RESEPTE
Die Rooi Koningin van Alice in Wonderland se konfyttertjies
Bestanddele
300 g koekmeel
140 g koue botter, in blokkies gesny
130 g suiker
1 teelepel bakpoeier
knippie sout
1 heel eier + 1 eiergeel
300 – 350 g konfyt of marmelade van jou keuse (appelkoos, aarbei of framboos – hoe rooier, hoe beter!)
Metode
1. Maak die deeg
Meng die koekmeel, suiker, bakpoeier en sout in ’n mengbak. Vryf die koue botter met jou vingerpunte by die meelmengsel in totdat dit soos growwe broodkrummels lyk.
2. Vorm die deeg
Voeg die heel eier en eiergeel by, en meng liggies totdat ’n gladde deeg vorm. Moenie die deeg te veel hanteer of knie nie, anders verloor die kors sy brosheid.
3. Laat die deeg rus
Draai die deeg in kleefplastiek toe, en plaas dit vir minstens 30 minute in die yskas.
4. Berei die tert voor
Verhit die oond tot 180°C. Smeer ’n tertpan van ongeveer 24 – 28 cm deeglik. Rol twee derdes van die deeg uit, en voer die bodem en kante van die tertpan daarmee uit.
5. Vul en versier
Smeer die konfyt egalig oor die deegbodem. Rol die oorblywende deeg uit, sny dit in dun repies en rangskik dit in ’n kruis-en-dwars-patroon bo-oor die konfyt.
6. Bak en laat afkoel
Bak vir 30 – 40 minute totdat die tert goudbruin is. Laat dit heeltemal afkoel voordat jy dit sny, sodat die konfyt behoorlik kan stol.