Tracking Thabo Bester (Reeks)

Tracking Thabo Bester (Reeks)

Is daar iemand wat nie weet wie Thabo Bester is nie? Sy verwaande skelmstreke het opnuut in die kollig beland toe hy en sy minnares, Nandipha Magudumana, probeer het om Showmax te verbied om TRACKING THABO BESTER te wys. Selfs my resensie moes wag vir die hofuitspraak wat in Showmax se guns beklink is.

Dis ‘n manjifieke dokkie wat soos ‘n blinkvinnige sportmotor op twee wiele om dokumentêre draaie vlieg. Met ‘n ritme wat bedwelmend vinnig is sonder om perspektief te verloor, redigering wat woeps-waps van invalshoek na wegsnyskote na plek verwissel, en raakvat kommentaar deur ondersoekende joernaliste, word die storie meedoënloos en in verbystering oopgevlek. Onder andere hoe Bester uit die tronk ontsnap het, en hoe die owerhede voete gesleep het in die “ondersoek” na sy kamtige destydse “dood.” ‘n Mens staan verbysterd.

Korrupsie het tweede natuur in ons land geword. Omkopery en skelmstreke seëvier daagliks, terwyl die slaggate net dieper en dieper word op die paaie. Dít is deel van TRACKING THABO BESTER se stelling. Dis ‘n briljante dokkie wat jou in verbystering sal laat staar na wat daagliks in ons land gebeur. Kyk dit ten alle koste. Daar is sekere dinge waarvan ‘n mens tog maar moet weet.