SA animasie, Stripes, wen internasionale pryse

Die Suid-Afrikaanse kortfilm, Stripes, het pas ’n silwertoekenning vir animasie by die Film Olympiad in Griekeland én ’n gouetoekenning vir sy klankbaan by die Pulse of Animation-fees in Bulgarye ingepalm.

Dié kortfliek vertel die inspirerende storie van ’n speelse tierwelpie genaamd Stripes, wat haar plek in die wêreld probeer vind, en dan leer om haar eie kleure en uniekheid te omhels.

Ons praat met Cara Rust, Stripes se vervaardiger.

 

‘n Huldeblyk, herdenkings en propvol vermaak in ons 2e Radioteaterseisoen

Luisteraars gaan bederf word met kreatiewe, oorspronklike tekste, iets uit die argief, en  ‘n geskiedkundige heropname in ons  tweede radioteaterseisoen van 2 Oktober tot 25 Desember.

Radioteater word met die uitsondering van Kersdag,  elke Donderdagaand om 20:00 uitgesaai.

2 Oktober: Die besoeker
Die seisoen begin op 2 Oktober met Die Besoeker deur Herman Cronjé. Die finalisteks in die 2024 RSG-radiodramaskryfkompetisie vertel die storie van Truida wat deur haar verlede gyselaar gehou word. Die rolverdeling bestaan uit Rina Nienaber as Truida, Johan Joubert (debuteer), Ilse Klink, Donovan Pietersen en James Borthwick. Johny Klein is die regisseur.

9 & 16 Oktober: Stasie in die Niet
Chris Barnard se radiodrama, Stasie in die Niet, is heropgeneem ter herdenking van sy afsterwe tien jaar gelede. Hierdie briljante teks uit Barnard se pen word op 9 en 16 Oktober gevier wanneer die drama, weens tydsbeperkings, in twee dele uitgesaai word. Die oorspronklike opname is in 1969 in Johannesburg deur Cor Nortjé gemaak.  Die 2025 heropname is in Kaapstad gedoen met Frieda van den Heever aan die stuur as regisseur en Anrich Herbst, Karli Heine en Neels van Jaarsveld in die rolverdeling.

23 Oktober: Genade, Professóôr!
Dié drama (2024 RSG-radiodramaskryfkompetisiefinalis) deur Nico Luwes, handel oor Prof. Weiss wie se taak dit is om die musiekdepartement van ondergang te red. Dit blyk dat  alles nie pluis is in die personeel en sekere studente se persoonlike lewens nie. ‘n Subtiele heksejag word van stapel gestuur om die skuldige uit te vang. Hierdie klug prikkel die lagspiere op 23 Oktober met André Odendaal as Prof Weiss, en Sulette Thompson, Bertha le Roux-Wahl, Botha Enslin en Mada Oosthuizen (debuut) in die rolverdeling. Karen Wessels het die regie behartig.

30 Oktober: Twee grafgrawers en ‘n melkhout.
Jaco Versfeld, een van die merietepryswenners in die 2024 RSG-radiodramaskryfkompetisie debuteer op 30 Oktober met sy eerste radiodrama, Twee grafgrawers en ‘n melkhout. In die radiodrama besef die luisteraar opnuut dat alle slegte mense ‘n bietjie goed in hulle het, alle goeie mense ‘n bietjie sleg in hulle, en dat alles nie op die oppervlak is soos wat dit lyk nie. Renske Jacobs is die regisseur met Phillru van Achterberg, Mortimer Williams, Izette Blignaut (debuteer), Kevin Smith en Francois Stemmet in die rolverdeling.

6 November: Daar leef mense daar (2012)
Dié drama word op 6 November weer uitgesaai as huldeblyk aan die bekroonde dramaturg Athol Fugard wat vroeg in 2025 oorlede is.  Fugard was alom bekend as dramaturg van protesteater. Maar met Daar leef mense daar (People are living there) beeld hy in die tragikomedie ’n middeljarige vrou, Milly, uit wat vasgevang is tussen haar verlange na betekenis en die harde werklikheid van haar eensaamheid. Marko van der Colff het dit vertaal in Afrikaans. Margot Luyt het die drama vir die radio verwerk en die regie behartig. In die rolverdeling is Deidre Wolhuter, Johann Nel, Wessel Pretorius en Hannah Borthwick.

