Ons drink jaarliks 3.5miljard koppies rooibostee

Suid-Afrikaners drink jaarliks 3,5 miljard koppies rooibostee! Afgesien van die gesondheidsvoordele daarvan, het rooibos ook ‘n rol te speel in herwinningsprosesse.

Vir aande voor die kaggelvuur vind ons by Shawn Thomson van DTK Wines uit wat die verskil is tussen Cape Ruby en Rooi Muskadel.

Groenteboer Peta Malan praat oor die gebruik van voordelige insekte. Sy verduidelik waarom sy graag die uitheemse tamarillo of tamatieboom aanplant, en sy deel ‘n ingelegde eiervrugresep.
Luister na die program: RSG Landbou 4 Julie 2025

Luister weer na ‘Taco Kamstra – Op sy eie werf’

Luister weer na ‘n dokumentêr oor Taco Kamstra en sy 27 veteraanmotors, deur Kobus Rudolph.

Agtergrond-inligting

Baie speel en hope pret met die opname van dié radioprogram Taco Kamstra – Op sy eie werf!  Ek het ook gewonder of mens nie die titel dalk moes maak Taco Kamstra – Moderne, rewolusionêre industrialis of Een-en-twintigste eeu se industriële, rewolusionêr!

TACO KAMSTRA: OP SY EIE WERF deur Kobus Rudolph

In Taco Kamstra se werf is daar ‘n kerktoring en kerkklok, wat uittroon bo sy vliegtuig in sy voorplaas! ‘n 1919 Model T-Ford, wat nog met ‘n slinger aangedraai word, en vele ander voertuie, begroet die mense wat verby sy huis/museum in Pretoria ry of besoek aflê. Taco moes leer om die miniatuur Sentinel-stoomenjin te stook en te dryf – en in die proses het hy sy broer se woonwa beskadig! Hy het 27 veteraanmotors, waarvan die oudste ‘n 1910 High Wheeler (Elektriese perdekoets) is. Die musiek van ‘n vrolike Westerse Cowboy-kroeg begroet jou as jy in die woonkamer instap, met Taco wat sy Steck Pianola Duo Art trap. Dié honky-tonk-klanke kom uit die 1927-musiekrolle met liedere soos Hawaiian Hearts en Rain. ‘n Handgemaakte ghong uit Nepal en nog ander klokke is musiek in sy ore. Die ou kerkorrel van die NG Kerk Bethal het ook sy plek op Taco se werf ingeneem!

As daar nou ‘n man is wat hou van speel en baie hard speel en werk, is dit Taco Tjeerd Kamstra van Pretoria.

Sewe-en-twintig veteraanmotors waarvan die oudste ‘n 1910 High Wheeler (Elektriese Perdekoets) is.  V 8’s, brullende enjins, Pontiacs, V 8 5.7 liter Ford Cobra, die beroemde Ford GT 40 van 1966 se sukses met die Le Mans 24 uur-uithouwedren wat in sy sitkamer pryk, die pragtige lyne van die 1933 Chevrolet Straight 6 en die 1976 Cadillac Eldorado Afslaankap – met sy pretttige maar dors 8.3 liter, monster van ‘n enjin.  Ernie Jacobson, oud-burgemeester van Pretoria en self ‘n versamelaar en motorrestoureerder vertel met ywer van Taco se groen, groot en gewilde Cadillac en hoe die mense die motor begeer.

Die “petrol heads” en liefhebbers van voertuie sal die kleur en klank in die program baie geniet. Ander luisteraars sal die spesiaal-opgeneemde musiek, vertellings en byklanke netso interessant vind.

Sy “huis/werkswinkel/vertoonkamer/museum/orrelkapel/voertuiguitstalling” is in Eben Swemmer straat, Gezina, Pretoria.  Dié Nederlandse Suid-Afrikaner hou van versamel en dinge herstel – maar soos hy sê hy doen dit altyd in die oortreffende trap.  Hulle gesin van 11 kinders verhuis van Friesland na Suid-Afrika. Hy het as tiener kaskarre begin bou.  Toe wil al wat leef en beef kaskarre by hom koop! Almal het ook geweet, as jy wiele in jou besit het, sal Taco dit by jou koop.  Teen Wonderboom in Pretoria se bult af het ‘n man met ‘n motor langs hom gery en gesê hy klok nou 70 km/uur met sy kaskar – sonder remme.

Nou woon Taco op sy eie werf – met ‘n kerktoring en kerkklok, wat uittroon bo sy vliegtuig in sy voorplaas! ‘n Model T-Ford 1919 wat nog met ‘n slinger aangedraai word en vele ander voertuie, begroet die mense wat verby sy huis/museum ry of besoek aflê.  Taco moes leer om die Miniatuur Sentinel stoomenjin te stook en te dryf – en in die proses het hy sy broer se woonwa beskadig.

