Skip to content

Méér wenners, méér prysgeld – RSG & ATKV se 30ste radiodrama-skryfkompetisie

Kompetisie

Méér wenners, méér prysgeld – RSG & ATKV se 30ste radiodrama-skryfkompetisie

RSG en die ATKV vier vanjaar met trots die dertigste radiodramaskryfkompetisie. En om hierdie mylpaal te gedenk, gaan daar in die 2026-kompetisie meer prysgeld én wenners wees.

Die kompetisie is een van die oudste en mees langslewende skryfkompetisies, asook die enigste wat steeds radiodrama in Afrikaans bevorder.

Van die land se bekendste skrywers, soos Chris Barnard, was al voorheen wenners, terwyl dit deur die jare ‘n nuwe geslag en jonger skrywers bekend gestel het.

Van die wendramas is al as gewilde verhoogdramas en selfs rolprente verwerk. Die akteur Marcel van Heerden se wen-radiodrama, Vryslag, was byvoorbeeld later ‘n veelbekroonde kortprent.

Vanjaar is die totale prysgeld R135 000 en pleks van een merieteprys sal daar ter viering van die dertigste verjaardag nou ‘n totaal van drie merietepryse wees.

Die wendrama ontvang R50 000, die tweede prys is R25 000 met die wenner in die derde plek wat R15 000 sal ontvang. Daar is ook R15 000 vir die Jong Skrywer (jonger as dertig jaar). En om die kroon te span, sal drie deelnemers ‘n merieteprys ter waarde van R10 000 elk ontvang.

Die groot eer vir elke jaarlikse wenner is dat sy of haar radiodrama opgeneem en dan ook op RSG uitgesaai word.

Danksy die ATKV-vennootskap kry tientalle voornemende skrywers en deelnemers ook die kans om ‘n gratis dag lange slypskool in Kaapstad of Johannesburg te kan bywoon.

Kobus Burger, RSG se programbestuurder, sal die slypskool op Saterdag 28 Februarie in Johannesburg aanbied en dan is daar op Saterdag 14 Maart ‘n slypskool by die SAUK-ateljees in Seepunt, Kaapstad.

Die sessies sluit ook ‘n besoek aan die radiodrama-ateljee in waartydens ‘n kort radiodrama opgevoer en opgeneem sal word.

Hier sal deelnemers regisseurs soos Leon van Nierop en gedugte radio-akteurs in aksie kan sien. Slegs beperkte plek is beskikbaar en kan deur RSG se webblad bespreek word.

Inskrywings vir die kompetisie sluit op Dinsdag 30 Junie om 13:00. Na die eerste ronde van beoordeling sal ‘n groep finaliste die kans gebied word om hul tekste met die hulp van ‘n mentor en skrywer of regisseur te slyp, voordat die eindronde van beoordeling plaasvind.

Die wenners sal op Maandag 30 November op ‘n luisterryke wyse tydens Spitstyd op RSG bekend gemaak word.

“Radiodrama gee aan enigiemand se verbeelding vrye teuels,” sê Kobus Burger, RSG se programbestuurder.

“Klank bied eindelose moontlikhede en daarom is dit ook verblydend om te sien hoe al hoe meer jonger skrywers die medium van radiodrama omarm. Ons sien uit na die nuwe stories wat die kompetisie se dertigste feesjaar gaan oplewer.”

“Dit is vir die ATKV ’n reuse voorreg om betrokke te kan wees by die RSG-Radiodramaskryfkompetisie. Ná drie luisterryke dekades dra hierdie projek steeds noemenswaardig tot die Afrikaanse storieskatkis by,” sê Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW.

“Die radiodramaslypskole wat die sluitingsdatum voorafgaan is ’n besondere geleentheid vir elke deelnemer om in hulself te belê, en die kreatiewe landskap van Afrikaans word onmeetbaar verruim deur die bemagtiging wat hierdie opleiding bied.”

Skakels na die inskrywingsvorms, handleidings en registrasie vir die slypskole:

20/ 01 / 2026
-
30 / 06 / 2026

Voriges

Sluitingsdatum:
27/02/2026

Jy kan jou deel van R100 000 en LIV Gholftoernooi-kaartjies wen.

#Gesluit
Sluitingsdatum:
21/02/2026

Een paartjie kan ‘n wonderlike BBP-prys wen om Tollie Parton by Emperors se Theatre of Marcellus in Johannesburg te gaan sien op 22 Februarie 2026.

#Gesluit
Sluitingsdatum:
19/12/2025

RSG en Lefra Produksies gee ‘n wonderlike Kersgeskenk weg! Een gelukkige luisteraar kan ‘n binnekajuit vir twee aanboord die MSC Opera en die Oppiwater Kunstefees wen.

#Gesluit
Sluitingsdatum:
12/12/2025

Een luisteraar kan ’n wonderlike BBP-ervaring wen!