Die soet en suur van die huwelik in die kollig met nuwe RSG Bekbasaar

JOHANNESBURG, 29 Julie 2025 – RSG is verheug om die bekendstelling van sy nuutste Bekbasaar (podcast) aan te kondig, Trou is nie perdekoop nie, ‘n weeklikse aanlynreeks wat die veelsydige reis van troues en die huwelik ondersoek.

Aangebied deur die geliefde radio- en TV-persoonlikheid, Eloise Cupido, en skrywer en akteur, Solomon Cupido, beloof dié bekbasaar om aan luisteraars insiggewende en hartroerende gesprekke oor alle aspekte van die huwelikslewe te bied.

Trou is nie perdekoop nie is ‘n eerlike en skreeusnaakse bekbasaar (spesialis-potgooi) oor verhoudings, liefde, troues en die dinge wat niemand durf erken nie. Met skerp humor en diep gesprekke delf die RSG aanbieder Eloise Cupido Solomon Cupido, saam met gaste en luisteraars, in die hart van wat dit beteken om lief te hê – en om verlief te bly. Dit is waar stories gedeel word, kultuur met die werklikheid bots, en tradisie bevraagteken word. Luisteraars kan uitsien na eerlikheid, prettige gesprekke, insigte wat jou sal verbaas en baie lag. Elke episode bring nuwe perspektiewe oor die dinge wat vir ons almal saak maak.

Met hul eie ervarings en openhartige perspektiewe sal Cupido2 luisteraars deur die vreugdes en uitdagings van die huwelikslewe lei, en kenners en ander paartjies uitnooi om hul stories en raad te deel.

“Ons is ongelooflik opgewonde om ‘Trou is nie perdekoop nie‘ na RSG luisteraars te bring,” sê Louise Jooste, RSG se Sakebestuurder. “Die huwelik is ‘n fundamentele deel van baie mense se lewens, en om Eloise en Solomon hierdie gesprekke te laat lei, is ‘n ware voorreg. Ons glo dat hierdie bekbasaar diep sal resoneer met ons gehoor, waardevolle insigte sal bied en sterker verhoudings sal kweek.”

Eloise en Solomon is welbekend in die toneel- en mediawêreld en is gereed om eerlike gesprekke te voer, wat deur hul entoesiasme vir dié nuwe bekbasaar bevestig word. “Geen onderwerp en gesprek is taboe vir hierdie bekbasaar nie! Enige onderwerp oor troues – ons praat daaroor! Onderwerpe wat sensitief mag wees, gebiede waar ons kan verbeter wanneer dit by die huwelik kom, die snaakse en die ongemaklike – ons is hier vir dit alles,” sê Eloise Cupido. “Deur ‘Trou is nie Perdekoop nie‘ hoop ons om ‘n ruimte te skep waar paartjies gesien kan voel, van mekaar kan leer en geïnspireer word om hul verhoudings te koester.” Solomon Cupido voeg by: “Ons wil ‘n oop dialoog oor die huwelik aanmoedig, mites verdryf en praktiese raad bied wat werklik ‘n verskil in mense se lewens kan maak.”

“Hierdie bekbasaar is werklik, snaaks en iets vars. Luisteraars kan uitsien na eerlike stories, skreeusnaakse oomblikke, ongemaklike waarhede, verrassings en die tipiese kampvuurklets, maar met ‘n bietjie meer wysheid,” voeg Solomon by. Eloise noem dat dit so verfrissend was om saam met Solomon te werk. “In ‘n bedryf wat so vroulik-gefokus kan wees, bring hy ‘n perspektief wat ek nie verwag het nie.”

Trou is nie Perdekoop nie” sal op Dinsdag 29 Julie 2025 bekend gestel word, met nuwe episodes elke Dinsdag. Jy kan luister op rsg.co.za, Spotify, YouTube en SABC+.

 

Slimfoontoepassings is luistervinke

Igna Klynsmith bespreek die saak van Daisy de Melker.

Hy beantwoord ook ‘n luisteraarsvraag oor ‘n werknemer se onsekerheid oor haar werk onder nuwe bestuur.

Spesialisgas Lizel van Deventer praat oor slimfoontoepassings wat inluister op ons, en hoe dit ons privaatheid skend.
Luister hier na die program.

Luister weer na ‘n dokumentêr oor Portchie

Carla MacKenzie gaan in Maria’s Manor – Die kuns en lewe van Portchie op Donderdag 31 Julie na die seun van ‘n groenteboer in die Vrystaat se opgang in die kunstewêreld kyk en hoekom sy kleurvolle kuns tot soveel mense spreek.

MARIA’S MANOR: DIE KUNS EN LEWE VAN PORTCHIE deur Carla MacKenzie

Hy is die seun van ‘n groenteboer van die Vrystaat. Sy opgang in die kunswêreld is opspraakwekkend. Carla McKenzie vind uit hoekom Portchie se kuns tot soveel mense spreek.

