Igna Klynsmith praat oor motorongelukke, en padreëls wat verontagsaam word.
Spesialisgas Elsa Kruger-Willemse praat oor ‘n Wes-Kaapse regter se beweerde onregmatige besetting van eiendom, en die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond.
Ons praat oor hoe sosiale media stil-stil jou selfbeeld kan beïnvloed, en hoe jy kan keer dat ander mense se hoogtepunt-oomblikke jou eie lewe minderwaardig laat voel.
Sosiale angs gaan nie net oor skaam wees nie. Vir baie mense aktiveer sosiale situasies dieselfde stresreaksie in die brein as ’n werklike bedreiging, met simptome soos hartkloppings, oormatige selfbewustheid en ’n intense vrees om beoordeel te word.
Ons volg ’n 2018-toer van veterane van die 61 gemeganiseerde bataljon na Angola, waar hulle ná dekades se trauma en onverwerkte herinneringe weer die slagvelde van hul jeug besoek.
’n Onlangse uitspraak in die Wes-Kaapse Hooggeregshof sê dat produsente slegs sekere beperkte landboumiddels mag aankoop en aanwend sonder om as plaagbeheeroperateurs geregistreer te wees.
Dit plaas die kollig op verantwoordelikheid in die landbouwaardeketting.
Veekundige dr. Chris de Brouwer praat oor langlewendheid en moedereienskappy by vleisbeesrasse.
Wat begin het as ‘n besigheidsidee om vir sy matriekafskeid te betaal, het gelei tot ‘n beurs om besigheid te gaan studeer. Rudolph Lekay deel sy inspirerende verhaal.
19 Maart Jaco de Waal gaan loer op Donderdag 19 Maart In die skadu van verslawing. Hy vra – watter rol speel skaamte (“shame”) in die tentakels van ‘n magdom verslawings. Wat maak dat mense nie eetversteurings of alkoholisme kan oorkom nie. En watter rol speel emosies?
Agter elke verslawing is daar ’n storie. Sommige gevul met hoop… ander sonder ’n einde.
In die skadu van verslawing neem jou dieper as net die oppervlak – na die werklikheid van wat in die brein gebeur, die emosionele stryd, en die impak op families wat saam die pad stap.
Verslawing verander nie net die lewe van een persoon nie – dit raak families, verhoudings en hele gemeenskappe. Dit werk stil, dikwels onsigbaar, totdat die impak onmiskenbaar word. Tog bly dit een van die mees misverstaande toestande, met baie mense wat steeds glo dit gaan bloot oor swak wilskrag of keuses.
In die radiodokumentêr In die skadu van verslawing word hierdie wanopvattings uitgedaag deur eerlike gesprekke met kenners en mense wat eerstehands met verslawing leef. Die dokumentêr ondersoek wat fisies in die brein gebeur wanneer iemand verslaaf raak, hoekom dit so moeilik is om op te hou, en hoe die pad na herstel lyk – of soms nie lyk nie.
Dr Hugo de Villiers, ’n algemene praktisyn met ’n belangstelling in geestesgesondheid, verduidelik in eenvoudige terme hoe verslawing die brein verander. Hy wys daarop dat dit nie bloot ’n gedragsprobleem is nie, maar ’n mediese toestand wat die manier waarop mense plesier, stres en besluitneming ervaar, ingrypend beïnvloed. Hy waarsku ook teen die gevare daarvan om skielik op te hou met sekere middels, aangesien dit in sommige gevalle lewensgevaarlik kan wees sonder mediese toesig.
Die dokumentêr beweeg verder as net die mediese perspektief en fokus ook op die mens agter die verslawing. Albert Bredenhann, wat wyd bekend is vir sy werk met mense in herstel, beskryf verslawing op ’n manier wat die emosionele en geestelike dimensies daarvan belig. Sy insigte help om te verstaan hoekom mense aanhou gebruik, selfs wanneer dit hul lewens begin verwoes.
