Sondae op RSG – Midas of ‘n middagslapie?

RSG luisteraars sal vanaf Sondag 6 Julie moet kies – die musiekprogram Die Midas van Musiek of ‘n middagslapie?

Die vyfde reeks van die gewilde Die Midas van Musiek begin op Sondag 6 Julie om 14:00, met RSG se programbestuurder, Kobus Burger, wat weer agter die mikrofoon sal inskuif.

In hierdie splinternuwe reeks van dertien episodes sal die goue treffers van kunstenaars soos Tina Turner, Simply Red, Marilyn Monroe, Phil Collins, Sammy Davis Jr, die Bee Gees en vele ander gehoor word.

In die Griekse mitologie was Koning Midas geseën met ‘n besondere gawe – alles wat hy aangeraak het, het in goud verander.

Die maatstaf vir sukses in die popmusiekbedryf is dikwels goue status vir albumverkope. En tog is daar sangers, liedjieskrywers en selfs produksieleiers wat met die Midas-aanraking kon spog sonder dat hulle noodwendig daardie miljoene kortspelers of albums verkoop het.

Hierdie reeks stel nóg van hierdie Midas-musikante bekend en is ‘n voortsetting van die eerste, gewilde reeks wat in 2018 afgeskop het.

Volgens Kobus Burger sal daar suiwer nostalgie, verfrissende feite asook ‘n paar verrassings wees.

“Elke Midas-program is ’n ‘storie’ in die kleine. Dit verras my telkens as luisteraars my vir die stories, pleks van die meesleurende musiek en immergroen liedjies bedank,” sê Kobus.

“Die samestelling van Die Midas van Musiek is gewoonlik ‘n opwindende snuffeltog. Buiten die musiek – waarvan daar gewoonlik hopeloos te veel is om van te kies – is dit soos om vir ‘n paar dae in die voetspore van ‘n besonderse kunstenaar te loop en dan ietsie van daardie ontdekkingstog in klank te deel. Ek sien daarna uit om weer Sondae saam met die luisteraars te reis en hul luilekker middae met Midas se goud te omboor.”

Luister van Sondag 5 Julie, elke Sondagmiddag om 14:00, na Die Midas van Musiek met Kobus Burger.

WAT DIE LUISTERAARS Sê

 Weer eens volpunte vir jou! “Die Midas van Musiek” is elke keer skitterend. Dis elke kriesel navorsing en bloedsweet wat jy daarin sit deur en deur werd. Dankie! – Hettie Sieberhagen

 “Ai ek geniet jou programme so verskriklik, moet asseblief nooit ophou nie….en jy kan maar die herhalings oor en oor weer uitsaai.” – Retha le Roux, Boggomsbaai

“Ja, ’n WOW vir Kobus se Midas van Musiek. Ek geniet elke week. Vanoggend het trane van geluk oor pragtige herinneringe ook heerlik oor my wange gevloei. Baie dankie.” – Anoniem

“Wow. Dankie baie vir jou stunning navorsing en goeie musiek. Hou so aan. Duisend dankies.” – Lenette Viljoen

Baie dankie dat jy die afgelope paar maande my Sondagoggende so spesiaal gemaak het. Elke Midas-program was spesiaal op sy eie manier want elke kunstenaar was net eenvoudig uitsoekgehalte. Baie dankie vir jou harde werk om hierdie spesiale programme saam te stel. – Kleintjie Cilliers, Alberton

Beste program ooit. Ek geniet dit vreeslik baie – Marlene Oosthuizen 

Ek is verlief op jou kennis oor van musikante en mooi MUSIEK. Ek is baie lief vir MUSIEK en die ontspanne aanbieding is absoluut wonderbaar! Baie dankie vir programme wat ons kan neem om te  ontspan op ‘n musiekeiland! – Amelia de Lange, Tzaneen

Maak asseblief die “Die Midas van Musiek” en Kobus Burger ‘n  gereelde en baie dikwels deel van RSG se programme. Bravo!!! Dit was dié beste manier om vanoggend die dag te begin! – Adri Visagie 

 Baie dankie, Kobus, weer eens vir die woes lekker luisterprogram. – Rita de Clercq

Ons nuwe vervolgverhaal “Bly hardloop” begin Vrydag

Bly Hardloop, deur Mari Snyman, is die nuwe middagvervolgverhaal wat op RSG begin vanaf 9 Mei, elke weeksdag om 14:45 tot 15:00.

Die storie

Die belofte in feëverhale en sprokies dat twee mense wat mekaar liefhet, trou en lank en gelukkig saam lewe, gebeur nie altyd in die werklike wêreld nie. Werk, stres, familie- en gesinsprobleme, siekte en aanslae deur ander kry soms die oorhand. Dit is wat met die Meyers gebeur in RSG se nuwe middag-vervolgverhaal, Bly Hardloop.

Magriet Meyer hardloop elke dag kilometers ver om te help baklei teen haar kommer en angs oor haar kinders, Elsa en Sam, veral oor Elsa se verkeerde keuses, haar veeleisende ma, Petro, haar suster, Lynette wat nooit liefde ervaar het nie, en haar man, Ben. Sy voel soms asof die las op haar skouers te groot is. Maar sy bly altyd lief vir haar mense. En sy oorkom noodgedwonge die een struikelblok na die ander.

Bly Hardloop is geskryf en word in Johannesburg opgevoer deur Mari Snyman.

Die spelers is Elma Potgieter, Anton Schmidt, Heidie Mollentze, Rina Nienaber, Louise Eksteen, Charlie Bouguenon, Ilse Klink, Andre Stolz, Donovan Pietersen, Stephanie Baartman, Andreas Jordaan, Zinhle Mathibela, Antowan Nothling en Deoudoné Pretorius.

OOR MARI SNYMAN

Ek het as kind baie gelees  – ‘n paar boeke ‘n week. Ons het ‘n skoolbiblioteek gehad, en my ma het ons Saterdagmiddae na Pretoria se stadsbiblioteek toe gevat om boeke uit te neem. En ek het alles gelees wat my pa, C.F. Beyers-Boshoff, geskryf het. Op hoërskool het ek hom gehelp skryf – meestal rubrieke vir tydskrifte (wat hy woes geredigeer het). Ek het ook vir hom titels uitgedink, veral vir sy fliekdraaiboeke, waarvoor hy my dan R10 betaal het. Dit was baie geld in die vroeë sewentigs.

Ek het eers in my dertigs self begin skryf vir radio. Tussendeur het ek vir dertien jaar draaiboeke vir die eerste groot Suid-Afrikaanse sepie, “Egoli, geskryf. Radio was nog altyd my groot liefde. Naas lees prikkel radiostories mens se verbeelding die meeste. Jy leer karakters ken en vorm jou eie beeld van hulle. Daar is nie ‘n ‘dop’ soos op televisie of in flieke nie.

