Nuwe feestyd-vervolgverhaal begin 24 November

Kersversierings van hoop deur Joe Kleinhans, is ‘n oorspronklike middagvervolgverhaal wat vanaf 24 November elke weeksdag om 14:45 uitgesaai word.

Kleinhans, die wenner van die  2007 RSG Radiodramaskryfkompetisie, is goed bekend aan luisteraars van radioteater en middagvervolgverhale. Hy vertel dat Kersversierings van hoop hom weliswaar uit sy gemaksone gedruk het.

Lelia Etsebeth is die regisseur, en het haar ervaring ingespan om aan elke karakter lewe te gee.

Die rolverdeling bestaan onder andere uit gunstelinge soos Tobie Cronjé, Marina Coetzee, André Stolz, Karen Wessels, Leon van Nierop, Heidi Mollentze en Charlie Bouguenon.

Die storie

In die verhaal word die rol en invloed van ‘n hopie kersversierings op ‘n huisgesin toegelig.

Hannes (Charlie Bouguenon) en Lena (Heidi Mollentze) word groot met ‘n kersboom en kersversierings. Dis ‘n tradisie wat hulle voortsit met hulle kinders Emma (Imarie Oberholzer) en Ben (Dihan Keun).

Maar met Emma uit die huis en Ben op pad universiteit toe, sit die twee ouers met die dreigende leënessindroom. Skielik staan die boks vol kersversierings half vergete in die pakkamer.

Die kersversierings is maar al te bewus van die spanning in die huis. Ben se matriekwegbreek en die slegte nagevolge van sy besluit, verhoog die spanning. Hannes word onverwags na sy baas se kantoor ontbied met dramatiese gevolge en dit voel vir die kersversierings of Kersfees  besig is om te ontspoor.

Kersversierings van hoop fokus op mens (én kersversierings) se stryd teen die wêreld se beweging na modernisering en die wegdoen met simboliek. Emma en Ben se reis na jong volwassenheid weerspieël die universele konflik oor hoe om volwasse te wees sonder om die betowering van die tradisie en nostalgie prys te gee.

Die kersversierings het elke jaar een seisoen. Hierdie tydsdruk plaas hulle normaalweg onder spanning, maar vanjaar is dit erger. As hulle nie daarin slaag om hulle waarde en relevansie te behou nie, word hulle moontlik vir altyd weggegee. Terwyl hulle die lief en leed van die huismense intens beleef, voel die kersversierings die omgekeerde is nie waar nie. Hulle soek naarstiglik na beter maniere om met die huismense te kommunikeer.

Dit lyk asof die kersversierings hartlik en feestelik saamleef, maar die vrede word dalk versteur. Hulle verskille is juis vanjaar groter vanweë die moontlikheid dat hulle nie langer in dié huis gebruik gaan word nie. En dan is daar natuurlik die impak wat Worsie (Phillru van Achterbergh) die worshond op hulle het. Die Dachshund verpes die kersversierings omdat hulle gedurende die Kerstyd al die aandag kry wat hy glo hom toekom. Hy maak dit sy doelwit om ‘n einde te bring aan die kersboom en kersversierings in die huis.

Wie is wie: die rolverdeling

Hannes (Charlie Bouguenon) is in sy middel vyftigs, stil en bedagsaam, geheg aan tradisie, maar laat Lena sy vrou, aanvanklik die leiding neem. Hy is ‘n knap meulmaker, wat gemoeid is met die herstel en installering van meganiese toerusting wat elektries aangedryf en beheer word. Na dertig jaar se diens verander sy beroepslewe skielik sonder waarskuwing.

Lena (Heidi Mollentze)  het pas vyftig geword, is goedhartig en prakties. Sy is trots op haar huis maar wil eenvoudiger leef omdat die kinders uit die huis gaan. Die dreigende leënessindroom kan haar laat ontspoor. Nostalgie krap haar om. Maar Lena is die een wat meer kontak met die kersversierings begin maak en sy begin met haar gunsteling Gloria, die goue engel, haar “kersboomkroon”.

Emma (Imarie Oberholzer) is uit die huis verpleegkollege toe. Sy werk en studeer en voel haarself geroepe om haar in verpleging te bekwaam. Maar dit bring ‘n nuwe leefwyse mee waarin die wonder van die kersboom in dié stadium van haar lewe nie meer naastenby so belangrik is as wat dit in haar kinderjare was nie.

