TRANSPORTER 2

Nie lus vir ‘n bangmaakfliek op ‘n vliegtuig of SHAR KBOY wat LAVA GIRL se lawa inspan om die skurke se tjank te smelt nie? Dan is die skiet-skop-en-doodbloei-fliek TRANSPORTER 2 vir jou. Onthou julle die oorspronklike TRANSPORTER met een van die blinkste nuwe helde in die hoofrol, JASON STATHAM. Hy het van motorjaagtogte kuns gemaak. TRANSPORTER 2 is nie so goed soos die eerste een nie, maar daar was jaagtogte wat my na my asem laat snak het. Ek het op ‘n kol amper uit my stoel opgestaan. Die jaagtogte is nie op dieselfde standaard as THE BOURNE SUPREMACY of RONIN nie, maar dis steeds asemrowend. En Statham het ‘n macho sjarme waarvan almal ewe veel hou, mans en vroue. Mans sal nie bedreig voel deur hom nie en vroue sal dink: ai. Ek wonder hoe sal dit voel om saam met hom oor ver paaie te jaag en die rathefboom te help verwissel.

TRANSPORTER 2 het min storie maar ernstige jaagtogte. Dis kleurvol, eksplosief, uitbundig en baie, baie koel. Dis net vir ouens wat graag videospeletjies speel of opgewonde raak as ‘n motor teen topsnelheid hul gejelde hare deurmekaarkrap. Die res sal dink dis snert.