Op reis met ons ‘n nuwe oggendboekvoorlesing

Die nuwe oggendboekvoorlesing wat op Donderdag 19 Maart op RSG begin, is die bekende skrywer SD Fourie se Die Reis.  Dit word voorgelees deur Bertha le Roux-Wahl en is uitgegee deur Protea Boekhuis.

Bertha le Roux-Wahl


Skakel vanaf 19 Maart weeksdae om 10:45 in die voorlesings uit Die Reis, deur SD Fourie, eksklusief op RSG.

Die storie

Mariza, ‘n skrywer verloor haar woorde ná drie traumatiese gebeure in haar lewe: haar man, met wie sy ‘n komplekse verhouding gehad het is oorlede; haar huis het afgebrand; en haar geliefde Jack Russell is dood. 

Sy laat die huis herstel, maar haar drie kinders dring almal daarop aan dat sy in tuinwoonstelle by hulle moet kom woon. Mariza weier egter botweg. Dan ontmoet sy vir professor Joubert Hofmeyr, ‘n kultuurhistorikus. Hulle stamp koppe, maar besef daar is ‘n komplekse verweefdheid in hulle onderskeie verledes. Mariza en Joubert vertrek op ‘n landsreis na die Kgalikgadi, sodat sy haar woorde kan terugkry en hy meer kan uitvind oor een van sy voorsate. 

Die reis

Die  reis beslaan die grootste deel van die verhaal – maar dit is nie net die fisiese reis nie. Dit is ‘n reis deur Mariza se lewe sodat sy by die kern kan uitkom van wat haar daarvan weerhou om weer te skryf; ‘n reis deur die kollektiewe geheue van geslagte vroue in haar familie wat mekaar geslag op geslag beïnvloed.

Tydens die reis vertel Marize en Joubert om die beurt stories – en leer só op mekaar se paaie loop om te besef hoe die verlede die hede en die toekoms beïnvloed. 

Die skrywer

SD Fourie is ‘n ou bekende by RSG-luisteraars.  Twee van haar vorige boeke, Die dooies leef en Die lanternswaaier is voorheen op RSG voorgelees, en verskeie van haar radiodramas is al uitgesaai.  Met Droomskip het sy in 2008 die eerste prys verower in die RSG Radiodramaskryfkompetisie. 

                                                                       

AppleMark

Hoekom kan 70% van Graad 1 tot 3’s nie goed lees nie?

Sowat 70% van Suid-Afrika se Graad 1 tot 3 leerders se leesvaardigheid is nie op peil nie, en byna ‘n kwart van leerders in sekere taalgroepe kan teen Graad 3 nog nie lees nie.

Ilse Salzwedel wil by drie kenners weet waar die fout lê: by die regering, onderwysers of ouers? Sy praat met hulle oor die krisis, en hulle deel ook handige wenke vir ouers, onderwysers en versorgers om kinders te help om beter te lees.

Die kenners is Christien Neser (spraakterapeut en skrywer van 20 kinder- en jeugboeke), emeritus-professor Michael le Cordeur (‘n kenner in opvoedkunde) en Chareldine van der Merwe van die Vriende Van Afrikaans (VVA), ‘n nie-winsgewende organisasie wat die afgelope dertig jaar al leesvaardighede onder Afrikaanse kinders landswyd bevorder.

Die jongste inligting oor Gloukoom: Vroeë behandeling kan blindheid voorkom

Ongediagnoseerde en onbehandelde gloukoom kan tot blindheid lei omdat die oogsenuwee met gloukoom beskadig beskadig word. Maar indien dit vroeg opgespoor en behandel word, kan dit doeltreffend behandel word en blindheid voorkom word.

Gloukoom gaan dikwels gepaard met hoë vogdrukking in die oogbol, maar selfs sonder verhoogde drukking, kan gloukoom ontwikkel.

Dit kan doeltreffend met oogdruppels, laserbehandeling of uiteindelik chirurgie behandel word.

