Skip to content

Skrywers en Boeke

Potgooi

Skrywers en Boeke

n Program oor skrywers en digters en die boeke wat hulle skryf.

Skrywers en boeke: Jean Cooper (WAAR DIE TEERPAD OPHOU); Nederlandse digter Mustafa Stitou

Skrywers en boeke: Jean Cooper (WAAR DIE TEERPAD OPHOU); Nederlandse digter Mustafa Stitou

Kategorie: Skrywers en Boeke2026-10-14

14 Oktober 2026: Ilse Salzwedel gesels met Jean Cooper oor sy boek, WAAR DIE TEERPAD OPHOU, waarin hy skryf oor sy 80 dae per motorfiets deur Afrika. Dr. Marni Bonthuys van die UWK gesels met die besoekende Nederlandse digter, Mustafa Stitou. Johan Myburg het ook vier insetsels oor die internasionale boekewereld. Hy gesels onder andere oor nog ‘n letterkundeprys wat teruggehou word weens bewerings oor die gebruik van kunsmatige intelligensie. Hy bring ook hulde aan die Skotse misdaadskrywer, Peter May, en stel ons voor aan Anne Carson, vanjaar se wenner van die Nobeprys vir letterkunde. Jy kan ook meer hoor oor die Park Kyung-ni-literatuurprys, wat toegeken is aan die Suid-Afrikaanse skrywer en Bookerpryswenner, Damon Galgut.

Skrywers en boeke: Bekroningsplegtigheid van SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

Skrywers en boeke: Bekroningsplegtigheid van SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

Kategorie: Skrywers en Boeke2026-10-07

7 Oktober 2026: Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon jaarliks uitsonderlike werk in die Afrikaanse letterkunde. Ons neem jou saam na vanjaar se bekroningsaand. Die digters Lynthia Julius (KINDERLê) en Alwyn Roux (WEERSKYN) is vanjaar die gesamentlike wenners van die Eugene Maraisprys vir poësie. Naomi Morgan is vereer met die Akademieprys vir Vertaalde Werk vir haar vertaling van ONS WAG VIR GODOT. Jy kan ook hoor wat Bun Booyens (ontvanger van die L.W. Hiemstraprys vir sy nie-fiksieboek, TROEP) tydens sy aanvaardingstoespraak gesê het oor Hiemstra se nalatenskap. Tom Dreyer, wenner van vanjaar se Hertzogprys vir sy debuutbundel, NOU IN INFRAROOI, vertel van ‘n aand uit sy kleintyd wat die eerste gedig in sy wenbundel geïnspireer het.

Skrywers en boeke: Joan Hambidge se 70e verjaarsdagviering by Tuin van Digters

Skrywers en boeke: Joan Hambidge se 70e verjaarsdagviering by Tuin van Digters

Kategorie: Skrywers en Boeke2026-09-30

30 September 2026: Die digter en akademikus Joan Hambidge se 70e verjaarsdag is tydens die onlangse Tuin van Digters by die Breytenbachsentrum op Wellington gevier. Ons luister na ‘n geredigeerde weergawe van hierdie huldigingsgeleentheid. Dis saamgestel deur prof. Karen de Wet van die Universiteit van Johannesburg, en Nina Swart het Hambidge se gedigte voorgelees. In sy drie bydraes uit die internasionale boekewêreld het Johan Myburg nuus oor die Booker-kortlys wat pas aangekondig is. Hy vertel ook meer oor die werk van die digter Mary Oliver. En het jy geweet dat belangstelling in die Nobelprys – wat binnekort aangekondig word – aangehits word deur die spekulasie van beroepswedders? Johan vertel hoe verskeie skrywers se kanse volgens wedders vergelyk.

Skrywers en boeke: Loftus Marais oor Karel Schoeman-biografie DAARDIE LEWE

Skrywers en boeke: Loftus Marais oor Karel Schoeman-biografie DAARDIE LEWE

Kategorie: Skrywers en Boeke2026-09-23

23 September 2026: Loftus Marais gesels oor Karel Schoeman se biografie, DAARDIE LEWE. Vind meer uit oor die boeke wat vanjaar bekroon is met ATKV Woordveertjies. Johan Myburg bring hulde aan die skrywers Bonnie Greer en Annie Dillard, wat onlangs oorlede is, en vertel meer oor die langlys vir die VSA se National Book Awards-vertaalprys. Ons maak ‘n draai by die Tuin van Digters, en jy kan luister na ‘n toespraak wat Johan Myburg daar gehou het met die tema, Hoekom vertel ons stories? Johan gesels ook met Joan Hambidge, wie se 70e verjaarsdag tydens die geleentheid gevier is.

Skrywers en boeke: Henda Olivier (DONKERHART); Erla Diedericks (JAGSPINNEKOP)

Skrywers en boeke: Henda Olivier (DONKERHART); Erla Diedericks (JAGSPINNEKOP)

Kategorie: Skrywers en Boeke2026-09-16

16 September 2026: Aanhangers van die Gruffalo (Goorgomgaai in Afrikaans) sal bly wees om te hoor daar is ‘n splinternuwe boek in dié reeks, GRUFFALO GRANNY. Ilse Salzwedel gesels met Henda Olivier oor haar spannende roman, DONKERHART. Erla Diedericks vertel meer oor JAGSPINNEKOP, haar jongste roman. In Johan Myburg se bydraes oor verwikkelinge in die internasionale boekewêreld gesels hy oor THE WEIGHT OF ANGELS deur John Boyne, ‘n nuwe Engelse vertaling van Homeros se ODUSSEIA, en ‘n rits nuwe nie-fiksie boeke, insluitend THE TSAR IN PROPRIA PERSONA: HOW VLADIMIR PUTIN DECEIVED US ALL (Roman Badanin en Mikhail Rubin). Jy kan ook meer uitvind oor die dertien boeke op die Baillie Gifford-langlys, wat titels insluit soos JAMES BALDWIN: A LOVE STORY (Nicholas Boggs), THE GREAT DICTATOR (Matthew Sweet) en THE TRAVELLER (Andrea Wulf).

Skrywers en boeke: UJ-Pryse vir Afrikaans en Literêre Vertaling

Skrywers en boeke: UJ-Pryse vir Afrikaans en Literêre Vertaling

Kategorie: Skrywers en Boeke2026-09-09

8 September 2026: Die Universiteit van Johannesburg se pryse vir Afrikaans en die vertaalprys is op 4 September aan die wenners oorhandig. Luister na ‘n geredigeerde weergawe van dié geleentheid om te hoor wat die keurpaneel te sê gehad het oor Antjie Krog se BINNERYM VAN BLOED, Shane van der Hoven (debuutpryswenner) se KRUIPER/CRAWLER, en Wium van Zyl se vertaling van DIE ONGELUKKIGE EN TREURIGE VERHAAL VAN DIE SKIP DIE GOUDEN BUYS 1963. Jy kan ook luister na die skrywers se aanvaardingstoesprake. In sy internasionale bydrae het Johan nuus oor die kortlyste vir vanjaar se Kirkuspryse, en hy bring hulde aan Péter Nádas, die Hongaarse skrywer, en Wendell Berry, die Amerikaanse digter en skrywer. Albei is onlangs oorlede.