Warrior (Reeks / Showmax)

Warrior (Reeks / Showmax)

Wat WARRIOR nuuswaardig maak, is dat Bruce Lee se dogter destyds afgekom het op geskrifte oor hierdie reeks in haar pa se lessenaar. Meer as vier dekades ná sy dood het die reeks, nou in sy derde gedaante, vorm gekry. Dis nogal uitdagend om te volg. Dit handel oor ‘n Sjinese man, uitstekend gespeel en geveg deur Andrew Koji, wat betrokke raak in die gevegte tussen Sjinese en Amerikaners in die Tong-oorloë in San Francisco in die 1880’s.

Die man se soektog na sy suster word bloedig en met oordrewe aandag aan realisme uitgebeeld. Die eerste episode bestaan feitlik uitsluitlik uit woeste gevegte, waarna dit aansienlik kalmeer en op meer persoonlike stories fokus, voor die geweld weer uitbreek. Dis vir mense wat van John Wick en die Fast & Furious-rolprente hou, en wat bokspring wanneer ‘n neus skeefgeslaan word. Let ook daarop dat WARRIOR uiters gewelddadig is.