13 November: Desembersterre
Glanspaartjies en die leefwêreld van bekendes is nie altyd maanskyn en rose nie. In Desembersterre wat op 13 November uitgesaai word,  het Helena Hugo haar ervaring as aktrise en skrywer vervat in ‘n pittige komedie wat juis die wel en weë van die voorbladgesigte ontbloot. Geniet ‘n kykie agter die skerms in die lewe van TV-sterre. Die regie word behartig deur Estel de Beer. Die span agter die mikrofoon is Lizelle Pike, Dihan Keun, Mia-Anne O’Kennedy, Sean Brebnor, Botha Enslin, en Rian Terblanche.

20 November: Eindfluitjie
Dit is 30 jaar sedert die Springbokke se geskiedkundige oorwinning in die 1995 Rugby Wêreldbekertoernooi op Ellispark. Op 20 November vertel Eindflutije, deur Albert Short, ‘n fyn verweefde storie van drome, wense en ‘n verspilde verlede in ‘n jong demokrasie vol hoop en verwagting. Al die gebeure speel af teen die agtergrond van daardie onvergeetlike dag op Ellispark. Die rolverdeling is Stefan Vermaak, Roeline Daneel, Eloff Snyman, Deon Lotz, Jane de Wet en Wilhelm van der Walt. Die bekende rugbykommentator en omroeper, Johan Rademan, sorg as regisseur vir al die rugbyklanke, en spel wat die drama ‘n ware belewenis maak.

27 November: Vermis, Ophelia
Maria Vos skets die komiese gebeure by ‘n kermis waar die hele dorp op hol gejaag word op soek na Ophelia. Skakel op 27 November in vir Vermis, Ophelia, (‘n finalis in die 2024 RSG-radiodramaskryfkompetisie) met Lizelle Pike, Pietie Beyers, Elzette Maarschalk, Hannes Brümmer, Nana Stapelberg en DeWaal Stemmet.  Juanita Velts is die regisseur.

4 Desember: Vlugvoos
In Vlugvoos
deur Ronel Mostert, wat op 4 Desember uitgesaai word,  probeer die karakters ‘n geheimsinnige moord ontsyfer. Vier maande getroud en dan sterf André. Cumi, sy vrou, is die hoofverdagte. Ina Strydom het die regie behartig met Juanita Velts, Andreas Jordaan, Anton Engelen, Mariette Engelen en Claudia Jones in die rolverdeling.

11 Desember: Misverstand
Anene Loots se Misverstand (‘n finalis in die 2024  RSG-radiodramskryfkompetisie), is ‘n romantiese klug oor ‘n paartjie wat die vlam in hulle huwelik verloor het. Elna probeer die vonk tussen haar en Bert weer laat opvlam – met verreikende gevolge. Thomas van Niekerk, reeds bekend aan RSG-luisteraars as skrywer en regisseur van Kiskenades, debuteer as radiodrama-regisseur met Albert Maritz as Bert en Joanie Combrink as Elna, asook Nic de Jager en Ané Fourie (debuteer) in die rolverdeling. Dit word op 11 Desember uitgesaai.

18 Desember: Pendoring (EDMS) Beperk
2025 is die eeufeesjaar van Afrikaans as amptelike taal in Suid-Afrika.  Om die feesvieringe voort te sit word die 1975 argiefdrama, Pendoring (EDMS) Beperk, deur Ampie van Straten, op 18 Desember uitgesaai. Die radiodrama fokus op die eksentrieke kopieskrywer Gert Klopper, wie se passie vir Afrikaans—wat hy liefderyk beskryf as sy “meisie”—bots met konvensionele taalreëls.  Die rolverdeling bevat die room van Afrikaanse stemme soos Katinka Heyns, Matthys du Toit, Arno Kotze, Martie Lee, Paul Eloff, Francois  Nel, Hennie Oosthuizen, Will Bernard, Francois de Bruin, Willie Pretorius en Alewyn Lee. Roelf Jacobs het die regie behartig.