Ben (Dihan Keun) het pas matriek geskryf. Hy is ietwat van ‘n rebel en hy glo Kersfees is ‘n truuk om geld te maak.  Hy wil nie langer soos ‘n kind behandel word nie. Hy kry die idee vir ‘n matriekwegbreek in Ballito saam met sy vriende.  Daarvoor het hy maande lank as kelner gewerk  om geld te spaar. Maar hulle kry motorprobleme  en beland in ‘n ernstige motorongeluk met tragiese gevolge.

Meneer Eben Glas (Leon van Nierop) is ‘n afgetrede ornamentmaker in sy vroeë sestigs. Hy het elke jaar die kersversierings van sy gereelde kliënte nagegaan, maar vanjaar doen hy sy laaste rondte. Hy moes sy winkel “Glas en Gees” toemaak weens ‘n dalende vraag na sy dienste, maar by terugskouding weet hy dis onder andere omdat hy nie in pas gebly het met die moderne manier van bemarking nie. Hy is glad nie vertroud met die impak van sosiale media nie en daarom klop hy by Ben aan.

Blink (De Waal Stemmet) is ‘n ou diskobal-ornament uit 1980. Hy is sinies en kla baie. Tog sit daar ‘n sagte hart agter sy sarkasme.

Tinsel (Tobie Cronjé) is ‘n dramatiese hiperaktiewe string klatergoud. Hy is baie emosioneel en dit vererger ná hy ontvoer word en in die tuin in die krismisroos opgehang word. Hy is mal oor flair en toneelspel. Jy wil vir hom lag, én jy kry hom jammer.

Oupa Krismis (Allan Dyssel) is ‘n tradisionele rooi-en-groen, handgeverfde glasornament in die vorm van ‘n miniatuur Kersvader. Hy was eens kroon op die kersboom  voor Gloria hom onttroon het en hy staan hy bedeesd onder die Kersboom.

Luma en Lux (Karen Wessels en Lizelle Pike) is die vonkelende kersliggies. Hulle is soos ‘n tweeling wat saam kan praat en sing. In hulle helder lig lewer hulle maklik sosiale kommentaar. Hulle kan mekaar afwissel deurdat een liggie prakties kan dink terwyl die ander liggie ‘n regte dromer vir die oomblik is.

Oubaas Denne (André Stolz) die herbruikbare kunsboom word uit verskeie dele saamgestel en is gekoop toe die regte kersboom siek geword en doodgegaan het. Dit was ‘n regte tranedal in die huis, en dit was die enigste rede waarom Lena ingestem het dat die nuwe Oubaas Denne gekoop kon word.

Worsie (Phillru van Achterbergh) is die worshond van die huis. Sy voorsate kom uit Duitsland en daarom verkies hy om Dachshund genoem te word. Hy is gespierd met kort, stomp bene. Sy voorpote is buitengewoon groot en spaanvormig en hy hou daarvan om gate te grawe. Worsie misbruik natuurlik al sy stamina om die kersversierings te terroriseer.

In Kersversierings van hoop moet  daar uiteindelik ‘n besluite geneem word oor die kersversierings se pad vorentoe. Die verhaal is spesiaal vir RSG geskryf deur Joe Kleinhans. Met Tobie Cronjé, Marina Coetzee, André Stolz, Karen Wessels, Leon van Nierop, Heidi Mollentze, Charlie Bouguenon, Dihan Keun, Imarie Oberholzer, De Waal Stemmet, Luan Jacobs, Allan Dyssel, Lizelle Pike en Phillru van Achterbergh.

Oud en jonk kan vanaf 24 November op  weeksdae om 14:45  opnuut kom deel in die betowering van Kersfees en die besonderse rol van kersversierings in dié tydperk. Luister op RSG, rsg.co.za en SABC Plus. Elke episode is na afloop van die uitsending beskikbaar op RSG se  potgooi en op Spotify.

Prestigetoekennings vier taal- en kultuurreuse

Tydens ’n spoggeleentheid by Die Boekklub in Johannesdal buite Stellenbosch is vier vooraanstaande Suid-Afrikaners – Magdaleen Kruger, Max du Preez, Hein Willemse en Philip de Vos – met die ATKV se Prestigetoekenning vereer vir hul onmiskenbare impak op die Afrikaanse taal- en kultuurwêreld.

