RESEPTE
Surita se geurige varkfilet in ʼn mosterd-roomsous
Bestanddele
varkfilet van ongeveer 500 g
1 pakkie gesnipperde spek
10 ml (2 teelepels )heel vinkelsaad
10 ml (2 teelepels) koljanderpoeier
sout en swartpeper
2 eetlepels koekmeel
2 eetlepels olie
1 eetlepel botter of margarien
6 - 8 baba-uitjies
150 g fyn groen boontjies, oorlangs in repe gesny en gestoom
2 eetlepels korrelmosterd
250 ml (1 koppie) room
3 eetlepels water
Metode
Meng die koljander, vinkelsaad, en meel in ʼn vlak bak.
Geur filet goed met sout en peper, en rol in meelmengsel sodat dit oraloor bedek is.
Verhit die botter en olie in ʼn groot pan op medium hitte.
Braai die filet stadig sodat dit egalig verbruin, en maak seker jy braai dit aan albei kante tot dit ‘n mooi bruin kleur en kors het. Braai dit vir ongeveer 7 minute aan beide kante.
Haal die filet uit die pan en laat dit op ʼn houtbord rus.
Braai die spek in dieselfde pan.
Voeg die uitjies by en braai totdat dit karameliseer en sag word.
Sny jy die filet in eweredige medaljons, en plaas dit terug in pan by die uitjies en spek.
Roer alles deur tot gemeng.
Voeg 2 eetlepels korrelmosterd by en meng deur.
Voeg die room en water by en laat die gereg saggies prut vir ongeveer 5 minute met die deksel op.
Geur met nog sout en peper indien nodig.
Roer die gestoomde groenboontjies deur die gereg en rond af met tiemieblaartjies of fyngekapte roosmaryn.
Bedien met kapokaartappel of rys.
Wenk
Sprinkel die baba-uitjies met suiker. Dit sal sorg vir ʼn mooi bruin kleur.