Magiese mikrofoon – Episode 2

In die tweede aflewering van die reeks programme waarin 85 jaar van uitsaai in Afrikaans op radio gedenk word, val die klem op joernaalprogramme. Uittreksels uit programme soos HOSPIAALTYD en SO MAAK MENS, wat eers op Springbok Radio uitgesaai is, maar later na die Afrikaanse Diens van die SAUK oorgeskuif het. Geliefde stemme was dié van Dulcie van den Bergh, Esme Euverard en Jan Cronjé. In die dae van apartheid was daar maar min geleenthede vir Bruin Afrikaanssprekende aanbieders. Die eerste program wat op die Bruin luisteraars gefokus het, was PROTEAKLUB, waarin raad vir die dames gegee is, asook vertellings deur lede uit verskillende gemeenskappe, soos die vissers van Kalkbaai. VROUERUBRIEK het destyds slegs as ‘n rubriek op radio begin. Audrey Bilgnaut was aan die stuur van sake. Die kort insetsel het later gegroei tot ‘n volwaardige weeklikse program, en nog later ‘n daaglikse program. Aanbieders soos Monica Breedt en Verna Vels het hulle merk hier gemaak. Die kunste het al van vroeg af aandag op radio geniet. IN DIE VOORPORTAAL was een van die eerste programme wat die uitvoerende en beelde kunste belig het. Verskeie aanbieders het deur die jare die program aangebied, met medewerkers oral in die land. Storievertel en die oordra van staaltjies deur luisteraars en bekende persoonlikhede was ook baie gewild. Een van die programme waar dié soort uitsaaimateriaal voorgekom het, was OM DIE KAMPVUUR. In hierdie aflewering verteloOudregter Tienie Steyn ‘n lekker spookstorie!