25 Desember: ‘n Wonderwerk vir Kersfees (2018)
Die seisoen word op 25 Desember afgesluit met die Kersdrama uit die argief, ‘n Wonderwerk vir Kersfees (2018) deur Riana Scheepers. Die “wonderwerk” in hierdie drama is gebaseer op ‘n werklike gebeurtenis, wat die inspirasie vir die verhaal is. Dit het regtig so gebeur dat tannie Bettie Nysschen, ‘n bekende en geliefde figuur van buite Wildernis, haar huisdeur se sleutel gebruik het om haar bakkie oop te sluit en weg te ry nadat haar huis aan die brand geslaan het. (Dit het wel nie tydens Kersfees gebeur nie.) Die res van die gebeure en karakters is fiktief. Joanie Combrink, Mariechen Vosloo, Anrich Herbst, Dean Balie en Rolanda Marais is in die rolverdeling en Johan Rademan het die regie behartig. Dié drama word as deel van RSG se Kersdaginhoud om 15:05 uitgesaai, en nie om 20:00 nie.

Alle dramas is ná die uitsending beskikbaar op potgooi by rsg.co.za, asook op Spotify.

Luister weer na ‘Die Besoeker’

Luister weer na Die Besoeker deur Herman Cronjé, ‘n 2024 finalis van die RSG-Radiodramaskryfkompetisie.

Die Besoeker is ’n aangrypende drama wat jou deur tyd sleep in ’n wêreld van familiegeheime, onverwerkte pyn, en ‘n desperate soeke na verlossing. Die drama bevraagteken die mure wat families in hul huise bou – nie net van baksteen nie, maar van duistere geheime, swaar swye en genadelose verwerping.

Die spelers is Rina Nienaber, Ilse Klink, Donovan Pietersen, James Borthwick en Johan Joubert (debuteer), en Johny Klein het die regie behartig.  Beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

Die storie
‘n Dertien jarige dogtertjie is dood in ‘n tref en trap ongeluk in die 1990’s. Die ongeluk het naby Truida en Karel Conradie se huis plaas gevind. Die twee moet iets van die ongeluk weet, want Karel (James Borthwick) neem sy eie lewe en Truida (Rina Nienaber) word jare later gediagnoseer met ‘n verdoemende geestesiekte.

Marko (Johan Joubert), hulle seun, vind die waarheid uit wanneer hy en ‘n vriend, JP (vertolk deur Donovan Pietersen),‘n toegeboude agterdeur in hul kombuis ontdek.
Hierdie deur laat hom terug gaan in tyd en so vind hy uit hoekom sy pa sy eie lewe geneem het en waarom sy ma opeindig in Neurobergh, die psigiatriese hospitaal in die dorp. En ook wie verantwoordelik is vir dogtertjie se misterieuse dood.

Die drama weef deur tyd en werklikheid, en laat jou vra: Wat sou jy verander as jy een oomblik uit die verlede kon herleef? Moet mens ou deure oopsluit om die lig van die waarheid te vind, of moet mens die verlede se grimmige skaduwees in die donker los?

Oor die skrywer – Herman Cronjé
Herman Cronjé is ’n siviele ingenieur met een voet in die Kaap en die ander in Riyadh in Saoedi -Arabië. Die Besoeker, ‘n aangrypende psigologiese riller, is sy derde radiodrama en weerspieël sy talent vir rou emosionele en draaiende narratiewe.

In 2018 verower hy die tweede plek in die RSG Radiodramaskryfkompetisie met sy debuut-drama, Die Selle, ‘n wetenskapsfiksie klug, gevolg deur Die Ontheemdes, aangewys as ’n finalis in die 2019 kompetisie.

 

Frans Swart van Lefra-faam deur Roodepoort-teater vereer

Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies en regisseur van baie gewilde teaterproduksies, het ‘n Ster-toekenning ontvang van die Roodepoort-teater vir sy jarelange bydrae tot teater in Suid-Afrika.