Portchie se kunswerke is ‘n handelsmerk van helder kleure, vorms, fietse, hoenders en blou bome. Die vleulklavier, beelde en skilderye skep ‘n alomteenwoordigheid van vrede in Maria’s Manor.

Vanjaar vier Portchie 35 jaar in die kunste en mag baie meer mense ontdek hoe dit voel om een van Portchie se skeppings te sien en te ervaar.

Portchie vertel van sy kinderdae, hoogtepunte uit sy lewe, skooldae en sy loopbaan. Portchie vier hierdie jaar 35 jaar as skilder en daar is nie ‘n beter tyd om hom te eer op RSG nie.

Hoekom juis ‘n ‘kuns’ dokumentêr? Carla Mackenzie, Hoër Meisieskool Bloemhof alma mater, het groot geword in Stellenbosch. Sy vertel, “van kleins af het my ma vir my en my suster gereeld na die ‘Red Teapot Gallery’ geneem. Ek het amper nèt sport gespeel maar elke keer was ‘n Portchie-besoek ‘n kleurvolle ontvlugting. My ma het na baie jare vir my ‘n oorspronklike Portchie geskenk gegee en ek sal dit vir altyd koester. Amper 15 jaar na ek die eerste keer in Portchie se gallery instap, het ek nooit gedink om in die uitsaaiwese te wees en om die eer te kan hê om ‘n dokumentêr oor Portchie te maak nie.”

 

 

Lynthia Julius gesels land en sand

Kleintyd al, in Vygiestraat op Springbok in die Namakwaland, het Lynthia Julius geleer om te luister wanner haar ouma aspatat gebak en stories vertel het.

Deesdae is sy een van Afrikaans se jong en mees bekroonde digters. Haar diep menslike rubrieke in Rapport vind ook groot byval.

Lynthia is nie op haar mond geval nie, en sy het land en sand met Pieter Steyn gesels in haar kantoor in Kimberley, by die Sol Plaatje-universiteit, waar sy kratiewe skryfkuns doseer.

Sy gesels onder meer oor vloek, Bruinmense wat rassisties is teenoor Swartmense, en Witmense wat rassisties is oor Bruinmense.
Luister hier na die hele gesprek. 

WAARSKUWING: Sterk taalgebruik kan sensitiewe mense ontstel.

Bees-oupas en -oumas is belangrik in teling

Oupas en oumas is belangrik wanneer telers hulle beestelingpraktyke toepas. Gene beïnvloed nie net direkte nageslagte nie, maar ook die geslagte daarna. Dr. Helena Theron van SA Stamboek beantwoord vrae oor genetiese diversiteit.

Ons praat met Ruben Rens van GWK Aartappels oor die eienskappe van goeie aartappelkultivars.

Chris Dersken het die week se vleispryse, en Johan van den Berg gesels landbou-weersake.

Hou te min selfvertroue jou terug?

Wat hou jou terug? Hierdie gesprek beklemtoon die belangrikheid daarvan om die onderskeid tussen selfvertroue en selfbeeld te verstaan, en hoe hierdie kennis kan bydra tot persoonlike groei, geluk en welstand.

Kom ondersoek saam die verskillende betekenisse en implikasies van hierdie twee konsepte.

Luister na die gesprek.

As Venus en Jupiter in een teleskoopveld inpas

Lafras Smit vertel van die hoogtepunte wat Augustus se naghemel sal bied, veral die seldsame konjunksie van die twee helderste planete, Venus en Jupiter, waar altwee binne ’n teleskoopveld sal kan inpas.

Sterre en Planete was weer vanjaar by die Vrystaat Kunstefees, en ons luister na opnames wat daar gemaak is, soos die verhaal van die program self, asook dié van Willie en Matie.

Ons sluit af met ’n baie interessante aanbieding oor die lewe en loopbaan van die vrouesterrekundige, Vera Rubin.

Luister na die program.

Sterre en planete 27 Julie 2025

‘Mashatile eintlik al president’

In ‘n onlangse artikel op die aanlynpublikasie, BinneLand, skryf die politieke ontleder van die Noordwes Universiteit, professor Piet Croucamp, dat president Cyril Ramaphosa geabdikeer het en adjunkpresident Paul Mashatile vir alle praktiese doeleindes die land en die ANC se president is.

Piet skryf, terwyl Ramaphosa hom besig hou met vroompraatjies oor die Nasionale Dialoog, het hy Suid-Afrika verkoop vir ‘n pot lensiesop.

‘Mashatile eintlik al president’

Luister weer na ‘n dokumentêr oor geslagsgeweld

Luister weer na die dokumentêr  Agter Geslote Deure, saamgestel deur Heindrich Wyngaard.