Elke ontvanger het ook ’n skildery van Henk Serfontein ontvang. Die seremoniemeester van die aand was Kabous Meiring. Sy het gesê dis belangrik dat hierdie mense se name by vorige ontvangers gevoeg word, omdat hulle die ruimte in Afrikaans geskep het waarin ons tans in Afrikaans kan werk en kreatief wees. Sy het ook van die groot datums in Suid-Afrika se geskiedenis sedert 1930 uitgelig en gesê met elkeen van daardie gebeurtenisse was die ATKV die afgelope 95 jaar deel daarvan.

Die ontvangers

Magdaleen Kruger is vereer vir haar bydrae tot radio, waar sy vir meer as 32 jaar as verslaggewer, regisseur, redakteur, omroeper en eindelik stasiebestuurder van RSG gewerk het. Wat sy vir openbare diensradio verrig het, is van onskatbare waarde.

Kobus Burger – radioman by RSG, kunstejoernalis, regisseur en rolspeler in die Afrikaanse kultuurlandskap – het die commendatio vir Kruger gedoen. Hy werk as kuns- en kultuurredakteur en is betrokke by verskeie radiodramas en musiekprogramme.

Kobus was by RSG ’n jarelange kollega van Magdaleen en het in sy commendatio gesê: “In die gange van die SAUK, onder leiding van Magdaleen Kruger, is daar na RSG verwys as die ‘olieboor van die SAUK’. In die sowat 15 jaar as RSG se stasiebestuurder, het sy die nasionale Afrikaanse uitsaaier se winsgewendheid en gehaltesuksesse uitgebou.

“Haar liefde vir taal, asook die kunste en kultuur, het reeds tydens haar jare by die ATKV uiting gevind toe sy die organiseerder vir toneel en klassieke musiek was. Later was sy aanbieder van Taaldinge op RSG, en tans is sy steeds die anker van Loof die Here, een van die oudste programme op Afrikaanse radio.

“Van nuus en musiek tot taal, talentbestuur en selfs die georganiseerde vakbondwese, het Magdaleen Kruger in haar meer as drie dekades by die SAUK haar stempel afgedruk en seker gemaak dat die verveling van voorspelbaarheid nie die vlamme van die draadloos blus nie.”

Magdaleen het met ontvangs gesê die toekenning is ’n groot eer, dat sy ’n sagte plek het vir die ATKV en dat die tyd by die ATKV vroeg in haar lewe haar baie goed voorberei het vir die posisies wat sy later in haar lewe beklee het. Daar het sy geleer organiseer en om mense te kan bestuur.

Sy het gesê sy moet vir heelwat mense dankie sê, want haar sukses is te danke aan ’n groot klomp mense se bydrae.

Prof. Hein Willemse, akademikus, skrywer en kultuurdenker, is vereer vir sy werk oor kanonisering, kreolisering en marginalisering in die Afrikaanse letterkunde, die meervoudige geskiedenisse van Afrikaans en die rol van bruin en swart Afrikaanssprekendes in die taal se ontwikkeling. Hy het wyd gepubliseer oor temas soos identiteit, taalpolitiek en die dekonstruksie van die Afrikaanse kanon.

Willemse is bekend as ’n dekoloniale denker wat Afrikaans help beskou het as meer as net “die taal van die onderdrukker”. Sy werk het ’n groot invloed op die verbreding van die Afrikaanse literêre en kulturele gesprek gehad.

Die akademikus en literator, prof. Willie Burger, verbonde aan die Universiteit van Pretoria as professor in die Afrikaanse letterkunde en bekend vir sy werk oor narratologie, literêre teorie en Afrikaanse prosa, het prof. Willemse se commendatio behartig.

Hy het gesê Willemse het ongetwyfeld ’n volgehoue bydrae op verskeie terreine van die Afrikaanse taal- en kultuurlandskap gelewer, “maar sy belangrikste bydrae is dat hy in der waarheid die manier waarop ons óór die konsep ‘Afrikaanse taal en kultuur’ dink, help verander het.

“Die variëteit van Afrikaans wat in woordeboeke en grammatikas beskryf is en tot amptelike taal verhef is, het ’n groot groep Afrikaanssprekendes uitgesluit. In ons dae het hierdie kennis nou al gemene besit geword en (byna) almal stem daarmee saam, maar dit het algemene kennis geword danksy die werk van onder meer Hein, wat met onverdrote ywer die gevestigde opvatting van Afrikaans en die Afrikaanse literêre kanon uitgedaag het.

