RESEPTE
Surita se geurige gebakte hoenderrolletjies
Resep lewer ongeveer 12 rolletjies.
Bestanddele
Deeg:
3 koppies meel
1t sout (5ml)
1/3 koppie olie (olyf of canola olie)
1 koppie warm water (250ml)
Hoendervulsel:
2 – 3 hoender filette in repies gesny
Braai speserye van keuse
Sout en peper na smaak.
3 eetlepels olie om hoender in te braai.
1 groot ui, fyn gesny
1 rooi soetrissie in blokkies gesny
Sous:
Handvol gekapte pietersielie
Paar geskeurde basiliekruid blare
2 – 3 knoffelhuisies, fyngemaak.
Handvol baba tamaties, in 4 gesny; (heel tamatie kan ook gebruik word)
2 eetlepels botter/margarien.
Metode
Plaas meel en sout in ʼn mengbak. Voeg nou warm water en olie saam en bewerk tot ʼn sagte deeg. Bedek met kleefplastiek of deksel en hou eenkant terwyl jy die
hoendervulsel voorberei.
Sprinkel hoender met braai speserye, sout en peper. In ʼn warm pan, braai uie en soetrissie tot sag en voeg hoender repies by. Braai alles saam totdat die hoender gaar
is.
Rol die deeg uit op ʼn meelbestrooide oppervlak in ʼn vierkantige vorm. Die deeg moet nie dik uitgerol word nie. Verdeel in 2 stukke.
Plaas van die vulsel op elk stuk deeg en rol dit toe. Sny elke rol in kleiner rolletjies, druk effens plat en plaas op ʼn bakplaat. Bak die rolletjies by 170° C vir 20 minute. Verwyder uit oond en plaas op ʼn bord.
Sous:
In ʼn pan, braai die botter of margarien met knoffel in ʼn pan en voeg die tamaties by,
asook die pietersielie en basiliekruidblare. Braai vir sowat 5 minute.
Geut sous oor die rolletjies en bedien warm.