Die toekenning is gemaak tydens die Roodepoort se 45ste jaar herdenking, die inwyding van die opgeknapte teater, die bekendstelling van ’n eksklusiewe koffietafelboek om die geleentheid te vier en ook die onthulling van die “walk of fame” waarmee 30 legendariese persone vereer is.

Swart sê dat dit vir hom ‘n besondere eer en voorreg is om die toekenning te ontvang.  “Ek wil baie dankie sê aan die Roodepoort-teater. Ek ontvang hierdie toekenning in diepe erkentlikheid en dankbaarheid aan my Skepper, wat vir my die talente, gesondheid en krag gee om hierdie mal teaterberoep van my te kan doen”.  

Hy sê dat sy pad met die Roodepoort-teater ‘n lang pad kom en Lefra het oor jare wonderlike produksies by die Teater gespeel.  “Oorlede Weiss Doubell het uitstekende werk hier gedoen om die Roodepoort-teater as Opera en Klassieke Musiek teater te vestig en het internasionale erkenning vir hierdie teater gekry.  Ek is so dankbaar dat die Roodepoort-teater vir Weiss hierdie besondere erkenning gegee het en hom en sy familie ook geëer het vir die onbaatsugtige diens wat hy oor baie jare aan die teater gelewer het”.

Hy sê ook dat dit werklik jammer is dat baie van soortgelyke produktiewe stadsteaters nie meer operasioneel is nie.  “Plaaslike owerhede wat nie hul plig nakom ten opsigte van die stadsteaters in hul omgewing nie, moet werklik aangespreek word.  Gaan leer by die Johannesburgse Metro.  Dit is die plig van plaaslike owerhede om teaters te bedryf, te finansier en sodoende werk vir kunstenaars te skep.  ‘n Teater in jou plaaslike omgewing mag nooit as ‘n luukse gesien word en sommer summier van die begroting geskrap word nie.   Inwoners moet opstaan en dorpe en plaaslike owerhede wat hulle teaters laat verlore gaan het, te kritiseer en druk op daardie owerhede uit te oefen.”

Sitruskwekers se akademie help hoërskoolleerders en lei landbou-voorligters gratis op

Die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika sê die Sitrus Sekondêr-program skep ‘n geleentheid vir leerders om ‘n reeds erkende plantproduksie-kwalifikasie op hoërskool te behaal. Dit word deur die Sitrusakademie – ‘n filiaal van die Sitruskwekersvereniging – aangebied. Daar word ook nou ‘n gratis kursus aangebied vir voornemende landbouvoorligters in die sitrusbedryf.

Dr. Böhmer Skool leer praktiese lewensvaardighede aan leerders met intellektuele gestremdhede. Hulle het hulle landbouprogram met slegs 100 hoenders begin. Vandag het hulle 340 henne en ‘n skoolvoedingsprogram wat deur eierproduksie gedryf word. Santa Ferreira van Nutrifeeds deel hulle merkwaardige storie.

Versevlei, ons nuwe middagvervolgverhaal, begin vandag

Versevlei is ‘n oorspronklike middagvervolgverhaal wat vanaf 29 September, elke weeksdag om 14:45 uitgesaai word.

RSG nooi jou uit om weeksmiddae stil te staan, die alledaagse geraas agter te laat en jou te verdiep in die boeiende wêreld van plattelandse intriges.

Dié vervolgverhaal is ‘n eerste uit die pen van Anneli du Preez, naaswenner van die 2023 RSG-radiodramaskryfkompetisie. Sophia van Taak, wat bekend is as joernalis en aanbieder van Vers en Klank, pak ook vir die eerste keer ‘n 40-episode vervolgverhaal aan as regisseur en voeg ‘n fyn oor vir musiek, klank en spel by die boeiende storie.

Die skrywer vertel
Oor die skryf van haar eerste vervolgverhaal vertel Anneli dit was soos om op ʼn avontuur saam met goeie vriende te gaan.  Sy het elke karakter opnuut ontmoet, lief geword vir hulle en sal hulle stories altyd saam met haar dra. “Daar was baie laat aande, lag tot my maag seer is en ja, selfs kwaad word en saam huil, maar elke oomblik van die reis was die moeite werd.”

