RESEPTE
Surita se lemoen-en-papawersaadkoek
Bestanddele
Vir die koek
4 koppies (500 g) koekmeel
4 teelepels bakpoeier
6 groot eiers, geskei
300 g ongesoute botter of bakmargarien
300 g wit suiker
250 ml (1 koppie) melk
1 koppie vars lemoensap
3 eetlepels papawersaad
fyngerasperde skil van 2 lemoene
2 teelepels vanieljegeursel
Vir die roomkaasversiering
2 houers roomkaas
100 g botter, teen kamertemperatuur
3 koppies versiersuiker
2 teelepels vanieljegeursel
3 eetlepels lemoensap
gerasperde skil van 1 lemoen
Metode
Verhit die oond tot 170 °C.
Smeer twee 20 cm-koekpanne goed, en voer die bodems uit met bakpapier.
Klits die botter, suiker, lemoenskil en vanieljegeursel saam tot lig en romerig.
Voeg die eiergele een vir een by en klits goed ná elke byvoeging.
Voeg die lemoensap by en meng goed.
Sif die koekmeel en bakpoeier saam in ’n aparte bak en roer die papawersaad by.
Voeg die droë bestanddele by die bottermengsel, en meng liggies totdat dit net ingewerk is.
Roer die melk by die beslag.
Klits die eierwitte tot sagtepunt-stadium en vou dit versigtig by die beslag in.
Verdeel die beslag eweredig tussen die voorbereide panne (sowat twee derdes vol).
Bak vir ongeveer 45 minute tot gaar.
Laat die koeke vir 10 minute in die panne afkoel voordat dit op ’n draadrak uitgekeer word om heeltemal af te koel.
Roomkaasversiering
Klits die roomkaas en botter saam tot glad en romerig.
Voeg die versiersuiker geleidelik by en klits goed.
Voeg die vanieljegeursel, lemoensap en lemoenskil by en meng tot ’n gladde versiering.
Smeer die versiering tussen die twee koeklae en oor die bokant en kante van die koek indien so verkies.