Renier Gouws, stigter van IGrow Recovery, deel sy persoonlike verhaal van hoe hy self in die greep van alkoholverslawing beland het. Hy praat openlik oor die vrees om op te hou gebruik, en hoe die middel dikwels ’n vorm van oorlewing word. Hy lig ook die rol uit wat skuld en skaamte speel – emosies wat mense dikwels stil hou en verhoed om hulp te soek.
Maar verslawing raak nie net die individu nie. Die dokumentêr gee ook aandag aan die ervaring van geliefdes wat langs iemand staan wat worstel. Dit is ’n pad van hoop, teleurstelling en moeilike besluite, sonder eenvoudige antwoorde.
Een van die mees aangrypende oomblikke in die dokumentêr is die storie van ’n persoon wat verkies om anoniem te bly. Hy vertel van jare se gesukkel om sy broer te help, ’n pad wat gekenmerk word deur geweld, trauma en uiteindelik die moeilike werklikheid dat sy broer steeds met verslawing worstel. Dit dien as ’n kragtige herinnering dat nie alle verhale ’n gelukkige einde het nie.
In die skadu van verslawing is nie net ’n verkenning van die probleem nie, maar ook ’n poging om begrip te skep. Dit wys dat herstel moontlik is, maar ook dat dit kompleks, lank en dikwels onvoorspelbaar is.
Vir die samesteller van die dokumentêr was die doel om ’n eerlike en gebalanseerde prentjie van verslawing te skets – een wat beide die wetenskap en die menslike ervaring in ag neem. Deur hierdie stories te vertel, word die hoop uitgespreek dat meer mense sal verstaan wat verslawing werklik is, en dat dit die begin kan wees van empatie en hulp.
Indien jy of iemand wat jy ken hulp nodig het, kan IGrow Recovery gekontak word by 072 011 6225 of per e-pos by igrow.rg@gmail.com. Die Suid-Afrikaanse Depressie en Angs Groep is ook beskikbaar by 0800 567 567.
‘n Nuwe musiekreeks, ‘n fees van bekroonde wendramas, ‘n reeks oor emosionele wysheid en veerkragtigheid asook ‘n bekroonde joernalis en omroeper wat weer agter die mikrofoon inskuif, is vanaf April van die nuwighede op RSG se klankspyskaart.
Ons som vir jou die veranderings aan ons programskedule op. Dit geld van 1 April 2026.
Veranderings op Sondae
Die nuwe musiekreeks op Sondae om 13:00 Die omroeper en stemkunstenaar Christelle Webb-Joubert is die aanbieder van die musiekreeks, Duet, wat Sondae om 13:00 op RSG uitgesaai gaan word. Duet word saamgestel deur Ilse Schürmann en is deur dieselfde span wat verantwoordelik was vir Pure Poerring en sal bestaan uit ligte klassieke musiek, werke uit musiekspele en opnames van Pavarotti en Sting, Jannie Moolman en Corlea Botha, André Rieu en sy Johann Strauss-orkes asook Frank Sinatra en Liza Minelli, om net ‘n paar te noem.
Christelle Webb-Joubert
Nic se goed kom tot ‘n einde Die veteraanakteur en -uitsaaier Nic de Jager (85) gaan ‘n welverdiende blaaskans geniet. Sy Sondagprogram, Nic se goed, word in Maart vir die laaste keer uitgesaai, maar herhalings van sy gewildste programme sal vanaf April steeds elke Saterdagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag op RSG gehoor kan word.
Nic het reeds verlede jaar in ‘n onderhoud aangedui dat dit “al hoe stadiger gaan” om sy program op te neem en dat hy dit dalk nog net vir ‘n “maand of twee” sou doen. Wat oorspronklik as ‘n dertien week lange reeks begin het, het egter vir twaalf jaar lank geduur. RSG en sy luisteraars is dankbaar dat Nic sy eklektiese musiekkeuse, ervarings, wyshede, uitsaai-ervaring en storievertellings vir so lank op lug met almal gedeel het.
