koste iets in die lewe in Indië wil bereik, maar alles, insluitende die noodlot en sy eie vermetelheid, tel teen hom.

Hy word misbruik as ‘n motorbestuurder en sukkel om ‘n vastrapplekkie in die gladde skuimbesmette lewe te kry en ‘n bestaan te voer. Al wat hy voorlopig moet doen, is om chauffeur te speel. Maar daardie skerp ogies, wat lyk of hulle soos ‘n insek s’n op stokkies staan wat ‘n vlieg raakgesien het, en sy brandende energie wat vonkies afskiet, maak van Balram ‘n unieke, voortgedrewe  karakter wat nog sy merk gaan maak – die soort waarvoor mens staande applous wil gee, tot hy ook aan die verkeerde kant van die wet beland. Ongelukkig, maar hoe anders moet die ou oorleef?

Dit is ‘n besondere en insiggewende rolprent, en dit neem mens ongeveer 15 minute om in die rolprent te kom en te volg presies waaroor dit gaan. Daar steek dus meer in THE WHITE TIGER met sy slim storie vol verrassings as wat jy verwag. Probeer om na die opwindende en eksplosiewe THE WHITE TIGER te kyk. Dis beslis nie wat jy verwag nie.