Dr Freddie van die Colff, oogspesialis by Panorama Mediclinic, vertel hoe die drukking kan verhoog, oor die verskillende soorte gloukoom, die diagnose en die behandeling.

Hier is die skakel vir die Wêreld Gloukoom Assosiasie se webtuiste: https://wga.one/what-is-glaucoma

Hier is ‘n Youtube video skakel wat die anatomie van Gloukoom baie mooi wys
https://youtu.be/zQwpSAmCD2Q

Oogvog produksie en uitvloei deur die trabekulêre netwerk net agter die iris

Hier is twee fotos van ‘n normale optiese senuwee en ‘n gloukomateuse optiese senuwee.

Normale optiese senuwee (die wit kol effe regs)
Optiese senuwee wat weens gloukoom beskadig is
So sien mens deur ‘n oog met gloukoom
Hierdie skets verduidelik ook hoe gloukoom en skade aan die oogsenuwee ontwikkel

Wat is die toekoms van ons suikerriet ná Tongaat Hulett likwidasie?

Het jy geweet herbivore kan koolstof deur middel van fotosintese bind? Om die koolstofvoetspoor op ‘n melkplaas te bereken, word die DESTiny-model gebruik. Dr. Heinz Meissner vertel van Melk SA se projek in hierdie verband.

Pannar vier vanjaar hulle eeufees. Ons hoor by Caria Grobler wat dit vir landbou in Suid-Afrika beteken.

Tydens ’n onlangse mediatoer van die Suid-Afrikaanse Suikervereniging, het ons met Pratesh Sharma gesels. Hy is ’n kommersiële suikerrietkweker in die Tongaat-omgewing. Ons het hom uitgevra oor die implikasies wat die Tongaat Hulett-likwidasieaansoek vir kwekers en die bedryf as geheel inhou. Hy praat ook oor suikerinvoere wat die plaaslike bedryf lamlê.

Luister weer: O Vloek! Om te swets of nie


Vloek perfeksioniste meer as mense vir wie die lewe maar net altyd ‘n lied is? Vloek mans meer as vroue? Gebruik sommige mense vloekwoorde as ‘n manier om sosiaal aanvaarbaar te wees, en ander dit onbewustelik om tameletjies in die lewe beter te probeer hanteer? Wat presies gebeur in ons breine wanneer ons vloek? Kan vloek pyn- en stresverligting bring – maar méér so vir mense wat nie gereeld vloek nie? Hoekom is vloek so taboe? En is daar ook kragwoorde in Die Bybel?

Is jy ‘n chroniese vloeker? Vloek jy nét wanneer jy tussen jou vriende is, en glad nie wanneer jy by jou ma is nie? Swets jy meestal in Afrikaans, of in Engels? Wat bewys die navorsing hieroor? Wat is die kraswoord wat Suid-Afrikaners die meeste gebruik? Gebruik mense vloekwoorde in verskillende sosiale omstandighede om ‘n identiteit aan te neem? Wat presies gebeur in jou brein wanneer jy ‘n vloekwoord uiter? Was daar kraswoorde in die Bybel, wat oor die jare uitvertaal is? En kan die sê van ‘n vloekwoord jou pyn verlig?

Esté de Klerk krap so klein bietjie dieper. Sy praat met ‘n taalkundige, ‘n sielkundige, ‘n afgetrede dominee, ‘n skrywer, en iemand wat, nou ja, toevallig bekend geword het omdat sy ‘n vloekwoord gesê het. WAARSKUWING: Daar is inhoud in dié dokumentêr wat sensitiewe luisteraars kan ontstel.