“Hein het die gemaksone van beskouings oor Afrikaans se herkoms en die literêre kanon deur sy navorsing uitgedaag. Sy boek Aan die ander kant is baanbrekerswerk. Hy grawe vergete, gemarginaliseerde stemme uit en wys voortdurend dat daar ook ’n ander kant aan elke verhaal is. Ná blootstelling aan Hein Willemse se werk, kan geen kritikus meer onbewus bly van die kant waarvandaan hulle kyk nie.”

Prof. Willemse het met ontvangs gesê een van die groot dinge wat ons met die geskiedenis van Afrikaans verloor het, toe Afrikaner-nasionalisme Afrikaans gekaap het, is die taal se bindingskrag oor die hele land. “Ek dink ons kan dit herwin; Afrikaans behoort nie net aan een groepering nie. Dis – naas Engels – die een taal wat al die spore van hierdie land dra – van alle gemeenskappe en oor alle grense heen.”

Max du Preez is ’n invloedryke figuur in die Suid-Afrikaanse media- en kultuurlandskap. Sedert sy vroeë werk in koerante en sy toonaangewende stigting van Vrye Weekblad tot sy latere werk as skrywer en kommentator, illustreer sy loopbaan ’n strewe na onafhanklike joernalistiek en ’n bereidheid om risiko’s te neem ter wille van die waarheid en regverdigheid.

Hy het verskeie boeke geskryf, waaronder sy memoires Pale Native: Memories of a Renegade Reporter (in beide Afrikaans en Engels) en ander werke soos Of Warriors, Lovers and Prophets en Of Tricksters, Tyrants and Turncoats.

Du Preez staan bekend as ’n Afrikaner wat gedurende ’n tydperk van groot politieke verandering sy taal- en kultuurruimte gebruik het om magstrukture uit te daag. Hy beklemtoon dat joernalistiek nie bloot verslag doen nie, maar ook ’n morele rol in die burgerlike samelewing speel.

Die skrywer en joernalis Jacques Pauw – wat bekend is vir sy ondersoekende joernalistiek – het Du Preez se commendatio behartig. Pauw het vir verskeie koerante en televisieprogramme gewerk en talle korrupsie- en politieke skandale ontbloot.

Hy het oor Du Preez gesê: “Toe ek hom in 1987 leer ken het, het hy geglo in vryheid, gelykheid en ’n geleentheid vir almal. Dis dié beginsels wat ons probeer uitleef het toe ons die Vrye Weekblad ’n jaar later begin het.

“Max du Preez is ’n held, al vir vyf dekades lank. In die donkerste tye in Suid-Afrika, soos met die noodtoestand van die later-80’s, het hy ’n lig op die verskriklikhede geskyn vir diegene wat wou sien. Elke boek wat hy geskryf het en elke stukkie joernalistiek wat uit sy pen gevloei het, is ’n standbeeld vir een van Suid-Afrika se grootste seuns.”

Du Preez het met ontvangs gesê hy praat Vrystaatste Afrikaans – die neutraalste van al die Afrikaanse variëteite, maar hy is mal oor die taal; hy is trots om te sê dis sy moedertaal en hy is mal oor die taal in al sy variëteite en aksente. Dis ’n wonderlike ding waarmee hy graag speel en eksperimenteer.

Hy het vertel dat hy aan geen party of organisasies behoort nie, maar hy is ’n lid van die ATKV – die minste rasgereguleerde beweging in die land – en dit sê iets.

“Dis vir my ’n vreemde ding om erkenning vir die Afrikaanse deel van my te kry. Dit kom min vanuit Afrikaanse geledere en dit maak dit vir my baie meer spesiaal.

“Afrikaans is vir my ’n hartsding en dit moet die mooiste storie wees van ’n taal wat ooit ontstaan het.”

Philip de Vos is vereer is vir sy werk as onderwyser, operasanger, skrywer en fotograaf. Hy het sedert 1984 al meer as 30 boeke in Afrikaans en Engels gepubliseer, met ’n sterk fokus op kinderliteratuur, limerieke en “nonsenspoësie”. Fotografie vorm ’n belangrike deel van sy werk. Hy het verskeie solo-uitstallings gehou, fotobundels gepubliseer en baie erkenning vir sy werk as fotograaf ontvang. Sy nuutste boek, Die jaar toe dit gemmerbier gereën het, is onlangs gepubliseer.

Frieda van den Heever – musikant, sangeres, liedjieskrywer, aktrise en radioaanbieder – het die commendatio vir Philip gedoen.

