RESEPTE
Surita se ratatouille
Bestanddele
3 groot murgpampoentjies
3 lang soetrissies van verskillende kleure (Gebruik gewone medium grootte soetrissies indien hierdie nie beskikbaar is nie)
3 eiervrugte
3 knoffelhuisies, fyngemaak
sout en peper na smaak
Sous
400 g potjie tamatiepasta (Hierdie gebruik ek in die plek van ‘n sous wat ek normaalweg sou maak van tamaties/tamatiepasta, uie en geurmiddels)
knippie gemengde droë kruie, of enige ander kruie van jou keuse
sap van ‘n halwe suurlemoen
1 – 2 eetlepels bruinsuiker, of na smaak
2 eetlepels witwyn (opsioneel)
Metode
Sny die groente in skywe van eweredige grootte. Die skywe moenie te dun wees nie, want dit sal disintegreer terwyl dit bak.
Geur met sout, peper, knoffelpoeier en gemengde kruie, en meng deur.
Meng die sousbestanddele en verhit dit in ‘n klein kastrol tot dit net begin borrel.
Voeg geurmiddels by, en pas aan na gelang van smaak indien nodig.
Verwyder van stoof, en laat dit effens afkoel.
Skep die sous in ‘n oondbak.
Pak die groente bo-op die sous deur die skywe regop langs mekaar te pak, en wissel dit af volgens soort en kleur. Dit sal mooi vertoon.
Bedruip met ‘n bietjie olie, en bak in ʼn voorverhitte oond teen 170°C vir sowatt 45 minute tot die groente sag is.