TRANSAMERICA

Hoewel dit ‘n briljante rolprent is oor die soeke na identiteit, familie, geluk en liefde, is TRANSAMERICA op ‘n baie beperkte smaak gerig van fliekgangers wat liberaal dink. Baie mense mag aanstoot neem oor die tema, dus luister mooi of dit jou sort fliek is of nie, maak nie saak hoe ons resensente daaroor tekere gaan nie.

FELICITY HUFFMAN, absoluut onvergelyklik in die hoofrol, speel die rol van ‘n man, in die geval ‘n fopdosser, wat ‘n operasie wil ondergaan om ‘n vrou te word. Maar net voordat hy die eina-operasie ondergaan, ontdek hy dat hy ‘n seun het, Kevin Zegers, wat pas uit ‘n verbeteringskool vrygelaat is. Hy moet die seun gaan oplaai, vriende maak en huis toe bring. Die seun word dan deur die man opgelaai wat soos ‘n vrou aantrek en soos ‘n vrou klink. Kan jy jou voorstel wat gebeur as die tawwe straatlaitie agterkom dat die persoon wat hy gedink het ‘n vrou is, eintlik sy pa is en dat hy binnekort ‘n vrou gaan word.

Jou kop wil nie heeltemal hierdie feite verwerk nie? Dan is TRANS-AMERICA nie vir jou nie. Maar as jy ‘n avontuurlike flieker is wat graag Tabasco oor jou spingmielies gooi en appelasyn in jou koeldrank, sal TRANSAMERICA jou platslaan EN inspireer. Die fliek sê: maak nie saak hoe jy lyk nie, moet nooit ‘n persoon op syhaar baadjie takseer nie. Dis die HART en die MOTIEWE wat saakmaak. As jy jouself aan TRANS-AMERICA onderwerp, mag jy jubelend daar uitstap. Of ‘n kettie koop om die resensente op gevoelige plekke te skiet wat dit aanbeveel het sodat hulle self ‘n operasie moet ondergaan.