XXX 2: THE NEXT LEVEL

As Vin Diesel die slag ‘n rol weier moet jy weet… daar’s groot fout. Dié lummel het mos gesê: “’n Vervolg op XXX? Dankie, pel, maar nee dankie!” En wat is XXX sonder die man met die tier in sy diesel-tenk?

Toe gaan die vervaardigers heen en hark ICE CUBE nader… hy speel nou die hoofrol in XXX2: THE NEXT LEVEL. Ag wat, julle kan dit net sowel los. Want dit het nie ‘n AKS van die sjarme van die oorspronklike fliek nie. Dié slag soek die koelste ou in flieks, SAMUEL L. JACKSON, weer na ‘n spesiale agent vir ‘n gevaarlike avontuur. Die probleem? Die Amerikaanse president se hoof-raadgewer wil eintlik sy werk hê, en hy sal nie huiwer om die president dood te maak nie. ICE CUBE moet help.

Soos jy kan dink, is daar supersoniese jaagtogte en aksie wat die teater laat bewe. Maar waar o waar is die sjarme? Waar is Vin se grondboontjiebotter-stem? Buitendien, Ice Cube se spiere is nie NAASTENBY so opgeblaas nie en… jammer, maar hy’t nie die charisma nie en testosteroon is vir hom die naam van ‘n rapliedjie.

XXX 2 is spesiaal uitgedink om die massas tevrede te stel. Daarom, as aksie jou opgewonde maak, as jaagtogte deel van jou dieet is, of jy’s ‘n student of ‘n tienerlaaitie wat elke week jou aksie-fix nodig het: gaan kyk dàn na XXX 2: THE NEXT LEVEL. Dis soos ‘n goed-geoliede masjien waarvan elke ratjie presies werk. Die adrenalien pomp woes deur die fliek en die testoste-roon sidder om elke hoek en draai. XXX 2: net reg as jy dol is oor skiet-skop-en-doodbloei, maar vermy as jy aksie met meer as een breinsel soek.