Skip to content

Soerayah se koesisters

RESEPTE

Soerayah se koesisters

Soerayah se koesisters

By: Shihaam Domingo
Soerayah se koesisters

Bestanddele

Vir die koesisters
4 koppies koekmeel
2 teelepels fyn droë gemmer
2 teelepels fyn kaneel
2 teelepels anys
1 teelepel fyn gedroogde nartjieskil
1 teelepel fyn groen kardemom
¼ teelepel fyn neutmuskaat
¼ teelepel sout
1 pakkie (10 g) kitsgis
2 ekstragroot eiers
2 opgehoopte eetlepels suiker
140 g botter
1½ koppies melk

Vir die suikerstroop
1½ koppies water
3 - 5 kaneelstokkies
3 - 5 groen kardemompeule, gekneus
2 koppies suiker
klapper om die koesisters in te rol

Metode

Vir die koesisters
Meng al die droë bestanddele, behalwe die suiker, saam in ’n groot mengbak.
Verhit die melk en botter saam totdat die botter heeltemal gesmelt is.
Klits die eiers en suiker saam.
Voeg ’n bietjie van die warm melk-en-bottermengsel by die eiers terwyl jy aanhoudend klits, sodat die eiers nie skielik gaar word nie.
Voeg alles bymekaar in ‘n groot mengbak.
Knie die deeg totdat alles goed gemeng is. Die deeg moet nat en effens klewerig wees, want dit is wat vir jou ’n lekker sagte koesister gee.
Bedek die deeg en draai die bak in ’n warm kombers toe. Laat dit ongeveer 1 uur staan totdat die deeg lekker gerys het.
Smeer ‘n werkoppervlak met ’n lagie olie.
Begin nou om die koesisters te vorm. Knyp ongeveer die helfte van die grootte van die koesister wat jy uiteindelik wil hê, af, want die deeg gaan weer op die toonbank rys.
Vorm elke stukkie eers in ’n balletjie, en trek dit dan liggies na die kante toe om die verlangde vorm te kry.
Wanneer al die koesisters gevorm is, verhit genoeg olie vir diepbraai oor medium hitte.
Diepbraai die koesisters tot hulle mooi gaar en goudbruin is. Haal uit en laat afkoel.
Wenk: Die afgekoelde koesisters kan gevries word indien jy nie almal op een slag wil gebruik nie.

Vir die suikerstroop
Bring die water tot kookpunt.
Voeg die kaneelstokkies en gekneusde kardemompeule by.
Laat dit kook totdat die vloeistof tot ongeveer 1 koppie verminder het. Die speserye se heerlike geur moet goed in die water ingetrek het.
Voeg die suiker by.
Laat die mengsel stadig prut totdat jy ’n lekker loperige stroop het. Die stroop moet nie te dik wees nie.
Plaas ’n paar koesisters op ’n slag in die pruttende stroop.
Gee hulle ’n lekker stroperige borrelbad vir 2 tot 5 minute, sodat dit die stroop mooi absorbeer.
Verwyder die koesisters uit die stroop, en plaas dit dadelik in ’n bak met uitgedroogde klapper. Bedek dit goed met die klapper.
Geniet die koesisters warm, saam met ’n lekker koppie koffie of tee.

Deel nou