Ek skryf graag stories oor mense – oor hulle vreugdes, hulle drome, hulle vrese, hulle hartseer en hulle liefde vir mekaar. En ongelukkig ook hoe hulle mekaar kan seermaak. Om K.I. te gebruik is nie vir my nie. Ek het al te lank gelewe, te veel mense geken en leer ken en  ook te veel vreugde en hartseer ervaar. Idees vir stories en karakters is deel van my lewe. Waarskynlik omdat ek alleen bly en my verbeelding  my nog altyd soos ‘n tower-tapyt laat vlieg het.

DIE KARAKTERSKETSE

BEN MEYER: (ANTON SCHMIDT) Hy is ‘n algemene praktisyn met ‘n gevestigde praktyk.  Hy is geliefd by sy pasiënte, want hy doen moeite en gee om vir hulle. Hy is op die oog af joviaal en sjarmant, maar het sy eie wroegings. Hy wou spesialiseer maar het nooit deurgedruk daarmee nie. Hy is lief vir sy vrou, maar voel soms geïntimideer deur haar. Sy verhouding met sy seun, Sam, is wankelrig, waarskynlik omdat hy bedreig voel deur Sam se uitstekende verhouding met sy ma. Maar hy sal hy dit nooit erken nie. Ben en Elsa, sy dogter, kom goed klaar.

MAGRIET MEYER: (ELMA POTGIETER) Ben se vrou. Sy gee klas by ‘n kollege waar sy studente leer om juwele en ook gebruiksartikels te maak uit materiaal wat maklik bekombaar en gratis, of baie goedkoop is, soos byvoorbeeld herwinbare produkte soos glas, blik, plastiek en so aan. Sy is ook betrokke by liefdadigheidsprojekte, en doen veral opheffingswerk. Sy is lief vir tuinmaak en het haar eie groentetuin. Sy is omgewingsbewus en herwin alles wat sy moontlik kan. Magriet is in ‘n mate ‘n geslote boek – sy gee nie maklik van haarself nie, ten spyte van die feit dat sy uitreik na minder bevoorregtes. Sy voel dikwels angstig, maar baklei daarteen deur superfiks te wees en elke dag kilometers ver te draf. Sy is lief vir haar man, maar hulle stem nie altyd saam oor dinge nie. Sy en haar seun is baie na aan mekaar, maar sy en haar dogter stamp gereeld koppe.

ELSA MEYER: (LOUISE EKSTEEN) Ben en Magriet se dogter – die oudste van hulle twee kinders. Sy is ‘n rebel en altyd stroomop. Sy is musikaal en wou na skool haar saksofoon in klubs gaan speel om ‘n lewe te maak. Ben was te vinde daarvoor, maar Magriet het aangedring dat sy gaan studeer. Sy het onwillig ingestem, maar het toe van krag tot krag gegaan. Haar belangstelling is letterkunde. Sy het ‘n verhouding aangeknoop met haar professor en ‘n kind by hom gehad. Sy het die kind probeer grootmaak op haar eie, maar toe dit te veel word vir haar het sy ingestem dat die kind by die professor en sy vrou gaan bly. Sy speel tans saksofoon in ‘n klub. Elsa is nie gesondheidsbewus nie en drink soms te veel.

SAM MEYER: (CHARLIE BOUGUENON) Hy is ‘n model-kind. Sy groot liefde en belangstelling is flieks. Hy droom daarvan om eendag ‘n film-regisseur te wees. Maar, omdat hy weet daar is nie baie geleenthede daarvoor nie, het hy ingenieurswese studeer – ‘n praktiese keuse. Hy werk as ‘n junior by ‘n ingenieursfirma en sy werk is uitstekend. Hy is veral goed daarmee om probleme op te los. Sam en sy ma doen gereeld dinge saam – soos hardloop, fliek en op uitstappies gaan om materiaal te soek vir Magriet se klasse en projekte. Sam het nog nooit ‘n ernstige verhouding met ‘n meisie gehad nie en sy pa suggereer dis omdat hy gay is, wat nie die geval is nie. Hy is eintlik net doelgerig en werk hard aan ‘n goeie toekoms.

PETRO DE VILLIERS: (RINA NIENABER) Magriet se ma. Sy is ‘n moeilike mens en baie veeleisend. Sy glo vas sy is nooit verkeerd nie. Sy besit ‘n hotel in Mpumalanga wat sy geërf het na haar man se dood ongeveer tien jaar gelede in ‘n skietongeluk, maar Petro is oortuig hy het sy eie lewe geneem. Hulle huwelik was nie juis gelukkig nie – hoofsaaklik omdat sy as kind gemolesteer is deur haar ma se broer. Sy het dit nog nooit aan iemand erken nie. Dit kom later in die storie uit na ‘n emosionele katarsis.

LYNETTE DE VILLIERS: (HEIDI MOLLENTZE) Petro se jongste dogter en Magriet se suster. Sy is ‘n onseker mens wat moeilik aanklank vind by ander.  Sy is nooit getroud nie en het nooit liefde gevind nie. Sy help haar ma in die hotel. Lynette is ‘n staatmaker, maar glo nie in haarself nie en word deur haar ma geïntimideer. Totdat sy besluit genoeg is genoeg en aan haarself begin dink.

SASHA FOURIE: (STEPHANIE BAARTMAN) Ben se ontvangsdame en verpleegster in sy praktyk. Hy maak baie op haar staat. Sy verafgod hom (en is heimlik verlief op hom) en sy sal enige iets vir hom doen. Sy is vriendelik, behulpsaam, vrolik en ‘n goed aangepaste mens.

WILLEM ELS: (ANDREAS JORDAAN) Die pa van Elsa se kind. Hy wil die kind wat hy en Elsa saam het aanneem, maar sy wil nie toestemming gee nie. Sy probeer hom op die manier dwing om sy vrou te los en saam met haar te bly, maar sonder sukses. Willem is arrogant en vol van homself. Baie aantreklik en bewus daarvan. Hy is ‘n misoginis – nie soseer ‘n vrouehater as wat hy vroue misbruik en as kommoditeite beskou nie.

ANSIE ELS: (ILSE KLINK) Willem se vrou. Sy is baie lief vir hom maar laat Willem boete doen omdat hy ‘n kind gehad het saam met een van sy studente (Elsa). Maar sy is lief vir die kind en probeer alles in haar vermoë om die kind te behou. Sy is op ‘n manier obsessief daaroor. Sy ly aan depressie en is onvoorspelbaar.