Die musiek van ‘n vrolike “Westerse Cowboy” kroeg begroet jou as jy in die woonkamer stap, met Taco wat sy Steck Pianola Duo Art trap. Die honky-tonk klanke kom uit die eeue-oue1927 musiekrolle met liedere soos “Hawaiian Hearts” en “Rain”. ‘n Handgemaakte ghong uit Nepal en nog ander klokke is musiek in sy ore!

Indien jy dalk ‘n hele paar jaar gelede op Bethal groot geword het, mag jy dalk verras wees om die NG Kerk Bethal se orrel in Taco se huis te sien.  Hy het hierdie kerkpyporrel onlangs aangeskaf en deur Jan Zielman – orrelbouer en orrelpypmaker laat installeer.  Adrien Lubbe – pianis, orrelis en musiekonderwyseres van New Castle het die 200 pyporrel en pianola vir ons kom speel en haar indrukke gegee.

Prof. Alex Duffy – voorheen hoof van die departement Kunsgeskiedenis aan Tukkies, het vir die orrelkapel, twee vensters kom brandskilder met pragtige Bybelse motiewe.  Hy is ook ‘n vername motorrestoureerder en versamelaar van veral Buick veteraanmotors.

 

Sedert RSG se opnames so paar weke gelede by Taco Kamstra, is hy besig om ‘n “para glider” se enjin en groot skroef te omskep in ‘n karretjie wat deur die skroef aangedryf word.  Hy poog om ook 70 km/uur met die “para-prop” karretjie wat ‘n Messerschmitt neus gaan kry, te probeer ry!

https://www.facebook.com/taco.kamstra

 

RSG verskuif sy klankgrense met ‘Bekbasaar’

RSG verskuif opnuut sy grense met ‘n splinternuwe digitale klank-aanbod, Bekbasaar.

Hierdie pasgemaakte klanklandskap sal op Donderdag 3 Julie aanlyn geloods word.  Deur ‘n reeks unieke potgooie versterk RSG sy toewyding om diverse en boeiende inhoud aan sy luisteraars te bied. En op die koop toe het niemand ‘n draadloos of transistorradio nodig nie!

Nuwe RSG Bekbasaar bring spesialis-potgooireekse aan jou

Daar is ’n splinternuwe klank op die horison – en dis steeds 100% RSG! Meer stories, meer insig, en vars, prikkelende geselsies wat oud én jonk sal boei. Buiten die programme wat jy daagliks op die lug volg, bring RSG nou ook iets spesiaal vir jou oorfone – spesialis-potgooireekse, eksklusief op ons digitale platforms. Dié potgooigesprekke is spesiaal saamgestel om onderwerpe grondig en sonder tydsbeperkings aan te pak, perfek vir die nuuskierige gees wat hou van ‘n bietjie meer diepte. Die eerste spesialispotgooi word aangebied deur Elsje van Jaarsveld.

Bekbasaar bied meer vermaak, inligting en prikkelende praatjies wat oud en jonk sal interesseer.  Buiten die gesprekke en programme wat op lug gehoor word, sal luisteraars ook voortaan dié aanbod eksklusief op RSG se digitale platforms aantref.  Dit behels gesprekke wat spesiaal geskep is vir digitale platforms en wat onderwerpe indiepte sal bespreek sonder die beperking van lugtyd.

Die eerste Bekbasaar waarna luisteraars kan uitsien, is vanaf 3 Julie op Spotify, YouTube en rsg.co.za beskikbaar en word aangebied deur Elsje van Jaarsveld. Dieremaniere sal luisteraars op ‘n fassinerende reis neem deur die wêreld van dieregedrag, unieke feite, en interessante stories wat die harte van diereliefhebbers sal verower. Elsje se passie vir diere en haar kundigheid sal verseker dat hierdie potgooi insiggewend én vermaaklik is. Elsje is self ‘n ywerige diereliefhebber en het vir 12 jaar lank haar beagle Gabby aan haar sy gehad. Vir die eerste episode klop sy aan by die komediant-akteur Schalk Bezuidenhoudt wie se diere glo nié maniere het nie.

Maar wag, Elsje raadpleeg ‘n kenner van dieregedrag en Schalk word bemagtig met inligting en tegnieke hoe om ongemaklike situasies met sy honde met die regte benadering te hanteer.

Die fokus van hierdie nuwe aanbod is dat luisteraars die vryheid het om enige tyd en enige plek na hulle gunsteling-inhoud kan luister – hetsy by rsg.co.za, Spotify of YouTube. Ons kan ook langer gesels, wat die moontlikheid vir indieptegesprekke makliker maak, en ook geleentheid bied om jou gunstelingomroeper, glanspersoonlikheid en kenner beter te leer ken.