Die regisseur vertel
Sophia meen dat Anneli ‘n heerlike storie geskryf het. Elke episode eindig op so ’n spannende  noot dat selfs die spelers nie kon wag om die volgende dag weer verder daaraan op te neem nie – die afwagting was net té groot.

Sophia brei uit oor haar ervaring as regisseur: “Met ’n vervolgverhaal se regie kan jy jou regtig in die storie verdiep. ’n Mens raak so betrokke by elke karakter se wel en weë, ek dink ek gaan na hulle verlang wanneer Versevlei die dag eindig!”

Sy sê dit is ’n voorreg om saam met gesoute akteurs soos Johann Nel en Marion Holm te kon werk. “Hulle weet net hóé! Nóg ’n bekende, Henriëtta Gryffenberg, maak met Versevlei vir die eerste keer haar buiging in die Kaapse drama-ateljee.”

Die klank
Die kundige Cassi Lowers het weer agter die klankbord ingeskuif as klankingenieur. Daar word rondgespeel met byklanke en musiek om die luisteraars oral heen saam te neem – van die rugbyklub tot by ’n veeveiling! Die karakters en milieu is allermins volksvreemd.

Die span in die ateljee
Die gedugte span agter die mikrofoon sluit radiodrama-gunstelinge soos Merlin Balie en Èmil Haarhoff  in.

Die vervolgverhaal stel luisteraars ook aan nuwe stemme uit die Wes-Kaap  bekend. Schoemé Steenkamp, Hendri Mounton, Dirk Liebenberg en Julia Marone is ervare kunstenaars wat hulle debuut in ‘n radiovervolgverhaal maak.

Die storie

Dit is 2003 en buite die dorpie Wilgerfontein in Mpumalanga lê die plaas Versevlei. ‘n Plaas wat met bloed en sweet opgebou is tot die spogplaas wat dit vandag is.

Die De Jager-familie boer al vir geslagte op die plaas. Die toekoms van hierdie spogplaas is egter in gedrang, want dit lê op ʼn skatryk steenkoolrif en die myngroep Du Walt sal enigiets doen om hulle hande op hierdie stuk grond te kry.

Die vraag is of Du Walt die enigste bedreiging vir Versevlei se erfenis inhou?

Dit is ʼn storie van egte lief en leed en hoe dit die mense in ʼn gemeenskap kan vorm, breek of laat saamstaan.

Dit wys dat mense nie altyd is wie hul voorgee om te wees nie en dat elke huis weliswaar sy eie kruis het. Dit wys dat boosheid somtyds sommer so onder mense naby ons kan rondloop, maar uiteindelik sal die waarheid, liefde, integriteit en respek seëvier.

Ontmoet die dorp se mense

Joachim De Jager (Johann Nell) is die huidige boer en eienaar van die spogplaas Versevlei. Hy is ʼn boer in murg en been. So gebore en so laat staan. Behalwe vir sy plaas, is sy beeldskone dogter, Wilmien, sy trots.

Wilhelmina “Wilmien” De Jager (Schoemé Steenkamp) is Joachim se die enigste kind.  Ná matriek gaan swot sy onderwys in Pretoria. Dit was nog altyd net sy en haar pa. Haar ma, Susan, is tragies oorlede met haar geboorte en daarom besluit sy om ná haar studies haarself op Wilgerfontein te kom vestig as die jong, geliefde onderwyseres.

Greta Le Roux (Marion Holm) is die eienaar van die Losieshuis op Wilgerfontein. Nie net is sy Joachim se skoonsuster nie, maar sy was ook getroud met Joachim se beste vriend. Sy verloor egter haar man en trou nooit weer nie. Sy help vir Wilmien grootmaak sedert sy ‘n baba was,  en het haar lief soos haar eie dogter. Greta het probeer om vir Wilmien die naasbeste ma te wees wat sy kon.

Dolf Du Plessis (Hendri Mouton) aanvaar ʼn onderwyspos in Wilgerfontein en laat vinnig die inwoners van die dorp gons, want hy is aantreklik en enkellopend. Sy ma het hom alleen grootgemaak, hy het nooit sy pa geken nie. Hy het arm grootgeword, maar met goeie waardes en goeie beginsels.