O Vloek! Om te swets of nie? DOKUMENTÊR 12 Maart 2026 DEUR: Esté de Klerk

Marelize en Heidi Horn

“Iemand het eendag gesê ‘n vloekwoord is ‘n plekhouer vir iets wat jy nie ‘n beskrywing voor het nie en ek dink dit het baie te doen met daai absolute: ‘Wat sê ek?’” Só sê die Namibiër, Heidi Horn, wat ses jaar gelede saam met haar dogter, Marelize, oornag ‘n internet-sensasie geword het omdat sy een vloekword gesê het wat op ‘n skreeusnaakse video vasgelê is wat soos ‘n warrelwind in Namibië en Suid-Afrika versprei het.

Deon Meyer

Die skrywer, Deon Meyer, sê mense het op dié manier met Heidi geïdentifiseer omdat dit so eg menslik was. “Ons het almal sulke oomblikke, ons het almal sulke mense in ons lewens, ons het almal sulke kinders wat iets aanvang wat jy niks anders kan sê nie, want verdomp gaan net nie in daardie oomblik die ding doen nie, gaan net nie die emosie weergee nie, gaan net nie die berisping wees wat jy nodig het vir daai oomblik nie.”

Vloek jy soms, nooit, of is jy ‘n chroniese vloeker? Vloek jy nét wanneer jy tussen sekere mense is, met ander woorde, jy neem die konteks en omstandighede waarin jy verkeer in ag? Of rol daardie kraswoorde sommer so van jou tong af en jy dink: ag basta met die mense wat aanstoot neem met hoe jy praat? Is dit vir jou lekker om te vloek en het jy al opgelet hoe dit jou laat voel wanneer jy daardie kraswoord losgelaat het?

Elmarie Claassens

Vloek vervul verskillende funksies en kan wel ‘n katarsis by ons ontketen wanneer ons wel die dag ‘n kraswoord sê – dit kan verligting bring. Die rede? Dit is omdat vloekwoorde anders as gewone woorde in die brein geprosesseer word, verduidelik die kliniese sielkundige, Elmarie Claassens. “Vloekwoorde is soos ‘n alarmknoppie in die brein – jy druk dit en die hele stelsel skrik wakker. Gewone taal is meer soos ‘n rustige epos – jy het tyd om dit te redigeer en jy kan dink of jy nou vir iemand dit wil sê of dat wil sê, en jy kan teruggaan soontoe. Maar vloekwoorde is meer soos ‘n whatsapp boodskap in hoofletters met rooi uitroeptekens. Die vloekwoord glip uit soos ‘n werknemer wat in die kantoor instorm en sê: ‘Ek kan nie meer nie!’ Dit glip uit en daar is juis nie tyd nie – omdat dit so vinnig gebeur – is daar nie tyd om verskriklik te dink daaroor nie.”

Dit kan dus stresverligting bring, en ook pynverligting bring – maar hier is wel perke, soos wat navorsing bewys het en ons bespreek dit in dié dokumentêr. Nie álle vloekers gaan pynverligting ervaar nie.

En dan is daar ook die vraag of daar wel kraswoorde in die Bybel was? En in ‘n vinnig veranderende tegnologiese wêreld is daar ook die vraag of ons sal wil hê ons Kunsmatige Intelligensie Assistente moet wel kan vloek of ons verstaan wanneer ons op hulle vloek?

In die dokumentêr O Vloek! Om te swets of nie? gaan krap Esté de Klerk so klein bietjie dieper na hoekom mense vloek, wat daardie kraswoorde kan ontlont, in watter taal ons eerder swets, of dit enigsins verligting kan bring en hoekom mense so maklik oordeel. Hierdie is ‘n dokumentêr waarin jy óf heerlik gaan saamlag, óf waarin jy gaan oordeel. Dit hang seker maar af vanuit watter bril jy die lewe bekyk!

In O Vloek! Om te swets of nie,  gaan krap Este de Klerk op Donderdag 12 Maart om 20:00 so klein bietjie dieper. Sy praat met ‘n taalkundige, ‘n sielkundige, ‘n afgetrede dominee, ‘n skrywer, en iemand wat, nou ja, toevallig bekend geword het omdat sy ‘n vloekwoord gesê het.

