Magiese mikrofoon – Episode 1

In die  eerste aflewering van Magiese Mikrofoon, waarin 85 jaar van uitsaai op radio gedenk word, val die klem op kinder- en jeugprogramme. Wie onthou nog die pittighede van die jong luisteraars wat baie fluks in Wiegwoorde vrae beantwoord en dikwels lustig saam gesing het. Susan Voormolen het talle plekke in die land besoek waar sy met die jongklomp gesels het, soos n groepie kinders langs die Weskus. Siembamba was deur die jare ‘n huishoudelike naam in uitsaai. Talle stories is vertel en dikwels het karaktertjies soos Otterjasie en Doepels ook ingeloer. Tannie Maud Baie was baie gewild onder die jonger luisteraars in Proteaklub. Vir die ouer kinders het Jongspanateljee vir gróót vermaak gesorg. Daar het talle kinders kom vertel oor hulle doen en late en ook soms ‘n liedjie of twee gesing. Tienerateljee was hoofsaaklik vir hoërskoolleerlinge bedoel. Verskillende gaste het kom gesels oor ‘n magdom onderwerpe soos loopbane, gebeure van die dag en dikwels het hierdie jongmense ook kans gekry om te wys wat in hulle steek deur heerlik musiek te maak of om allerlei vrae vir gaste te vra. Verna Vels se Liewe Heksie was seker een van die gewildste reekse op radio, en later ook op televisie. Verna het self die tekste geskryf en die verskillende rolle in die produsies gespeel. Jakkals en Wolf stories is ook deel van ons luistererfenis. Nie net is die verhale op radio voorgelees nie, maar ook dikwels gedramatiseer.