Gerrit Gouws (Èmil Haarhoff ) is ‘n volgende generasie op die plaas Geluk, wat ook die buurplaas is van Versevlei. Hy het die plaas geërf nadat sy pa skielik in ʼn tragiese skietongeluk oorlede is. Gerrit leef vinniger as wat sy beskermengel kan vlieg. Die werkwoord ‘boer’, loop nie regtig deur sy are nie, maar hy geniet die geld wat uit die boerdery verdien word.

Barto Cronjè (Dirk Liebenberg) ontvang ʼn beurs van die  WALDUCOR groep, (Beheermaatskappy van Du WALT), om ná skool deeltyds Argitektuur  te swot terwyl hy vir die groep werk. ʼn Jaar gelede, net toe hy sy voete begin vind, kry sy pa ʼn beroerte en sy verantwoordelikheid teenoor die familiebesigheid, die bakkery op Wilgerfontein, dwing hom om terug te keer.

Benita Botha (Henriëtta Gryffenberg) kom Wilgerfontein toe om ʼn rustiger lewe te soek. Boonop is sy nog mooi ook met goeie waardes. Is sy egter wie sy voorgee om te wees?

Abram Jakobs (Merlin Balie) is die slinkse bankbestuurder op Wilgerfontein en sy enigste doelwit is om sy eie bankbalans so vet as moontlik te kry. Sy volgende teiken en bonus is Versevlei.

Suzie Benjamin (Julia Marone) is Wilmien se beste vriendin. Sy’s vrolik, sjarmant en so bietjie aan die wilde kant. Sy werk in die bank en haar pa is die skoolhoof op die dorp.

Richard Benjamin (Mehboob Bawa)  is die skoolhoof op Wilgerfontein en die pa van Suzie Benjamin. Hy bestuur sy skool met trots en om befondsing te kry vir opgraderings by die skool, gaan klop hy aan by die bankbestuurder Abram Jakobs.

Luister elke weeksdag om 14:45 of luister aanlyn op rsg.co.za. Elke episode sal beskikbaar wees as potgooi en op Spotify.

 

Kate Borthwick: Bloedplasma-kanker en mooi komposisies

Kate Borthwick is in 2022 op 37-jarige ouderdom met aggressiewe bloedplasma-kanker gediagnoseer. Sy is die dogter van Rika Sennet en James Borthwick en suster van Hannah Borthwick en pianis en komponis in eie reg.

Lees hier meer oor: 
1. Mediese inligting oor bloedplasma-kanker
2. Hannah se skrywe
3. Kate se komposisies

1. Die mediese inligting oor Bloedplasma-kanker:
Verstommende vooruitgang is gemaak in die behandeling van miëloom, een van die drie vorms van bloedkanker. Danksy die nuwe middels het die oorlewingsyfer van vroeggediagnoseerde miëloom, wat beskryf kan word as bloedplasma-kanker, die afgelope 15 jaar verbeter van sowat 2 jaar tot 10 jaar plus. Die kanker kom gewoonlik by ouer mense voor. Mari Hudson gesels met Prof Vernon Louw, kliniese hematoloog.

https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-14-september-2022

2. Hannah se skrywe
Hi, I’m Hannah Borthwick, and I’m reaching out on behalf of my sister, Kate Borthwick. Kate has been battling high-risk, aggressive Multiple Myeloma, a type of blood cancer, since 2022. She was diagnosed at stage 3 at 37, after a long and painful journey of misdiagnoses. Myeloma is extremely rare in young patients, which delayed her diagnosis, and by the time it was found, her condition had already caused several vertebrae to collapse. Despite treatments like a stem cell transplant, her disease has been difficult to control.

There have been incredible strides in myeloma treatment, but many of the newer therapies—like bispecific antibodies and CAR T—aren’t available in South Africa and are prohibitively expensive, some costing over $560,000 (USD). Kate is about to receive a bispecific antibody that, while not registered locally, is our best hope right now. It will come with a large copayment, but we’re hopeful this treatment will be the breakthrough she needs. Unfortunately, she may soon run out of options locally.