DUSTIN GREYLING: (DONOVAN PIETERSEN) ‘n Losbol en ‘n kansvatter. Hy werk as kroegman in die klub waar Elsa gigs speel, en hy probeer sy bes om in haar goeie boekies te kom. Sy knoop ‘n aan-en-af-verhouding met hom aan, maar het geen ernstige gevoelens vir hom nie. Sy doen dit net om haar ma te tart.

KURT VAN DEN BERG: (ANTOWAN NOTHLING) Hy is ‘n wewenaar en werk in die Ongevalle-afdeling van die hospitaal waar Ben sy praktyk het. Hulle is bevriend en hy werk soms in Ben se praktyk wanneer Ben nie beskikbaar is nie. Hy is saggeaard en meelewend.

DAVID ROELOFSE: (ANDRE STOLZ) Hy besit verskeie plase in Mpumalanga. Baie ryk, baie sjarmant en baie lief vir vroue. Gladde mond. Hy was al ‘n paar keer getroud, maar sy eintlike liefde is Magriet. Hulle het mekaar as jongmense goed geken, maar die gevoel was nooit wederkerig nie.

ISABEL MAREE: (ZINHLE MATHIBELA) Sy is briljant, maar lewe in ‘n kokon. Sy is gestrem (kan nie loop nie) en bring baie tyd aanlyn deur.  Sy is positief, voel nie jammer vir haarself nie, maar sy begeer normale vriendskap en selfs ‘n verhouding, alhoewel sy weet hoe moeilik dit sal wees.

JACKIE STRYDOM: (DEOUDONE PRETORIUS) Een van Magriet se studente oor wie sy haar ontferm. Vriendelik en behulpsaam. Sterk inbors. Sy sal enige iets vir haar doen. Sy het baie arm grootgeword, maar hy werk hard en Magriet het gesorg dat sy ‘n beurs kry.

Die uitsending begin op Vrydag 9 Mei en duur tot Donderdag 31 Julie. Bly Hardloop is ook beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van elke uitsending.

 

Luister weer na ons wendrama “Konneksie”

Marion Erskine se Konneksie is die wendrama van die 2024 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

Skakel in Donderdagaand 1 Mei om 8 uur op RSG of rsg.co.za, ook beskikbaar as potgooi en op Spotify.

KONNEKSIE deur Marion Erskine

Die storie

Verbeel jou jy is in 2050 waar Kunsmatige Intelligensie tot jou voordeel… of nadeel kan strek.

Dawid le Roux (Anrich Herbst) is ‘n rekenaarprogrammeerder in die jaar 2050. Hy is nie te vinde vir te veel geselskap nie, en is tevrede net met Amanda. Dawid word egter gekonfronteer met die kunsmatige wêreld wat hy vir homself skep. Verkies jy eerder ʼn kantoor vol mense en ‘n lewensmaat of beheerde eensaamheid? ‘n Wêreld van tegnologie het voordele, maar ook uitdagings. Die stryd tussen mens en masjien is nog lank nie verby nie.

Die akteurs

Deon Lotz, Sharfa du Plessis, Anrich Herbst, Denver Vraagom, Ilne Fourie, Karli Heine en June van Merch sal jou vasgenael voor die radio hou met al die vrae en antwoorde.

Met regie deur Johan Rademan beloof die drama om jou by jou radio te hou.

Van die skrywer – Marion Erskine

In 2024 het ek met groot belangstelling die Hollywood-staking dopgehou. Dit het my laat nadink oor hoe Kunsmatige Intelligensie wêreldwyd gereguleer gaan word—spesifiek in Suid-Afrika. Die vinnige vooruitgang van KI roep ’n belangrike vraag op: Wat as ons dit nie reg beheer nie? Hoe gaan dit ons lewens beïnvloed? En wat doen ons as ons reeds te laat is?

Ek was nog altyd geboei deur stories oor tegnologie en die menslike ervaring. Klassieke werke soos 2001: A Space Odyssey en die film Her het my gefassineer met hul spekulasies oor die toekoms van KI en menslike interaksie daarmee. Ek geniet dit om spanningsvolle radiodramas te skryf en wou luisteraars op ’n avontuur neem—een wat nie net opwindend is nie, maar ook relevant vir die wêreld waarin ons leef.

Met Konneksie vra ek: Wat gebeur as ons grense tussen mens en masjien begin vervaag? En watter gevolge wag as ons nie betyds beheer neem nie?

 

Nuwe oggendboekvoorlesing: “Die Fantastiese Mevrou Smit”

Vanaf Woensdag 24 April nooi RSG jou om in te skakel vir die splinternuwe oggendboekvoorlesing Die Fantastiese Mevrou Smit deur Elizabeth Wasserman, weeksdae om 10:45.

Wie is Mevrou Smit?
Sy is nie sommer net ’n gewone tannie op die platteland nie. Mevrou Smit is ’n vrou met ’n verlede, een wat sy nie self gekies het nie, en ’n vurige begeerte om weer van voor af te begin. Sy was nog altyd ’n oorlewende, maar nou waag sy dit om regtig te leef: om haar humeur te verloor, haar eetlus te volg, en uiteindelik haar hart oop te maak. En ja, daar’s dalk ’n moord of twee om op te los… maar dis haar plek in die gemeenskap en haar pad na aanvaarding wat die hart van die storie vorm.

Oor die skrywer

Elizabeth Wasserman is ’n bekende stem in die Afrikaanse letterkunde. Sy is bekend vir haar karaktergedrewe verhale en spitsvondige styl. Met Die Fantastiese Mevrou Smit bring sy vir ons ’n storie wat lig, donker, snaaks en diep menslik is.

Die voorleser: Susanne Beyers
Die voorleser, Susanne Beyers, is ’n geliefde stem op RSG. Sy het reeds as tiener in radioverhale begin speel en is steeds gereeld betrokke by kunsprogramme wat in die Kaapse ateljee opgeneem word. Jy hoor haar veral op Vers en Klank, Kortom of as ’n karakter in ’n radiodrama.

Dié ikoon van die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidswêreld  het in die 1980’s bekendheid verwerf as Annette (Sloet Steenkamp se vrou) in die legendariese reeks Arende. Onder die meer onlangse produksies op haar kerfstok tel Sarah se Geheim, Fynskrif, Dinge van ’n Kind en  Een keer om die son, waarin sy die rol van Salie Wessels vertolk.

Susanne beskryf haarself as ’n “gulsige” leser wat een boek na die ander kafdraf. Die Fantastiese Mevrou Smit is een van die gunstelinge wat sy die afgelope tyd gelees het, en sy geniet dit gate uit om so ’n “wye spektrum van karakters te kan vertolk” – van die vurige Mevrou Smit tot die temerige tannie Annatjie en die slinkse joernalis, Dario Farini.