“Ons is ongelooflik opgewonde oor hierdie nuwe hoofstuk vir RSG,” sê Louise Jooste, RSG se sakebestuurder. “Bekbasaar is ‘n bewys dat RSG inderdaad nie grense of brieke het nie en sy vlerke lank reeds sprei om luisteraars wêreldwyd nie net deur die lugweë te bereik nie. Dit is ‘n wegbreek van tradisionele radio en uitsaaiformate en sal verseker dat RSG op meer as een manier 24 uur per dag en sewe dae per week sy luisteraars met gehalte-luisterstof kan inspireer.”

Bekbasaar is ‘n nuutskepping deur een van RSG se luisteraars, Suzette Gird van Ficksburg in die Vrystaat. RSG het sy sowat 1,3 miljoen luisteraars genooi om ‘n Afrikaanse beskrywing te skep vir bespoke podcasts en Suzette het die kroon gespan met haar voorstel.

Bekbasaar is ‘n slim beskrywing van die klankryke aanbod wat met bekkigheid en grenslose kreatiwiteit aangebied gaan word, soos die tradisionele basaartafels wat kreun van alles en nog wat.

Bly ingeskakel vir meer inligting oor Dieremaniere elke Donderdag en ander opwindende potgooie wat in die toekoms by RSG se digitale aanbod gevoeg sal word.

Motorbedryf kreun onder tekort aan motorwerktuigkundiges

Suid-Afrika sit met ’n kritieke tekort aan motorwerktuigkundiges – ’n probleem wat nie net die motorherstelbedryf knou nie, maar ook die land se jongmense van broodnodige werk ontneem.

In Gauteng alleen is daar meer as 100 vakatures in staatswerkswinkels, en van die polisievangwaens staan tot ’n jaar lank weens ’n gebrek aan gekwalifiseerde personeel.

Maar dit strek veel verder as die staat. Oor die hele land sukkel werkswinkels om poste gevul te kry, terwyl duisende jongmense werk soek.

Ons praat hieroor met Pieter Niemand, die nasionale direkteur van die Werkswinkelvereniging van die Motorbedryf.
https://omny.fm/shows/op-en-wakker/ambagslui-gesoek-motorbedryf-kreun-onder-tekort

Ons bring hulde aan die skrywer C. Johan Bakkes

Hy was ‘n gróót Suid-Afrikaner. Met sy bos lang, krulhare en omtrent 2 kg se koperarmbande was die reisskrywer en professor in rekeningkunde, C. Johan Bakkes, se bynaam nie verniet Johannes die Loper nie. Johan is Dinsdagaand in die ouderdom van 68 aan kanker oorlede. Johann het nie ‘n duim terug gedeins vir uitdagende avonture nie. Hy het die warmste en koudste plek in die wêreld waar mense ‘n bestaan maak, besoek. Hy het meer as ‘n 1 000 kilometer in die Namibwoestyn gestap, Kilimanjaro en die Himalayas geklim en nog vele meer avonture aangepak. Op sy kerfstok het jy talle boeke oor sy reise. Ons praat met Johan se broer, die joernalis Marius Bakkes, en met een van Johan se beste vriende en reisgenote en ook ‘n joernalis en fotograaf, Gerrit Rautenbach.
Luister hier na die program: C. Johan Bakkes: 1956 – 2025

 

Die brein wil nie rondgestamp word nie

Die brein wil nie rondgestamp word nie.
Kopstampe wat tot harsingskudding lei, en selfs kopstampe wat nie eens tot harsingskudding lei nie, is direk in verband met jou risiko om later vervroegde demensie, Parkinson-siekte, Motorneuronsiekte, ALS en Chroniese Traumatiese Ensefalopatie (wat ook soos vroeë en ernstige demensie lyk) op te doen.

Luister hier na die gesprek met dr Riaan van Tonder, sportgeneeskundige en kliniese assistent in Radiologie aan die Unibversiteit van Stellenbosch se mediese skool en die Tygerberg Hospitaal.

Tydens harsingskudding rek van die neurone in jou brein so erg dat dit tot biochemiese veranderings in jou brein lei, wat minstens 28 dae neem om te herstel.

Kopstrappe lei tot biochemiese verandering in die brein wat sowat 28 dae, of selfs langer, kan neem om te herstel. ‘n Tweede stamp binne hierdie tydperk kan tot die dood lei.

Die groen zone van die borsbeen na onder waar dit veiliger is om die teenstander te duik, mits die duiker sy kop uit die pad hou.
Het jy dalk harsingskudding opgedoen?

As grootmense boelies is…

Hoe is dit moontlik dat volwassenes betrokke kan wees by boeliegedrag? Hoekom doen mense dit? Hoe hanteer jy dit?

Watter emosionele uitwerking kan dit hê? Hierdie gesprek beklemtoon die kompleksiteite van volwasse afknouery, en die belangrikheid daarvan om hierdie gedrag aan te spreek om ‘n meer ondersteunende en respekvolle omgewing te skep.

Wie is ek? 27 Junie 2025