In addition to the physical toll of the disease, Kate will also lose significant income as she’s unable to work while undergoing treatment.

I’m asking for your help in spreading the word about Kate’s fight. I can’t imagine a world without my sister, and we’re doing everything we can to give her the best shot at life.

Any support or sharing of her story would mean the world to us. Thank you so much.

We are deeply touched by and so grateful for the overwhelming response to my campaign in just a few days. I am encouraged to fight bravely with so much love and support in my corner. Thank you from the bottom of my heart, each and every one of you – those who’ve shared, donated and posted messages of support. Your kindness is astonishing.
James Borthwick, Rika Sennett-Borthwick, Hannah Borthwick.

****UPDATE****
The doctor recently confirmed that the cost of the bispecific antibody will be R200000p/m. If Discovery approves it, they will likely cover 50%. The drug will be registered in South Africa at some point next year, which opens up the possibility of more funding. Until then, we will need to cover the R100000 monthly copayments. 🙏🏻

Teclistamab is a bispecific antigen to treat relapsed and refractory multiple myeloma in adults as monotherapy.

https://www.backabuddy.co.za/campaign/kates-cancer-therapy-support-fund?fbclid=IwdGRjcAM9_IdleHRuA2FlbQIxMQABHiWb9xEYNo1BWuE5HaF0L3y01lSLGIJI02EgMiQswNO6ocgw1z3Vqyuonqnr_aem_x6zU_aqtj6o20deV3klZzAah

We are deeply touched by and so grateful for the overwhelming response to my campaign in just a few days. I am encouraged to fight bravely with so much love and support in my corner. Thank you from the bottom of my heart, each and every one of you – those who’ve shared, donated and posted messages of support. Your kindness is astonishing.
James Borthwick, Rika Sennett-Borthwick, Hannah Borthwick.

3. Kate se komposisies
Kate komponeer klankbaanmusiek vir films, teater en reekse. Hier is twee van haar komposisies.

Imaginarium

Nana

 

Luister weer na ‘n dokumentêr oor ‘thrifting’

Luister weer na Styl sonder ‘n hap uit jou beursie, ‘n dokumentêr oor Thrifting deur Sue Pyler-Slabbert.
Jy sal maklik ‘n motor tweedehands aanskaf as wat jy enige iets anders sommer sal koop, maar hier is ‘n wêreld wat jou twee keer sal laat dink.

Thrifting of snuffelkoop is ‘n florerende, globale verskynsel met ‘n mark ter waarde van miljarde, gedryf deur die begeerte na bekostigbare, unieke items, ‘n verbintenis tot omgewingsvolhoubaarheid en ‘n kulturele verskuiwing weg van kitsmode.

Thrifting omvat ‘n verskeidenheid praktyke, van liefdadigheidswinkels en vlooimarkte tot saamgestelde vintage-boetieks en aanlyn herverkoopplatforms, wat gemeenskappe rondom mode hergebruik en kreatiwiteit bevorder.

Luister weer na die storie van Christo van der Rheede

Luister weer na die dokumentêre program: Goedgemaak op Goedverwacht: Die storie van Christo van der Rheede.

Christo van der Rheede is gebore op Goedverwacht anderkant Piketberg in die Wes-Kaap. Desjare was hy eers musiekonderwyser en later ook skoolhoof.

Toe beland hy by die Stigting vir Bemagtiging Deur Afrikaans (SBA) as uitvoerende hoof en later het Christo homself geanker as sleutelfiguur in Suid-Afrika se landbougemeenskap as bestuurshoof van AgriSA waar hy agt jaar lank betrokke was.

Deesdae is hy ‘n besoekende professor aan die Universiteit van die Vrystaat; ook aan die stuur van sake by die FW de Klerk-stigting.

Vanjaar is Christo aangestel as voorsitter van die ABSA KKNK. Haidee het saam met hom deur sy geboorteplek, Goedverwacht, se strate gestap waar die heimwee hom weer beetgekry het.