WINTER PASSING

WINTER PASSING is op kunsfoendies gerig. Dit beteken nie dis pretensieus met byskrifte nie, maar dit sal nie in ‘n populêre smaak val nie. ‘n Tawwe meisie met straatwys maniere, Zooey Deschanel, is vervreemd van haar hippie-pa, Ed Harris. Sy word ‘n allemintige klomp geld aangebied om haar ouers se liefdesbriewe aan ‘n uitgewer te verkoop. Voordat sy dit doen, gaan sy terug na haar wortels om haar pa opnuut te leer ken. WINTER PASSING is ‘n regte laatmiddag-herfsfliek. Net reg vir wanneer jou man voor die kassie vasgekluister sit om sport te kyk en jy en jou vriendinne keelvol is vir dowwe kommentaar uit die sitkamer. Dan gryp jy ‘n vriendin en geniet die gesofistikeerde vermaak wat WINTER PASSING bied. Dit gaan oor eksentrieke verlore siele wat mekaar weer vind net voor dit te laat is. Dit is stil, onderspeel en beweeg tydsaam sodat verhoudings en temas deeglik ontgin kan word. WINTER PASSING is veral vir vroue.