“Dis ’n héérlike verhaal! En ek hoop dat die luisteraars net so baie genot daaruit sal put as wat ons tydens die opnames gehad het!”

Susanne is tans op die silwerdoek te sien as die flambojante Mienkie in die komedie Die Kwiksilwers.

Die reeks is onder regie van die talentvolle Sophia van Taak

Skakel elke weeksoggend om 10:45 in op RSG en ontmoet Die Fantastiese Mevrou Smit – sy gaan jou dag ophelder!

 

5 jr ná Covid – Op soek na die ware feite: Die ander sienings

Dit is 5 jaar ná die Covid pandemie. Weet ons nou meer van die virus en die vaksien? Is daar navorsing gedoen om presies te verstaan hoe covid werk, wat lang-covid is, en hoe ernstig of matig die newe-effekte van die enstof is?

In ‘n reeks van verskeie episodes, versprei oor ‘n tydperk, kyk ons na alle sienings en menings om by die regte waarheid en feite uit te kom. Sedert 2019 het ons gefokus op die menings en sienings van viroloë, ICU-dokters, regeringslui, die WGO, die Departement van die Gesondheid, die NHS, die Centres for Disease Control in die VSA en ander amptelike bronne. Maar daar was en is ook dokters wat van meet af kommer oor die mRNA vaksien uitgespreek het en ander behandelingsmetodes probeer het. Hulle is stilgemaak. Maar was hulle in alle opsigte verkeerd? Maar is dit reg om dokters wat vrae vra, stil te maak? Of is dit meer wetenskaplik om navorsing te doen om hulle vrae reg of verkeerd te bewys? Hulle is reeds reg bewys dat die inperking heeltemal te lank was, en dat die virus uit ‘n laboratorium kom. Dit is nodig om alles op die keper te beskou.

Ons hoop om aan die einde van die reeks die volgende vrae te beantwoord op grond van soliede wetenskaplike feite:
1. Die eerste vraag is al grotendeels beantwoord: Kom die virus van ‘n bosdier op ‘n Chinese mark of uit ‘n laboratorium in Wihan?
Regeringslui het aanvanklik gesê dis ‘n bosdier. Nou is daar al min twyfel dat die virus uit ‘n laboratorium in Wihan kom. Waarskynlik per ongeluk?
2. Die tweede vraag oor die lang inperking is ook grotendeels beantwoord: Daar is konsensus dat die inperkings van 700 dae totaal oorbodig was en baie ekonomiese, persoonlike en emosionele skade berokken het.
3. Hoe werk Covid? Is dit mikrostolsels? Is dit ‘n erge inflammatoriese reaksie? Is dit die stekelproteien? Wat was die beste behandeling?
4. Wat het dokters teëgekom in die waaksorg-eenhede?
5. Wat was die omvang en sterftesyfer van Covid?
6. Hoe werk lang Covid? Wat is die insidensie?
7. Pas Ivermectin enigsins in die prentjie?
8. Die vaksiene – was dit effektief? Wat van die newe-effekte? Is die regte besluite geneem? Wat word van die gemodifiseerde m-RNA en wat van die stekelproteien?
9. is mRNA enstowwe veilig?
10. Het iemand lang Covid of vaksien-besering?
11. As dieselfde virus nou ontsnap, wat sal dokters nou doen?

Die ander sienings

Gesondheid 9 April 2025

Bly die mRNA van die Covid-enststof net ‘n paar dae in jou liggaam? Kan die stekelproteïen verbind word met ander skade, buiten hartskade?

Gesondheid 19 Maart 2025

Wat het die Coronavirus, wat die Covid-pandemie anders gemaak het as ander Corona-virusse? Hoe herken die liggaam ‘n virus of ander indringer? Mari Hudon verduidelik in die eerste episode van ‘n reeks oor die Covidvirus en -vaksiene.

Gesondheid 19 Julie 2023

Wat weet ons nou meer oor Covid? Wat is feit en wat is fiksie? In die eerste episode in ’n reeks oor ’n Covid-terugskouing kyk ons na inligting wat dikwels eenkant toe geskuif is of verswyg is in ons poging om by die beste moontlike wetenskaplike inligting uit te kom.

 

Wendramas: 3e pryswenner se drama volgende te hoor

Ons eerste Radioteaterseisoen van 2025 begin op 3 April en duur tot 26 Junie,  elke Donderdagaand om 20:00. Luisteraars kan uitsien na oorspronklike wentekste, onvergeetlike stories en ‘n paar verrassende nuwe klanke.

Die RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV gee skrywers die geleentheid om hulle skryfvernuf te toets, ‘n kans te staan om groot prysgeld te wen, en hulle werk op die radio te hoor. Die ATKV en RSG is opgewonde om 2024 se wendramas en die belegging wat in skrywers gemaak word, ten toon te stel.

Alle dramas is ná uitsending op potgooi beskikbaar.

RSG-Radioteaterseisoen skop af

RSG se dramaseisoen skop vanaand af met die eerste drama wat om 20:00 uitgesaai word. Luisteraars kan uitsien na oorspronklike wentekste van die RSG Radiodramaskryfkompetisie, wat ons saam met die ATKV aanbied. Daar is onvergeetlike stories en ‘n paar verrassende nuwe klanke. Al die dramas is op potgooi beskikbaar, en dis uiters gewild. Om ons te vertel van hierdie seisoen, sluit RSG se dramahoof, Estel de Beer, by ons aan.

17 April
Lyne wat kruis
deur Wilmi Wheeler het die derde plek behaal, en vertel van Janine (Izel Bezuidenhout), vol twyfel en vars in die grootmenswêreld. Lindsay, ’n meer ervare kollega, gooi vir haar ’n reddingsboei: ’n lys van kliënte. Maggie is vasgevang in ’n toksiese huwelik en met elke gesprek trek sy Janine al dieper in haar wêreld in. Pietie Beyers het hierdie aangrypende verhaal geregisseer met bekende spelers soos Izel Bezuidenhout, Heidi Mollentze, Erin Patience, Johny Klein en Rian Terblanche in die rolverdeling op 17 April.
Lees meer oor die drama.

18 April
Die Paasdrama uit die argief, Die leë graf (2020), kan op 18 April om 14:00  weer gehoor word.   Nikodemus (Richard van der Westhuizen) beleef ‘n geloofstryd. Kan hy sy posisie in die Sanhedrin prysgee om Jesus openlik te bely, of skuil hy vir die res van sy lewe onder die dekmantel van die nag?  Helena Hugo is die skrywer en regisseur met Lochner de Kock, Richard van der Westhuizen, Pietie Beyers, Francois Stemmet, Ria Smit en Charlie Bouguenon in die rolverdeling.

