RESEPTE
Surita se romerige hoender met ’n botterskorsie- en aartappelbolaag
Bestanddele
Vulsel
400 g hoenderfilette, in repe gesny
sout en vars gemaalde swartpeper, na smaak
3 vet knoffelhuisies, fyngekap
fyn gerasperde skil van 1 suurlemoen
2 eetlepels vars pietersielie, fyngekap
2 uie, opgesny
1 soetrissie, opgekap
1 eetlepel botter of margarien
1 eetlepel koekmeel
½ koppie melk, plus ’n bietjie ekstra indien nodig
Bolaag
4 aartappels, geskil
400 g botterskorsie
3 – 4 heel knoffelhuisies
3 takkies vars tiemie, of 5 ml droë tiemie
1 eetlepel botter of margarien
¼ koppie (60 ml) melk
sout en peper, na smaak
Metode
Die hoender
Verhit ’n bietjie olie in ’n groot pan, en braai die uie en soetrissie totdat dit sag en geurig is. Voeg die hoenderrepies by en braai oor lae hitte vir ongeveer 15 minute, of totdat die hoender gaar is.
Voeg die knoffel by, gevolg deur die koekmeel en botter.
Roer goed.
Voeg die melk geleidelik by terwyl jy roer. Laat dit saggies prut totdat ’n heerlike romerige sous vorm. Die sous moet lekker dik en romerig wees – nie loperig nie. Voeg ’n klein bietjie ekstra melk by indien nodig.
Geur met die vars pietersielie, suurlemoenskil, sout en peper.
Skep die romerige hoendermengsel in ’n gesmeerde oondbak en versprei dit eweredig.
Die bolaag
Plaas die aartappels, botterskorsie, heel knoffelhuisies en tiemie in ’n kastrol.
Bedek met water en kook totdat die groente sag genoeg is om fyn te druk.
Dreineer die groente en verwyder die tiemietakkies.
Plaas dit terug in die pot en maak seker daar is geen vloeistof in die pot nie.
Druk die aartappels en botterskorsie, tesame met die knoffel, fyn en geur met die botter/margarien.
Voeg die melk bietjie-vir-bietjie by. Die groente moet sag en fyn gedruk wees, maar nie pap nie - gebruik dus nie baie melk nie.
Skep die mengsel versigtig bo-op die hoender en smeer dit liggies gelyk. Vir ’n meer rustieke voorkoms kan jy die bokant met die agterkant van ’n lepel effens grof laat.
Bak in ’n voorverhitte oond teen 170 °C vir ongeveer 20 minute, of totdat die gereg deurwarm is en die bolaag liggies goudbruin begin verkleur.
Sprinkel tiemieblaartjies bo-op vir ekstra geur.
Bedien met geurige wit rys soos jasmyn of basmati, maar gewone rys sal net so lekker wees, asook enige ander gestoomde groente.
Wenke
Ek hou daarvan om die knoffel saam met die aartappels en botterskorsie te kook. Wanneer dit sag is, druk ek dit sommer saam met die groente fyn. Dit gee die bolaag daardie sagte, geroosterde knoffelgeur sonder dat dit oorweldigend is.
Vir ’n ekstra bietjie goue heerlikheid kan jy ’n handvol gerasperde kaas oor die bolaag strooi voordat dit oond toe gaan.