Sy het in haar toespraak gesê: “Een van my gunstelingskrywers het eens gesê: ‘Storytelling is an act of hospitality.’ Philip de Vos is gasvry verby. Hy steek sy meegevoelers uit (om ’n metafoor te gaan leen by sy geliefde goggas) in alles wat hy aanpak – of dit in verse skryf, foto’s neem of musiek is. In alles wat hy deel, skemer die donker én lig deur, die swoeg én sweef, die pyn én plesier, die klippe kou én die lugkastele bou. Nie omdat hy probeer nie, maar omdat die lewe so is en hy lewensgetrou skep.

“Philip se aanvoeling en intuïsie is inspirerend, en sy ligvoetige styl het al diep spore in my en soveel ander lesers se binnelandskap gelaat. Dit word gekenmerk deur wonder, avontuur, verbeelding, humor, verrassings, oënskynlike paradokse en woorde wat musiek maak.”

Sy het Nelia Gerber, ’n leerder van die Laerskool Totius, voorgestel, wat een van Philip se versies opgesê het.

Philip was oorbluf en het gegrap dat hy op 86 amper so oud soos Afrikaans as amptelike taal is! Hy het gesê hy is dankbaar dat hy rym ontdek het en al weet hy tot vandag toe nie hoe om te skryf óf hoe om te sing nie – hy dóén albei net – weet hy:

“Elke voëltjie het sy lied –

selfs die seevoël en die kokkewiet.

Of dit nou fraai of goor of gek is,

elkeen sing maar soos hy gebek is.”

Philip het die hoop uitgespreek dat hy nog baie kan sing soos hy gebek is.

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, het gesê dis vir die ATKV belangrik om platforms te skep waar mense hulself kan uitleef. “Dis belangrik vir Afrikaans om sy plek in die land in te neem – nie as verdeler nie, maar as brugbouer en medium waarin versoening en nasiebou kan plaasvind.

“Ons het vanaand voorbeelde van mense wat uitgestyg het omdat hulle nie noodwendig gekonformeer het nie – nie in ’n bepaalde boksie gebly het waarin ons mense wil plaas nie.

“Afrikaans is groot, dis wyd, dis baie divers. Dit het baie tongvalle; dit het baie invalle en ’n ryk geskiedenis wat baie verder strek as net die amptelike 100-jaar-viering van Afrikaans in 2025.”

Sy het gesê dis ’n taal wat gebore is uit ’n behoefte van mense wat in ’n land aangekom het en wou kommunikeer met dié wat hulle hier aangetref het. “En as dit die oorsprong van ’n taal is, kan ek nie sien hoekom die taal nie sal voortleef nie.”

Vorige ontvangers van die ATKV-Prestigetoekenning sluit in dr. Anton Rupert (sakeleier), PG du Plessis (skrywer), lt.genl. M. van Vuuren (kultuurleier), Mimi Coertse (operasangeres), prof. Elize Botha (akademikus), prof. TT Cloete (digter), Elsa Joubert (skrywer), Peet van Staden (mediaman), Riaan Cruywagen (TV-nuuslegende), Antjie Krog (digter), prof. Richard van der Ross (akademikus), David Kramer (musikant), Tim du Plessis (joernalis), Marida Swanepoel (mediaskepper), Coenie de Villiers (sanger en liedjieskrywer) en Diana Ferrus (skrywer).

Jou oë verklap baie van jou gesondheid

Jou oogkundige kan baie uitvind van jou oë en jou gesondheid wanneer oog-ondersoeke gedoen word.

Buiten om vas te stel hoe gesond jou lense, jou retina en jou makula is, kan die oogkundige ook ‘n idee kry of jy verhoogde bloeddruk of cholesterolvlakke het, diabetes, verhoogde tiroïed-funksie, harsingskudding en nog meer.

Luister weer na “Eindfluitjie” en beleef weer die 1995 Wêreldbeker-oorwinning

Waar was jy tydens die 1995 Rugby Wêreldbeker finaal? En onthou jy nog Stransky se skepskop?

Regisseur Johan Rademan was saam met Heinrich Marnitz 30 jaar gelede in die kommentaarspan.

In Donderdagaand se radioteater onder regie van Johan Rademan, beleef jy saam die 15-12 Springbok oorwinning oor die All Blacks en al die skoppe (waarvan drie skepskoppe) in Albert Short se Eindfluitjie.

https://omny.fm/shows/radioteater/eindfluitjie-deur-albert-short

Die storie en die werklikheid

‘n Seun wie se droom om eendag die groen-en-goud te dra, het nie kaartjies vir die eindstryd nie, maar beland langs die Ellispark Rugby-stadion waar hy self wonderwerke beleef en ‘n liefde ontdek in ondernemende geselskap.