Nic de Jager
U Eie Keuse skuif na Sondae om 12:00 Die oudste program op Afrikaanse radio (eerste program op 20 Oktober 1945), U Eie Keuse met Willem Pelser, sal vanaf April Sondae om 12:00 in die plek van Nic se goed gehoor kan word. Dié gewilde versoekprogram sal steeds saamgestel word uit die gunstelinge wat weekliks deur luisteraars aangevra word. Dit word vanaf April ook steeds elke Woensdagoggend tussen 01:00 en 02:00 herhaal.
Willem Pelser
Sondagmiddae is dus ‘n fees vir musiekliefhebbers met U Eie Keuse om 12:00, die musiekreeks Duet, om 13:00, en Jacqui January wat om 14:00 die gewyde program Dis gospel sal aanbied. Sondag met Fritz volg steeds om 15:00 tot 18:00.
Nuwe geestelike program op Sondagaande Die berader, teoloog en musikant DJ Muller is die aanbieder van Binne en buite: Emosionele fiksheid en geestelike waardes, ‘n reeks wat handel oor innerlike krag. Daar is stories oor atlete, stresvolle werke, die eise van die alledaagse lewe en hoe veerkragtigheid, integriteit, nederigheid en geloof help om weer moed te skep en deur te druk. Die reeks bevat praktiese insigte en spirituele refleksie. Binne en buite word vanaf April elke Sondagaand om 19:05 uitgesaai.
DJ Muller
Veranderings op Woensdag- en Donderdagaande
Die bekroonde omroeper keer terug na Kompas op Woensdagaande Chrislynn Sias, wat met ‘n Junior Koker-toekenningb bekroon is vir haar werk in en bevordering van Afrikaans, gaan van April af wéér by die Kompas-span aansluit en sal elke Woensdagaand om 19:30 agter die mikrofoon inskuif.
Chrislynn Sias
Wendramas word op Donderdagaande uitgesaai Die 2025-wenners van die ATKV en RSG se radiodrama-skryfkompetisie kan vanaf Donderdag 2 April om 20:00 gehoor word. Die nuwe dramaseisoen sluit ook dramas in deur Christo Davids, Esta Steyn, Leon van Nierop, Karen Wessels en wyle Chris Majiedt asook sir Peter Shaffer se klassieke Amadeus. Shaffer sou vanjaar sy 100ste verjaardag vier en die veteraanakteur André Rossouw vertolk die hoofrol in hierdie Nerina Ferreira-vertaling van die klassieke werk. Die ander spelers sluit in Dawid Minnaar en Marthinus Basson.
Veranderings op Saterdae
Haidee se hartsnommertjies word langer Haidee se hartsnommertjies met Haidee Muller-Isaacs sal vanaf April om 20:00 op Saterdae uitgesaai word en dus verleng word om meer musiek te bevat. Luisteraars, wat reeds weekliks daarvoor vra, sal ook hul eie “hartsnommertjies” kan versoek. Die res van die Saterdagaandskedule bly dieselfde met die nuusbulletin om 21:00, gevolg deur Kappityt en Countryklanke.
Haidee Muller-Isaacs
Saterdagmiddae bly vol musiek Saterdagmiddae om 14:00 kan luisteraars inskakel vir Vastrap met Willem Viljoen, waarna Top Treffers met Carla McKenzie om 15:00 volg. Voor en na RSG Sport, Saterdae tussen 17:00 en 19:00, sal luisteraars meer musiek hoor vir die perfekte Saterdagluim.
Prof. Tobie de Villiers, ‘n ginekoloog met ‘n spesiale belangstelling in menopousale medisyne, osteoporose en ginekologiese endokrinologie, gesels oor die nuutste inligting oor menopouaw, hormoonvervanging en alles wat verband hou met menopouse.
Hy verduidelik wat menopouse is.
2. Hy praat oor perimenopouse.
3. Hy praat oor die akute simptome van menopouse.
4. Hy praat oor hormoonterapie.
5. Hy praat oor oor die veilige toepassing van menopaosale hormoonvervangingsterapie.
6. Hy praat oor genito-urinêre sindroom.
7. Hy praat oor postmenopausale osteoporose.
8. Hy praat oor die uitwerking van menopouse op hartsiektes.