24 April
Leniesgif,
deur Hendie Grobbelaar, is die naaswenner van die skryfkompetisie en kan op 24 April gehoor word. Benjamin de Kai (Carel Nel) is ʼn uitgebrande hygromanskrywer. Sy uitgewer se nuwe assistent, Dania, stuur hom na Leniesgif om te fokus en skryf. Daar is wel ‘n paar verrassings wat wag. Hoe pas Benjamin in Dania se plan?  Amor Tredoux is die regisseur met Carel Nel, Conradie van Heerden, Ronel Geldenhuys, Lochner de Kock, Talana Rossouw (debuut), en Anene Loots (debuut) in die rolverdeling.

1 Mei
Die 2024 wenner van  RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV was  Marion Erskine met sy futuristiese drama, Konneksie. Dawid le Roux (Anrich Herbst) is ‘n rekenaarprogrammeerder in die jaar 2050. Hy is nie te vinde vir menslike geselskap nie, en is tevrede met sy persoonlike androïede, Amanda. Die wêreld van kunsmatige intelligensie het voordele, maar ook uitdagings. Die stryd tussen mens en masjien is nog lank nie verby nie. Luister op 1 Mei na Konneksie,  met Johan Rademan as regisseur en Anrich Herbst, Karli Heine, Denver Vraagom, Ilne Fourie, Deon Lotz, Sharfa du Plessis en June van Merch in die rolverdeling.

8 Mei
Afrikaans as amptelike taal word in 2025 100 jaar oud en RSG-Radioteater het seker gemaak daar is genoeg drama en intrige om die taal se kleurryke verskeidenheid ten toon te stel. Eben Cruywagen het reeds in die tweede seisoen van 2024 die viering ingelui met  verwerkings van twee kortverhale Ou Leeumelker deur JWF Grosskopf en Gelykheid en broederskap deur Abel Coetzee, asook ‘n verwerking van  Die Sprinkaanbeampte van Sluis, deur Jochem van Bruggen in ‘n kort vervolgverhaal.

Die Sprinkaanbeampte van Sluis – Luister hier

Ou Leeumelker – Luister hier

Gelykheid en Broederskap – Luister hier

Afrikaans is op 8 Mei 1925 as amptelike taal verklaar. RSG-Radioteater bied op dié dag ‘n spesiale radiodrama Ken jy vir Fytjie Eland? aan, deur Eben Cruywagen.  Fytjie (Claudia Jones) is verlief op Tariq, maar dit dra nie haar ouers se goedkeuring weg nie. Dis die jaar 1913. Fytjie loop weg saam met Tariq. In ‘n poging om haar op te spoor tref Johannes (Johny Klein) en Katrina Eland (Eloise Cupido) soveel mense aan op die pad. Tot hulle aankom by Senator Christiaan en sy vrou, Francina Brand se huis. Terwyl die Elands hulle dogter weer vind ná ‘n soektog van 13 jaar, word  ‘n taal gebore. Met Lelia Etsebeth as regisseur en Johny Klein, Eloise Cupido, Claudia Jones, Solomon Cupido, Shemane Harris, Allan Dyssel en Marintha Labuschagne in die rolverdeling. Gavin Mathys van WITS is die aksentafrigter vir die opname.

15 Mei
Leon van Nierop is die regisseur van, As kluise kon praat, deur Marion Erskine. Die verhaal is losweg gebaseer op die 1977 Krugersdorp-bankroof wat tot vandag toe nog nie opgelos is nie. Van Nierop het berge versit met uitdagende byklanke en regie wat die drama in vele opsigte grensverskuiwend maak. Vier mynwerkers besluit hulle gaan die grootste bankroof in die Suid-Afrikaanse geskiedenis uitvoer. Hulle beplanning was so fyn dat geen spoor agtergelaat is nie. Net ‘n paar rooi gesigte en vier Elvis-maskers. Skakel op 15 Mei in om Charlie Bouguenon, Karen Wessels, Kaz McFadden, Estelle Grobellaar, Kevin Smith, Christopher van der Westhuizen en Hannes Brümmer te hoor in hierdie boeiende verhaal.

22 Mei
My Japan
bly ‘n gunsteling uit die argief. Op 11 Maart 2011 het ʼn verwoestende tsoenami Japan getref. ʼn Onderwyseres wat Engels in Japan onderrig het, Angelique Naudé, het die ramp eerstehands meegemaak en het haar ervarings en indrukke met die bekende joernalis Schalk Schoombie gedeel. Schalk het dit toe in ʼn pryswennende jeugdrama verwerk, en toe as radiodrama. Leon van Nierop het die regie behartig met Donna-Lee Roberts, Rolanda Marais en Melt Sieberhagen in die hoofrolle teenoor Stefan Vermaak, Christine Voorendyk en Ursula Vorster te hore op 22 Mei.

29 Mei
Rooi Papawer
 uit die pen van SD Fourie op 29 Mei, is keurig regisseer deur Mari Snyman. ‘n Liefdesverhaal vervleg met die Griekse mitologie vertel ‘n verhaal van hartseer, versoening, en emosionele verlossing. Met Stephanie Baartman (debuut), Elma Potgieter, Anton Dekker, Charlie Bouguenon en Louise Eksteen in die rolverdeling.

5 Junie
Albert Maritz se ‘n Hospitaalsaal in Bloem, roer die nostalgie wat herinner aan ‘n tydperk van diensplig en opoffering, twee begrippe wat oorlog definieer. In ‘n oorlogshospitaal word iets van alles in ‘n kookpot gegooi. En binne die vier mure is min wegsteekplek. Verbeel jou jou waarnemer beskou, soos ‘n voël  van hoog af, almal se beste pogings om oorlewing. Joanie Combrink as regisseur laat hierdie verhaal op 5 Junie lewe kry.

12 Junie
Broodlyn
plaas die fokus op Vadersdag. Die drama ondersoek die verhouding tussen ‘n pa, Franklyn, en sy twee seuns. Na al sy suksesse besluit hy dis tyd dat sy seuns in sy voetspore volg en hy wil alles aan sy seuns oorlaat. Die stryd om bo die broodlyn uit te styg is ‘n konstante bekommernis en kan die familie skeur of versterk.  Hein Poole is die skrywer van Broodlyn op 12 Junie.