Die drie skoliere word vertolk deur Stefan Vermaak, Jane de Wet en Eloff Snyman, terwyl Wilhelm van der Walt, Roeline Daneel en Deon Lotz die ouer garde verteenwoordig.

Deon Lotz was toevallig in ‘95 met sy Springboktruitjie as ‘n toeskouer in die pawiljoen. Een van die Springbokke se troefkaarte was Roger Whittaker se lied, “I don’t believe in if anymore” wat oor en oor op die bus van die hotel af gespeel is.

Daar was die Lebombo – Boeing 747 verby vlugte. Dalk was Lebombo ons “Bom-squad” in 1995.

Ou Suzie wat die All Blacks op hol gehad het.

Leon Schuster se “Hie kommie Bokke”, Mandela se 6-Trui en PJ Powers se “World in Union.”

Hoor jy dit, ruik jy dit en voel jy dit nog?

Luister Donderdagaand 20 November om 20h00 na dié radiodrama. Staal jou vir ‘n grote! Beskikbaar op rsg.co.za as Potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

 

 

Ons nuwe Bekbasaar ‘Die Reine Wynheid’ is ‘n ryk verkenning van SA se wynerfenis

RSG, Suid-Afrika se grootste Afrikaanse radiostasie, is verheug om die bekendstelling van sy nuutste, opwindende bekbasaar, Die Reine Wynheid, wat fokus op wyn en alles wat daarmee te doen het, aan te kondig.

Onder leiding van die ervare radiopersoonlikheid Martelize Brink, beloof hierdie program om luisteraars op ‘n intieme en insiggewende reis deur die ryk en diverse wêreld van die Suid-Afrikaanse wynbedryf te neem.

Die Reine Wynheid is meer as net ‘n program oor wyn; dit is ‘n viering van ons nasionale wynerfenis, wat strek van die historiese begin in 1659 tot die hedendaagse wyn-innoveerders.

Martelize Brink sal weekliks legendes, nuwe wynkunstenaars, sommeliers, wingerdboukundiges, bemarkers en passievolle sjefs in die ateljee verwelkom.

Wat Luisteraars Kan Verwag:

  • Historiese Rykdom: Die program delf in die nalatenskap van ikone soos Groot Constantia, die impak van die KWV, en die opkoms van streeksfenomene soos die “Mavericks van Malmesbury”.
  • Diverse Stemme: ‘n Platform vir groot en klein wynprodusente uit al die wynstreke van Suid-Afrika, wat hul stories, uitdagings en suksesse deel.
  • Insiggewende segmente: Martelize se weeklikse segment “my wyn van die week” bied persoonlike aanbevelings, terwyl sy ook interessante en soms vreemde wynfeite van regoor die wêreld deel.
  • ‘n Speelse Afsluiting: Elke episode eindig met vyf vinnige, persoonlike vrae aan die gaste, insluitend die heerlike intrige: Wie is hulle wynmaker “crush” en indien hulle ‘n wyn was, watter wyn sou hulle persoonlikheid die beste verteenwoordig?

“Ons is ongelooflik opgewonde oor Die Reine Wynheid,” sê Louise Jooste, RSG se Sakebestuurder.

“Hierdie program beklemtoon RSG se verbintenis om kwaliteit, opvoedkundige en vermaaklike inhoud te verskaf wat luisteraars toelaat om hulself te verdiep in die passie en kundigheid agter een van Suid-Afrika se trotse bedrywe. Martelize Brink se kundigheid en warmte maak haar die ideale gids vir hierdie bekbasaar.”

“Dit is vir my heerlik om hierdie Bekbasaar aan te bied,” sê Martelize Brink “Ons wynbedryf en sy mense is vol stories, heerlike interessanthede en stories wat jy eksklusief op die bekbasaar sal hoor.”

Die Reine Wynheid sal beskikbaar wees op al RSG se digitale platforms (rsg.co.za, SABC+, Spotify en YouTube).

Jy kan elke Woensdag uitsien na nuwe episodes. Luister saam en word deel van die gesprek wat die ryk, vrugbare grond van ons wynkultuur eer.

