UNDERWORLD

UNDERWORLD EVOLUTION is die groot fliek van die week. Soos V for VENDETTA is dit suiwer op wetenskapfiksieverslaafdes gerig. Hierin sit die sexy vampiere hulle oorlog voort teen die aantreklike weerwolwe. Julle dink seker ek moet my kop laat lees as ek na die spesie verwys as sexy. Maar Kate Beckinsale verteenwoordig die vampiere, dus kan haar slagtande nie anders as sexy wees nie, terwyl Scott Speedman die weerwolwe verteenwoordig. Wanneer die twee bymekaarkom, spat die tande en trek die hare op meer as een manier.

UNDERWORLD EVOLUTION is ‘n koel movie, net reg vir tieners wat van peper oor hul springmielies hou en suur in hul are. Die herskepping van die kamma-wêreld is kundig en oortuigend, en daar gebeur oorgenoeg om jou gedagtes weg van die werk te hou. Maar kyk ‘n mens dieper, het UNDERWORLD EVOLUTION ook ‘n politieke kleurtjie in vandag se patriotiese Amerika.