19 Junie
Die laaste ontsnapping
op 19 Junie, is ‘n boeiende verhaal deur Stefaans Coetzee en Annerle Barnard, en ʼn blik op daardie onbekende wêreld in die tronk. Die tronk is egter meer as geweld, seks en dwelms. Daarom het die skrywers besluit om ʼn menslike storie te vertel. Lupin, ʼn gewese restauranteienaar (65), hou die rekord vir die meeste ontsnappings uit Suid-Afrikaanse tronke. Hy wil nie in die tronk sterf nie, maar is te oud om te ontsnap. Hy vra vir Roux Steyn – die antiheld van sel ses – om hom dood te steek. Roux besluit om eerder vir Lupin te probeer help ontsnap. Die rolverdeling sluit Andre Odendaal, Mortimer Williams en JJ Roberts in. Eddie de Jager behartig die regie.

26 Junie
Die seisoen sluit op 26 Junie af met ‘n verwerking van Die Damhuis, deur Reinet Nagtegaal. Henriëtta Gryffenberg het die verhaal keurig verwerk vir die radio. Dit vertel die storie van die bekende restaurant Die Damhuis op Melkbosstrand. ‘n Verhaal deur die oë van vroue wat die storm-en-drangjare van anneksasie, die stryd om eienaarskap, en die vryspreek van slawe trotseer het. Met regie deur Sophia van Taak.

Luister weer na die radiodramas wat reeds uitgesaai is

3 April
Die seisoen begin met die wenner in die afdeling vir jong skrywers, die twee-en-twintigjarige Shawn Day se drama, Die versamelde dagboeke van ene Professor Weidemann, met regie deur Luan Jacobs.

Die verhaal vertel van Malan (Hannes Brümmer), ‘n joernalis, wat die verdwyning van ‘n professor ondersoek nadat sy dagboeke deur sy vrou gepubliseer is. Daar is vrae wat nie beantwoord kan word nie. Malan soek sonder ophou om die geheim op te los wat sy lewe begin oorheers.

Hannes Brümmer, Mari Molefe van Heerden, Sulette Thompson, Francois van Rensburg, Elzabé Zietsman en Francois Stemmet is deel van die rolverdeling.

Lees meer oor die drama, met die potgooi ingesluit.

10 April
Die merietepryswenner Manie Groenewald se drama, Die vrywording van Egbertus Lodewikus Appel vertel van Stella (Rika Sennet) wat 64 word en in Huis Silwerland woon. Sy het niemand vir die geleentheid genooi nie. Haar buurman slaag daarin om haar uit haar depressie te kry. Maar dan daag ʼn tweede gas op.

Johny Klein is die regisseur met Rika Sennet as Stella, Tobie Cronjé as Ockert en Luan Jacobs as Bertie in die rolverdeling.

Lees meer oor dié drama en luister na die potgooi.

RSG tel die dae af na Afrikaans 100 met “Sending van ver”

RSG se splinternuwe middagvervolgverhaal, Sending van ver, is spesiaal ontwikkel en geskryf deur Eben Cruywagen ter viering van Afrikaans 100.

Luisteraars kan vanaf 7 April 2025 elke weeksdag inskakel (behalwe op 18 April, Goeie Vrydag) vir 23 episodes. Die finale episode word op 8 Mei 2025 uitgesaai, op die dag waarop Afrikaans as amptelike taal se eeufees gevier word.

RSG se radiodrama-afdeling het reeds sedert Mei 2024 inhoud geskep wat opbou tot die Afrikaans 100-vieringe. As deel hiervan is Eben Cruywagen opdrag gegee om ‘n reeks ou verhale te verwerk en nuwe stories te skep wat Afrikaans se ryk geskiedenis en veelsydigheid uitbeeld. Verskeie van hierdie verwerkings is reeds beskikbaar as potgooi:

‘n Huldeblyk aan Afrikaans se verbeeldingskrag

Eben Cruywagen vertel: “Ek wou met hierdie vervolgverhaal eerstens die kreatiwiteit, veelsydigheid en aanpasbaarheid van die taal uitbeeld, asook die vermoë om neologismes te skep (al is dit op kwasiwetenskaplike terrein, soos in die verre toekoms in ’n sterrestelsel ver, ver van hier, om George Lucas van Star Wars-faam se bekende aanhef te gebruik). Tale wat letterlik honderde jare ouer is as Afrikaans, soos die Wes-Germaanse Duits en Nederlands, is traag om neologismes te skep. Indien ons egter in Afrikaans nie met ’n gepaste nuutskepping vorendag kan kom nie, plooi ons daardie vreemde woord om sodanig verafrikaans te word, dat dit inderdaad klink soos ’n oorspronklike Afrikaanse woord! Ek hoop dus dat die luisteraar hierdie verhaal sal beleef as ’n prettige spel met die wonder van die Afrikaanse taal. (En mag hierdie kosbare taal van ons iewers in die verre toekoms tóg Intergalaktiese status beleef …!).”

Die vertrekpunt vir Eben begin by “C.J. Langenhoven se Loeloeraai, wat in 1923 deur Nasionale Pers Beperk uitgegee is, en word allerweë as die heel eerste wetenskapfiksieverhaal in Afrikaans beskou. As een van die groot rolspelers om Afrikaans as amptelike taal verklaar te kry, is hierdie verhaal dan ook ’n huldeblyk aan C.J. Langenhoven vir sy belangrike bydrae as Afrikaanse taalstryder. Alhoewel Sending van Ver as sodanig nie as ’n verwerking van Langenhoven se verhaal beskou kan word nie, word daar tóg in sekere aspekte in hierdie kort vervolgverhaal gedeeltelik en baie vry geploeg met Langenhoven se kalwers. Daar word immers in 1923 op Oudtshoorn ’n draai gemaak waar Loeloeraai sy aardse besoek aan Neelsie, Vroutjie, Engela en Oom Stoffel bring, kompleet met Jakhals, die skaaphond en Herrie, die olifant.”

‘n Ruimtereis deur tyd en taal

Die regisseur, Johan Rademan, gee lewe aan hierdie uitdagende vervolgverhaal: “Soos Loeloeraai in 1923, is Sending van ver ‘n toonaangewende letterkundige skat. Die genre van dialoog as opvoedkundige hefboom word kundig aangewend deur Cruywagen, nie net om aan te sluit by die huidige debat oor taal en 100 jaar tyding nie, maar ook om te  dissekteer en vrylik te projekteer met uitdagende aannames en gevolgtrekkings.

ʼn Kragtoer en ‘n  “Starwars”- skouspel word geskep met ʼn eie tyd-ruimtelike plekspesifieke taalsisteem wat geografies oor tyd en ruimte afspeel. Hoe anders word geskiedenis en geografie dan beter uitgebeeld vir die moderne oor? Die lakmoestoets lê in ʼn werkbare,  uitvoerbare kort vervolgverhaalstorie met radiospelers wat dit uitmuntend uitvoer – Johan Rademan.”