Angoras in die Stormberge

Ons kuier by Vetkraal Angoras van Christopher en Ruben Roberts. Dié plaas is geleë aan die voet van die Stormberge naby Burgersdorp in die Oos-Kaap. Dit is ongewone wêreld vir Angoras as jy dit met die Karoo vergelyk. Hierdie familie het egter al groot suksesse behaal. Daar is ook landbounuus, en Heinrich Victor is terug met die jongste wolmarkverslag.

Luister weer: Vryloop is toe nie vry nie

5 Maart
Vryloop is toe glad nie vry
is ‘n diepte-ondersoek deur Martelize Brink waarin sy kyk na wat “vryloop” en “organies” werklik beteken, aangesien produkte dikwels nie die hoë standaarde haal wat die etikette impliseer nie.

Jy koop vryloop oftewel free range produkte, want jy wil die gesondste moontlike produk eet en of jy gee om vir die lewenskwaliteit van die dier en hul welsyn. Maar, weet jy wat daardie etiket op die produk waarlik aandui? Beteken vryloop altyd gelukkige diere wat vrylik beweeg? En indien dit wel die geval is, is die diere waarlik gesonder, is dit gesonder vir jou as verbruiker en hoe pas die boerderypraktyke in by volhoubare voedselverskaffing?

Kenners, wetenskaplikes, regeringsamptenare en boere soos Farmer Angus word geraadpleeg om te verduidelik hoe hierdie terme gereguleer word, hoekom dit duurder is en of dit gesonder is.

Eitemal se klassieke “eselromannetjie” word ons vervolgverhaal vir die Pase

‘n Waarlik unieke middagvervolgverhaal word eersdaags op RSG uitgesaai.  Die veteraan regisseur, verwerker, en kenner van radioteater, Eben Cruywagen het Eitemal se eselromannetjie Jaffie vir die radio verwerk vir uitsending in die aanloop tot Paasfees. 

Fragmente van Jaffie het sedert 1953 in tydskrifte soos die Huisgenoot verskyn, en die volledige eselromannetjie is in 1957 deur AA Balkema gepubliseer. 

Eitemal (Prof. W J du P Erlank) was professor in Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch, en ‘n bekende digter, dramaturg en ook vertaler van onder meer Shakespeare en Goethe se werk in Afrikaans. Jaffie was in 1957 ‘n sterk aanspraakmaker op die Hertzogprys, en in 1959 is die Afrikaanse Letterkundige Vereniging se prys vir jonger prosa aan Eitemal toegeken.

“Die gedagte om Jaffie vir die radio te verwerk, het letterlik soos streelsagte konjak ’n goeie twee dekades – dalk meer! – in my onderbewussyn verouder, voordat die geleentheid hom uiteindelik voorgedoen het om Eitemal se goue woorde te verklank,” sê Cruywagen. 

Hy sê hoewel die roman in die tweede hoofstuk die Kersverhaal as agtergrond van die handelingsverloop aanwend en die slothoofstuk weer op Kersdag afspeel, “was die grootste indruk van die verhaal sedert my eerste kennismaking daarmee juis die unieke oordrag van die Christus-verhaal vanuit Oom Vaaltyn, die afgeleefde eseltjie, se eenvoudige begrip daarvan.” Cruywagen sê dit was vir hom logies om die verhaal te verwerk vir die Pase, en so die chronologiese  verloop van die Christusverhaal vanaf die geboorte in die nederige stal in Betlehem tot by die kruisiging op Golgota te vertel. 

Die kern van die verhaal is die vertelling deur die ou eseltjie, Vaaltyn – meesterlik  vertolk deur Tobie Cronjé.  Hy gesels deurlopend met die jong eseltjie Jaffie, vertolk deur Luan Jacobs.  Vaaltyn vertel vir Jaffie die geskiedenis van wat hy noem die eseldiere, sodat Jaffie kan weet waar hy vandaan kom, en watter rol sy voorgeslagte in die geskiedenis gespeel het van die geboorte van Christus tot en met die kruisiging. 

