Magiese mikrofoon – Episode 3

In die derde aflewering val die klem op hoorbeelde, dokumentêre programme en profiele. Uit die magdom van materiaal in dié genre wat in die klankargief van die SAUK beskikbaar is, kan jy luister na ‘n klankskets van die gebeure toe die magtige Titanic destyds gesink het. Anton Smith neem ons op ‘n verbeeldingsvaart met sy vertelling, asook enkele gedramatiseerde dele en gepaste musiek wat die tragiese gebeure vasvat. Twee soorte randfigure se lewe word ook uitgebeeld: dié van ‘n prostituut en die web waarin sy vasgevang is, en die Downsindroomkind, wat met sy gestremdheid tog liefde uitstraal. Die hoorbeeld, MY NAAM IS ELLA is destyds deur Dean van Zyl saamgestel en DIE HEMELKINDERS het vir luisteraars ‘n heel ander sy van Fanus Rautenbach gewys. Margot Luyt het destyds ‘n profiel gedoen oor Athol Fugard, ons grootste dramaturg van die 20e eeu. Fugard gesels oor sy iefde vir die teater – hy was dramaturg, speler en regisseur asook sy uitbeeldings van die lewe vanuit ‘n eg Suid-Afrikaanse perspektief. Kunstenaars soos John Kani, Sandra Prinsloo en Ross Devenish gee hul indrukke. Anton Rupert het min onderhoude tydens sy lewe toegestaan, maar Mariska Spoormaker het die voorreg gehad om met hierdie groot denker en sakeman te gesels oor medebestaan, en bewaring.Die laaste uittreksel is Freek Robinson se dokumentêre program oor Nelson Mandela en sy liefde vir en verhouding met Afrikaans. Mandela lewer ‘n toespraak in Afrikaans, en talle persone wat met hom te doen gehad het, getuig van die spesiale verhouding wat hy met Afrikaans gehad het.