Die storie

In die verhaal reis Loeloeraai (DeKlerk Oelofse) uit ‘n sterrestelsel ver, ver hiervandaan na ons heelal. Onder die dekmantel van kulturele samewerking, soek die besoekers eintlik belangrike grondstowwe om hul eie planeet se oorlewing te verseker. Loeloeraai, onbewus van hierdie agenda, fokus op Sagmoedige Neelsie (André Terblanche) se strewe om Afrikaans as amptelike taal erken te kry. Dit neem hom na 1997, waar hy ‘n jong student, Didius Deelman (Enrico Hartzenberg), ontmoet – ‘n entoesiastiese ruimtevaartliefhebber aan die Universiteit  Stellenbosch.

Maar Loeloeraai se besoek het ‘n ander doel: hy soek ‘n geheime agent uit die toekoms wat, vermom as ‘n genetikus (Wilhelm van der Walt), probeer om die geen wat spraak moontlik maak te elimineer. Sonder kommunikasie is daar geen ontwikkeling nie – ‘n bose plan om die  mensdom se vermoë om te kommunikeer, en dus hul grondstowwe, te beskerm. Didius word betrek by die stryd en per ongeluk reis hulle 3 000 jaar die toekoms in. Daar ontdek hulle ‘n verwoeste Taalmonument, ‘n wêreld waar mense haweloos, stom en verarm is – die genetikus het in sy plan geslaag!

Met ‘n desperate terugkeer na 1997, slaag Loeloeraai en sy metgeselle daarin om die genetikus te keer en die toekoms te herstel. Op 8 Mei 5025 keer hulle terug na die Taalmonument, maar hierdie keer word hulle begroet deur die enorme Intergalaktiese Taalinstituut. Afrikaans het uiteindelik ‘n intergalaktiese taal geword!

Ster-rolverdeling

Die produksie spog met ‘n indrukwekkende rolverdeling, waaronder:

  • DeKlerk Oelofse as Loeloeraai
  • Anrich Herbst as Kommandeur Watwo
  • Maria Vos as Cleoz
  • André Terblanche as Kerneels / Neelsie
  • Ilne Fourie as Vroutjie / Lenie
  • Jane de Wet as Engela
  • Johann Nel as Oom Stoffel
  • Enrico Hartzenberg as Didius Deelman
  • Sharfa du Plessis as Bonita February
  • Pieter van Zyl as Keiser Maksor
  • Jacques Bessenger as Kaptein Malfor
  • Wilhelm van der Walt as Professor Provo van Thijn / Rascha Dumwar

Luister na Sending van ver

Die eerste episode van Sending van ver word 7 April 2025 om 14:45 uitgesaai en vervolg weeksdae tot 8 Mei 2025 op RSG en rsg.co.za. Die episodes is ook beskikbaar as potgooi.

Moenie hierdie unieke reis deur tyd en taal misloop nie! Luister RSG vir ‘n storie wat jou verbeelding sal laat reis… dalk tot in die intergalaktiese toekoms!

 

 

Luister weer: Merietewenner se drama

Die vrywording van Egbertus Lodewikus Appel deur Manie Groenewald, is die meriete wenner van die 2024 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.
Johny Klein is die regisseur en Rika Sennet, Tobie Cronje en Luan Jacobs is in die rolverdeling.
Skakel in Donderdagaand 10 April om 8 uur op RSG of rsg.co.za of op potgooi.

|Dit is Stella se vier-en-sestigste verjaardag in ʼn aftreeoord.  In ʼn toestand van neerslagtigheid het sy niemand vir die geleentheid genooi nie en wil ook nie vir enige besoeker regstaan nie.  Haar buurman daag op en slaag daarin om haar uit haar depressie te kry.  Maar dan daag ʼn tweede gas op, wat al die goeie pogings van die buurman tot niet maak en Stella dwing om met die familie-geraamtes in haar kas na vore te kom.

Van die skrywer – Manie Groenewald

Ek was sestien in 1957 toe daar vir die eerste keer ʼn radio in ons huis was.  Sedertdien laat ek nie ’n kans verbygaan om na radiodramas te luister nie.
Met die draai van die eeu poog ek om self radiodramas te skryf.  Aanvanklik was ek nie suksesvol nie, maar in 2003 kom daar ietwat van ʼn deurbraak toe Robert Young my as finalis van RSG se radiodrama skryfkompetisie nooi om ʼn mentorsessie by die uitsaaisentrum by te woon.  ʼn Derde plek in die beginnerskategorie vir my drama Die koms van Xololo word daardie jaar toe toegeken.
ʼn Paar jaar later was ek weer ʼn finalis met Anderkant die reënblom en in 2015 neem ek leiding in die skryf van Nagmaal vir twee, wat aan die Gebruikerskomitee ’n derde plek in die kompetisie besorg.  ʼn Jaar later is ek toe weer ʼn finalis met Besoek van die grensbreker.

Na die sukses van Nagmaal vir twee, neul die lede van die Gebruikerskomitee dat ons weer ʼn radiodrama skryf.  Om iets rondom ʼn lotto-kaartjie te skryf word as storie-idee aanvaar.  Ons val dadelik weg, maar ek kom gou agter die entoesiasme is nie meer daar nie en uiteindelik is ek alleen aan’t skryf.

Aanvanklik het ek die storielyn ontwikkel rondom ʼn ouer in ʼn aftreeoord wat afgeskeep voel omdat haar kinders haar nie besoek nie.  Sy bedink toe iets rondom ʼn lotto kaartjie om hulle te lok.  Met herskryf en herskryf val die lotto kaartjie weg en bly daar net Stella en die aftreeoord oor.

RSG sit die sprankel in Saterdae

RSG luisteraars kan vanaf April uitsien na ’n splinternuwe oggendprogram op Saterdae, aangebied deur Sue Pyler Slabbert.

SaterdagSprankel sal elke Saterdag van 10:00 tot 13:00 op lug wees en reisinsetsels, landbounuus, die gewilde Saterdagresep nou Sterre in die Kombuis, nuus oor snuffelmarkte, fiksheid, pretaktwiteite vir die hele gesin en ‘n verskeidenheid vermaak bevat.

Sue was voorheen mede-aanbieder van Op en Wakker op RSG en is steeds die samesteller en aanbieder van Kapityt, elke Saterdagaand net na die  21:00-nuus. Sy is in 2017 deur die Afrikaanse Taalraad met ‘n Kokertoekenning vereer. Daarby is sy ‘n veelsydige aktrise wat selfs in gewilde RSG radiovervolgverhale soos Die spoke van Duinebult gehoor is.