 

Ouma wen 2025 se Bakgat-beskuitkompetisie: bestel die wenners se beskuit hier

‘n Ouma van Pretoria met nege kleinkinders wat behoorlik smul aan haar beskuit, is as die algehele wenner aangewys in RSG en Virseker se landwye soektog na die land se “bakgatste” beskuit. Magda Janse van Vuuren (71) het ‘n totale pryspakket ter waarde van meer as R700 000 ontvang.

Van Vuuren met haar “Alles in een”-ontbytbeskuit het ook in die modern-kategorie gewen met Dominique Stander van Alberton en Martie Lamprecht van Klerksdorp in onderskeidelik in die tweede en derde plek.

Neels Heydenreich (58) van Ermelo het in die tradisioneel-kategorie koning gekraai met sy anysbeskuit. Izanne Barnard van Gqeberha was in die tweede plek en Carine van der Merwe van Jeffreysbaai in die derde plek.

Marthlé Smit van Gqeberha, 2024 se Bakgat-wenner, was een van die eindronde se beoordelaars en het die algehele wenner regstreeks op RSG aangekondig.

Van Vuuren was sprakeloos toe sy na afloop van die finale proe-beoordeling as Bakgat-bakster aangewys is.

Die 2025 Bakgat-beskuitkompetisie was vanjaar dubbeld so groot en het luisteraars uitgenooi om in twee kategorieë in te skryf: Tradisioneel en Modern. Die passie en kreatiwiteit van Suid-Afrika se bakkers het alle verwagtinge oortref.

Die uitdunproses was vanjaar besonder uitdagend weens die twee afdelings. Tydens streng proe-rondes is die oorspronklike inskrywings tot ‘n groep van top-finaliste verminder, wat die beoordelaars se taak om die wenner van die land se beste beskuit te bepaal, net moeiliker gemaak het. Die Top 6-finaliste se beskuit is op Nasionale Beskuitdag, Donderdag 13 November, een laaste keer geproe om ‘n wenner aan te kondig.

Die ses van die bestes van Suid-Afrika se bakkers is tydens ‘n luisterryke geleentheid by Virseker se kantore in Johannesburg geproe met RSG se Eloise Cupido en Derrich Gardener as die gasvrou en gasheer.

Die finale paneel beoordelaars het onder andere 2024 se wenner, Marthlé Smith ingesluit, asook bekendes en kenners uit die kos- en entrepreneurskapswêreld.

Die 2025-prys is spesifiek saamgestel om die wenner in staat te stel om hul eie sake-onderneming te kan begin en uit te brei:

  • R500 000 se lugtyd op RSG.
  • Die ontwikkeling van die wenner se onderneming se korporatiewe identiteit.
  • Blootstelling op Maroela Media ter waarde van R70 000.
  • Beskuitpanne van Panneman
  • R30 000 kontant geskenk deur Virseker.
  • Mentorskap deur Michelin-Chef, Jan-Hendrik van der Westhuizen!

Die wenners in elke kategorie ontvang ook elk R10 000 van Virseker. Die tweede en derde plek ontvang elk R5 000 geskenk deur Virseker. Panneman borg ook beskuitpanne vir al die top-finaliste.

“Ons voel Virseker en Afrikaans gaan hand aan hand soos koffie en beskuit. Ons deel RSG se liefde en opwinding vir Afrikaans,” sê Morné van Emmenes van Virseker oor hierdie besonderse vennootskap. “Om entrepreneurskap te bevorder terwyl ons die Afrikaanse gemeenskap deel maak van die projek, is vir ons ongelooflik vervullend.”

Louise Jooste, RSG se sakebestuurder, het haar dankbaarheid uitgespreek. “RSG se luisteraars is werklik die heel beste. Ons is oorweldig deur die passie van die deelnemers en die verskeidenheid baksels in die nuwe kategorieë. Nogmaals dankie aan elke deelnemer. Mag julle dryfkrag vir julle vele deure open.”

Soos in verlede jaar, sal die oorblywende beskuit-inskrywings aan behoeftige mense en instellings versprei word in samewerking met liefdadigheidsorganisasies, om sodoende ‘n tasbare verskil in die gemeenskap te maak.

As jy by ons finaliste wil beskuit bestel, kontak hulle gerus:
  • Neels Heydenreich – Anys: neelsheydenreich@gmail.com
  • Dominique Stander – Death by Chocolate: nikkistander7@gmail.com
  • Izanne Barnard – Karringmelk: mammasegebak@gmail.com
  • Martie Lamprecht – Pistatio en cranberry Biscotti fingers gedoop in koffiesjokolade: martielamprecht@gmail.com
  • Carine van der Merwe – Karringmelk: vdmfam@hotmail.com
  • Magda Janse van Vuuren: Haar beskuit sal eersdaags in Plato’s landswyd te koop wees, waarna sy eersdaags haar eie winkel sal loods. Hou ons platforms dop vir verdere inligting.

