Welcome to Chippendales (Reeks / Disney+)

Welcome to Chippendales (Reeks / Disney+)

Ja, ek weet jy dink: ‘n reeks oor die Chippendales. Hoekom sal ek na ‘n klomp bulle wil staar wat heeltyd spiere bult en klere uittrek? Dis maar ‘n klein gedeelte van waaroor WELCOME TO CHIPPENDALES handel. In hierdie reeks, wat op die waarheid gegrond is, kyk ‘n baie siniese skrywer hoe dié berugte groep gestig is, en na die verbysterende dramatiese gebeure agter die skerms.

Moenie gaan Google wat gebeur het nie – dit verklap te veel want die vonke het in al vier windrigtings gespat. Dit verras met elke episode. Dis een van die min reekse waar jy aan die einde van ‘n episode voel: Ag nee, ek wil verder kyk.

‘n Indiër het, nadat baie van sy vorige sakeryke ineengestort het, op ‘n vreemde manier op die idee gekom dat vroue ook na mans wil kyk wat ontklee. Met die hulp van ‘n choreograaf verander hy hierdie idee in ‘n klinkklare sukses, maar nie sonder omstredenheid nie.

Hoe minder jy verder weet, hoe beter. Kyk watter verstommende gebeure het hulle agter die skerms afgespeel. Feitlik alles is 100% waar.