“Ek sien uit daarna om te leer hoe om meer kreatief te wees by die huis, interessante plekke te besoek soos proefeeste en staproetes asook hoe om beter om te sien na my algemene welstand,” sê Sue. “Luisteraars sal beslis by al die gesprekke baat vind en dit dan in hul eie lewens kan toepas. Ons verf, eet en ploeg saam tussen 10 en 1, elke Saterdag op RSG.”

NaweekAktueel
, aangebied deur Esté de Klerk, volg op Saterdae om 13:00 en dan Vastrap, met Willem Viljoen as aanbieder, om 14:00 en Goue Oues, saamgestel en aanbied deur Eloise Cupido, om 15:00.

Carla Mackenzie skuif om 16:00 agter die mikrofoon in vir Top Treffers wanneer sy reg om die wêreld reis om die jongste treffers en nuwe uitreikings met luisteraars te deel.

RSG Sport is dan vanaf 17:00 tot 19:00 en die res van die Saterdagaandprogram is onveranderd.

Vrydae en Donderdae

Reggie Philander gaan voortaan Vrydagaande langer saam met luisteraars kuier. Skud dit word verleng tot en met middernag en sal dus vanaf 21:20 tot en met 00:00 op lug wees.

Tegnologie met Blaine, wat elke Dinsdag- en Donderdagoggend in Op en Wakker as ’n insetsel uitgesaai is, word nou ’n volwaardige program. Blaine Jones is steeds die aanbieder en dit sal elke Donderdagaand net na Islam in Fokus volg. Skakel dus om 22:20 in of luister op potgooi.Die Sondagskedule asook die res van die week se programme bly onveranderd.

Nog ‘n nuwe stem

Die akteur Eddie de Jager, bekend om sy rolle in rolprente soos Ballade vir ‘n enkeling enTreurgrond, sal voortaan as kontinuïteitsomroeper op RSG gehoor word. De Jager, wat ook by RSG Drama betrokke is, sal elke tweede Sondagoggend vanaf 06:00 luisteraars geselskap hou.

“RSG se luisteraars is lojaal en uitgesproke en laat daagliks van hulle hoor,” het Kobus Burger, RSG se programbestuurder, gesê. “Die lekkerste lekker is om al die voorstelle te konsolideer en vir luisteraars meer te gee van dit waarna hulle smag en ook die inhoud en omroeperspoel te vergroot.”

Vir meer inligting besoek RSG se webblad by rsg.co.za.

Sondaggeloofsreeks, Wat het jy in jou hand?, begin op 6 April

Sondagaand, 6 April om 19:00, begin ’n splinternuwe reeks episodes van Wat het jy in jou hand, saam met Lizelle de Bruin van RSG se Binnekamer. “Wat het jy in die hand” is ’n program oor gewone mense wat buitengewone verandering bring.

Elke episode vertel die storie van iemand wat met min begin het, maar met deursettingsvermoë en passie ’n verskil in hul gemeenskap gemaak het. Of dit nou ’n klein besigheid, ’n kreatiewe projek of ’n sosiale inisiatief is, hierdie mense wys dat jy nie alles hoef te hê om iets groots te bou nie – jy het reeds genoeg in jou hand.

Hierdie seisoen ontmoet ons inspirerende individue wat uit niks iets besonders geskep het. Van entrepreneurs wat gemeenskapswerk skep tot leiers wat hoop bring in moeilike tye – hulle stories sal jou motiveer om na jou eie vermoëns te kyk en te vra: Wat het ek in my hand?

Met elke episode kry jy insig in hoe hulle uitdagings oorkom het en hoe jy dieselfde kan doen, ongeag waar jy is of waarmee jy begin.

Die reeks skop af met die vroue van Ukutunga in die Laeveld wat met gehekelde diere kos op die tafel sit.

Lizelle gesels onder andere ook met die kerkraad van die Môrewag gemeente in Primrose oor die planne wat hulle maak om die boeke te laat klop en die kerk se deure oop te hou. Ons hoor van sokker afrigters wat leierskapsontwikkeling doen en vele meer sulke stories vanoor die hele Suid-Afrika, van die Weskaap, deur die Vrystaat en Gautng tot in die Laeveld.

Moenie hierdie opwindende nuwe seisoen misloop nie! Skakel in op Sondagaand 6 April om 19:00 en laat jou inspireer deur mense wat bewys dat klein beginne groot impak kan hê. Deel ook jou gedagtes en eie storie met ons op sosiale media – wie weet, dalk is jou storie die volgende wat vertel word!

Die tema “Wat het jy in jou hand?” is geïnspireer deur die idee dat elke persoon reeds iets waardevols het – of dit nou talent, hulpbronne of unieke omstandighede is. Hierdie reeks fokus op individue en gemeenskappe wat kreatief en vindingryk gebruik maak van wat hulle tot hul beskikking het om ‘n positiewe impak te maak op hul geloofsgemeenskappe en die breër samelewing. Die tema sluit aan by die Bybelse beginsel van rentmeesterskap en die gebruik van jou gawes tot eer van God.

Die reeks van 13 episodes word aangebied deur Lizelle de Bruin.

Voorgestelde episodes vir opvolg:

  • Grootte Kerk, Kaapstad
    Intergeloofsgesprek en hoe verskillende gelowe saamwerk in die stad.
  • Twee Torings, Bloemfontein
    Die kerk se fokus op behoeftes in die middestad en gemeenskapsbediening.
  • Nasionale Kruger Wildtuin gemeente
    Die rol van stopers in die geloofsgemeenskap en hoe hulle betrokke is.
  • VGKSA, St Helenabaai
    ‘n Vissersgemeenskap se geloofsprojekte en samewerking.
  • Bikers Kerk
    Hoe hierdie unieke geloofsgemeenskap mekaar ondersteun en diens doen.
  • Maranatha Gemeente
    ‘n Voorbeeld van hoe kreatiewe projekte die geloofsgemeenskap bou.
  • Katolieke Kerk, Natal
    Onderhoud met Ds. Jacobus de Bruin oor hul gemeenskapswerk.
  • Die NG Kerk in Matjiesfontein (Wes-Kaap)
    Hierdie Victoriaanse styl kerk in die klein historiese dorpie wys hoe ‘n klein gemeente erfenis kan gebruik om besoekers te trek en die geskiedenis te bewaar.
  • Die Boomkerk (Magoebaskloof, Limpopo)
    ‘n Kerk wat geheel en al uit lewende bome bestaan, simboliseer die eenheid tussen natuur en geloof.
  • Die St. Augustine’s Katedraal (Port Elizabeth, Oos-Kaap)
    Bekend vir sy gemeenskapswerk, wys hierdie kerk hoe groter geloofsgemeenskappe hul hulpbronne kan gebruik vir sosiale impak.