Vir meer inligting, besoek rsg.co.za of die stasie se sosiale media.

Luister weer: ‘Desembersterre’ gee ‘n komiese kykie in die lewe van TV-sterre

Glanspaartjies en die leefwêreld van bekendes is nie altyd maanskyn en rose nie. In Desembersterre wat op 13 November uitgesaai word,  het Helena Hugo haar ervaring as aktrise en skrywer vervat in ‘n pittige komedie wat juis die wel en weë van die voorbladgesigte ontbloot. Geniet ‘n kykie agter die skerms in die lewe van TV-sterre.

Die storie

Desembersterre is geskoei op ‘n komiese liefdesverhaaltjie wat Helena ‘n paar jaar gelede geskryf het. Dit is gebaseer op haar eie ervaring van die toneelwêreld, die wel en weë van akteurs, aktrises en ja, gewilde sepiespelers.

Agter die skerms is hulle ook maar net gewone mense wat hopelik soms vir hulself  kan lag.

Die lewens van bekende sepiesterre prikkel die verbeelding van Jan Alleman. Voorblaaie vertel die stories van hul lewens agter die kameras. Deesdae neem sterre die storie in hul eie hande en deel hul lewens op sosiale media. Beide die platforms vertel steeds net geselekteerde en soms gepoetste weergawes van dit wat die sterre en die vervaardigers met ons wil deel.

Desembersterre bied ‘n humoristiese kyk op die regte lewens van ‘n paar sepiesterre en ons leer meer oor hul persoonlike en professionele uitdagings. 

Die akteurs

Lizelle Pike, Dihan Keun, Botha Enslin, Mia-Anne O’Kennedy, Sean Brebnor en Rian Terblanche is in die rolverdeling.

Van die skrywer – Helena Hugo

“Ek het my CV gaan raadpleeg en met ‘n skok besef dat ek my eerste radiotekste, al in 1978 geskryf het: Atlantis, ‘n vervolgverhaal van 15 episodes vir Iris Bester se Jongspanateljee.”

Daarna het sy verskeie boekverwerkings gedoen voordat sy haar eie stories vir volwassenes begin skryf en opgevoer het. Sy is nogal trots is op haar  ATKV-veertjie vir Swane. “Radiodrama as genre fassineer my geweldig en ek is dankbaar dat ek steeds my bydrae kan lewer,” sê Hugo.

Van die regisseur – Estel de Beer

“Ek het besluit om die karakters, selfs wanneer hulle nie op die kassie is nie, ietwat as karikature uit te beeld. Nie omdat akteurs in die regte lewe altyd so is nie, maar omdat die publiek soms vergeet dat akteurs ook net gewone mense is.”

Helena se spitsvondig skryfstyl en dialoog in die drama het juis ruimte geskep vir die interpretasie. Ons leun werklik in die drama in.

Desembersterre het talle musiekbrûe. Dit spreek ook tot die wêreld van die vermaaklikheids-industrie waar musiek ‘n groot rol speel in die vervaardiging van produksies. Daar is deur die hele drama van instrumentale musiek gebruik gemaak sodat die enigste dialoog die van die akteurs is, juis omdat die kollig altyd op hulle val. Die liedjies is egter nie lukraak gekies nie en musiekliefhebbers wat die liedjies herken sal verstaan hoe die lirieke (wat jy in jou gedagtes kan saamsing) by spesifieke tonele inpas.

 

 

 

 

Wat is akwakultuur? En rooigety?

Wat is akwakultuur? Ons stel ondersoek in aan die hand van ongewone voorbeelde van die uithoeke van die aarde af.

Ons hoor by ‘n kenner hoe om akkuraat te antwoord wanneer die kleinspan vra wat rooigety is.

Ferdie Endeman, ‘n spesialisvoorligter in akwakultuur by die Departement van Landbou in die Wes-Kaap, deel stories oor ‘n plaaslike waterboer.

https://omny.fm/shows/rsg-landbou/rsg-landbou-3-november-2025

Illustrasies: https://www.researchgate.net/figure/Different-aquaculture-production-systems-in-closed-tanks-ponds-and-raceways-and-open_fig1_380643763