V FOR VENDETTA

V FOR VENDETTA kom uit dieselfde stal as THE MATRIX. Die WACHOWSKI-broers het dit VERVAARDIG alhoewel James McTiegue dit geregisseer het… verwag dus THE MATRIX met ‘n kaalgeskeerde Natalie Portman in die Neo-rol. Hier verskyn ‘n reïnkarnasie van Guy Fawkes in ‘n toekomstige Londen. Hy wil die Parlement opblaas, nes sy voorganger. En hy wil ‘n einde maak aan John Hurt se korrupte regering. Vir almal wat wetenskapfiksie saam met hulle Post Toasties verorber, is V FOR VENDETTA die suikerkorrels oor jou ontbytvlokkies.

Maar pa en ma, ek glo nie julle moet dit aan julleself doen nie, tensy julle, in jul harte, geheime wetenskapfiksie-verslaafdes is. Dis koel met verbysterende spesiale effekte en verruklike visuele orgies. Laat ek sien of ek nog byvoeglike naamwoorde oor het… nee, gelukkig is die sak leeg. Genoeg om te weet jy sal popel oor Natalie Portman wat nog nooit so sexy was nie, en bokspring gedurende die slottonele.