AGTER GESLOTE DEURE deur Heindrich Wyngaard

Die pandemie van geslagsgeweld in Suid-Afrika word in hierdie dokumentêr deur Heindrich Wyngaard ondersoek. Heindrich waarsku dat van die vertellings moontlik sensitiewe luisteraars mag pla, maar hy sê dit was nodig om dit in te sluit sodat die harde werklikheid van geslagsgeweld deur die luisteraars ervaar kan word. Hy hoop dit sal luisteraars – veral mans – tot aksie dryf.

Agtergrond-inligting

“Dit was ‘n behoorlike uitdaging om as ‘n man die tema van geslagsgeweld, oftewel GBV, aan te pak,” sê Heindrich Wyngaard, wat sorg vir hierdie week se RSG-dokumentêr. “Ek moes regdeur ook my eie idees en vooroordele of gebrek aan bepaalde sensitiwiteite in ag neem en bid dat ek wyser anderkant sou uitkom.”

Heindrich sê die titel van die dokumentêr, “Agter Geslote Deure”, gee ‘n aanduiding van hoedat geslagsgeweld in die meeste gevalle in die geheim plaasvind. Wat dit ook na die oppervlak bring, as ‘n mens na deelnemers se insette luister, is die verskynsel dat daar in die algemeen nie sommer hieroor uitgepraat word deur slagoffers of hul nabye familie of vriende nie.

“Stilswye oor wat lank reeds ‘n epidemie of pandemie genoem word, is een van die opvallende kenmerke van hoe geslagsgeweld deur ons samelewing gehanteer word,” sê Heindrich.

In die dokumentêr word die stilte egter verbreek.

Heindrich het besluit om met die deur in die huis te val deur die dokumentêr in te lei met die verhaal van ‘n GBV-oorlewende, Lena Lombaard van Worcester. Haar verhaal word in die soort detail vertel waarteen sensitiewe luisteraars gewaarsku moet word, maan Heindrich, “maar ek dink tog as ‘n mens haar woorde sou versag of uitdoof, sal dit ondermynend wees teenoor die graad van mishandeling wat sy moes verduur”.

Die ander deelnemers – almal vroue, met die uitsondering van een – is op een of ander wyse by die bevegting van geslagsgeweld betrokke.

Hulle is dr. Marlene le Roux, hoof van die KunsteKaap-teater; die regsgeleerde Maryna Marengo-Barnard; die GBV-aktivis Tanya Bippert, politieke wetenskaplike prof. Amanda Gouws en die operasanger Lynelle Kenned. Ook Kenned se verhaal is volgens Heindrich “diep aangrypend en slaan nogal hard”.

Die joernalis en skrywer Julian Jansen praat spesifiek in die dokumentêr oor “mislukkings in die stelsel” wat hy in die navorsing vir sy onlangs-gepubliseerde boek, Die dood van Deveney Nel, waargeneem het.

Dit was Kenned wat Heindrich aan die “temalied” vir die dokumentêr bekend gestel het: anders as die bekende Gloria Gaynor-treffer “I will survive”, vind Kenned groter aanklank by Laura Mvula se “Father, Father”, het sy hom vertel. Teenoor Heindrich het sy ook verduidelik dat die lied vir haar klink “soos ‘n kerkgesang amper” met lirieke wat herinner aan ‘n hunkering of ‘n “pleitroep” oor verlore intimiteit tussen, byvoorbeeld, ‘n pa en dogter.

Heindrich sê hy wil spesifiek op manlike luisteraars ‘n beroep doen om na die dokumentêr te luister en hy hoop dat sal gesprekke oor GBV onderling onder mans aanvuur.

“Ons staan in die beskuldigde bank. Ons hande drup van die bloed,” sê hy. “Nou is dit tyd dat ons rol moet verander – ons wat rolmodelle is vir jong seuns – deur onder mekaar oor GBV te begin praat en tesame met vroue aan oplossings te werk.”

In die algemeen is Heindrich se wens dat luisteraars – nadat hulle na die dokumentêr geluister het – hulself sal afvra, soos die RSG-bekende Amore Bekker in reaksie op Bettina Wyngaard se boek Onverskrokke vroue – Uitdagings en oorwinnings van Bybelse tye tot vandag gedoen het. “Amore se vraag in die flapteks was: ‘Nou dat ons dit alles weet, wat gaan ons doen?’ en ek wil dit persoonlik maak: “Wat gaan JY doen?”

Heindrich was voorheen aanbieder op Monitor, Spektrum, Kommentaar en Praat Saam. Tussen Januarie en Maart vanjaar het hy ‘n tweede aflewering van die gewilde musiekreeks “Toe Ons Sterre Was” aangebied. In September verlede jaar het hy ook vir RSG ‘n dokumentêr vervaardig oor die Zephany Nurse-verhaal. Luister hier daarna: https://www.rsg.co.za/rsg-fm/omny/op-soek-na-levona-die-zephany-nurse-verhaal-deur-heindrich-wyngaard/