Cruywagen sê een van die uitdagings met die verwerking was om ‘n eensydige vertelling die hoof te bied, dus is die jong Jaffie ingespan as klankbord en vraesteller.  Ander karakters kom by wyse van terugflitse aan die woord wat dan Vaaltyn se vertelling vervang deur dialoog tussen die karakters van wie hy besig was om te vertel. 

Ander akteurs wat gehoor kan word is Andre Stolz, Bertha le Roux-Wahl, Rika Sennett, Ria Smit, Donovan Pietersen, Izel Bezuidenhout, Dihan Keun, Renske Jacobs en JJ Roberts. 

Die regie is behartig deur Ina Strydom.  “Dit was vir my baie belangrik om reg te laat geskied aan Eben se uitmuntende verwerking, en ook aan die eenvoud en die egtheid van die verhaal. Die teks het my laat dink aan ‘n waterverfskildery : subtiele, gedempte kleure, fyn lyne en ‘n geheelindruk van skoonheid.  Ek is dus báie dankbaar dat Tobie beskikbaar was vir die rol.  Ek kan aan niemand anders dink wat dit presies só sou kon weergee nie.  Elkeen van die ander spelers is met die hand uitgesoek om dié waterverfskildery-beeld in klank om te sit.  En die byklanke vir die verhaal is spesiaal vervaardig deur die gesoute klankman Frik Wallis.  Ek is baie dank verskuldig aan elkeen wat betrokke was, en vir die reuse voorreg om die regie te kon doen” sê Strydom.

Luister na die eerste episode:

https://omny.fm/shows/middagvervolgverhaal-1/jaffie-n-eselromannetjie-deur-eitemal-episode-1

Jaffie, ‘n Eselromannetjie deur Eitemal, word vanaf 2 Maart weeksmiddae om 14:40 op RSG uitgesaai.  Al die episodes sal ook op potgooi beskikbaar wees by www.rsg.co.za,  en ook op Spotify.

                                                                        einde

Wat sal in SA landbou gebeur as Suid-Amerika se reënwoude tot niet gaan?

Professor Stephanie Midgley, spesialiswetenskaplike in klimaatsverandering by die departement van landbou in die Wes-Kaap, was ’n spreker by COP, die VN se konferensie oor klimaatsverandering.

Sy praat oor die moontlike implikasies vir Suid-Afrika sou reënwoude in die tropiese gebiede van Suid-Amerika tot niet gaan.

Ná ‘n onlangse sneeustorting in Kalifornië vind ons ook uit of sneeustortings as natuurramp geklassifiseer word.

Dieremaniere: So word ‘n hond vir ‘n fliek afgerig

Optel is ‘n gemeenskap se hond, en nou is hy skoonveld. Die gemeenskap is ontsteld, en almal soek naarstiglik na hom. Hoor watter verskil ‘n dier in ’n hele gemeenskap maak, en ook ‘n rol in ‘n film speel.

Dit is die storie van Finding Optel, wat sy debuut in 2025 by die Silwerskermfees gemaak het. Dit het daar ‘n toekenning verwerf.

Mikayla Brown, skrywer, regiseur en aktrise vertel waarom sy juis hierdie storie van Optel wou vertel.

Maar om ‘n hond in ‘n film te sien, beteken daar was ‘n hond op ‘n filmstel. Garin van Munster doen diere-afrigting op filmstelle, televisiereekse en advertensies. Hy sorg dat perde galop en katte op die regte plek in in ‘n film miaau. Ons hoor hoe ‘n regisseur met diere in ‘n produksie te werk gaan.

https://omny.fm/shows/dieremaniere/rsg-bekbasaar-dieremaniere-episode-s2-e03