Top Gun: Maverick

Top Gun: Maverick

Hy’s hier! Die spiertier met die breë glimlag, die charismatiese oë, die weglêkuif wat regop gejel is ,en die koel houding… Tom Cruise met TOP GUN: MAVERICK!

Ongelooflik soos dit mag klink, TOP GUN: MAVERICK is een van vanjaar se flambojant-vermaaklike rolprente. Om dit te sê, moet mens dit kan staaf. Eerstens delf die rolprent dieper as bloot Tom Cruise se kuiltjies en spiere. Hy speel sy Maverick-karakter met diepte, oorgawe, gevoel, nuanse en egte menswees.

In dié vervolg op die 1986-rolprent moet hy ‘n groep brawe jong manne en meisies oplei om ‘n uraan-verrykingsnetwerk op te blaas wat die vyand teen Amerika wil gebruik. Wat die fliek buitengewoon maak, is omdat daar dié slag, tussen al die sweterige lywe, fraai gesiggies, vegvliegtuie en kwaai instrukteurs regte mense met gevoelens is en verskeie lae van emosie. Hulle dryf die rolprent en raak nooit deur die Cruise-persona verdwerg nie.

Verder is die gevegsekwensies uniek. Al die lugtoertjies is werklik gedoen en die kameras was regtig in vliegtuie wat deur die lug tuimel en lewensgevaarlike maneuvers uitvoer. Dis asemrowend goed gedoen. Jy moet dit sien om te glo. Al sal jy nie in sak en as by ‘n Tom Cruise-fliek gesien word nie, TOM GUN: MAVERICK is onwerklik vermaaklik en briljant geregisseer. Dit word sterk aanbeveel, maar sien dit in ‘n rolprentteater of IMAX. Jy sal ure neem om jou asem terug te kry.