Dokumentêre 2025: 27 Maart – Die kleur van lakens

Luister van 2 Januarie elke Donderdagaand om 20:00 na RSG se uiteenlopende dokumentêre en deurkruis Suid-Afrika om sy mense, diere, dorpe en selfs sy soutpanne beter te leer ken.

27 Maart
Die kleur van lakens
Die dokkie-seisoen word op Donderdag 27 Maart afgesluit met Tharien Oosthuizen se 48 uur saam met ‘n traumaberader, dr. Rian Steenkamp. Hy werk met mense en families wat moet worstel met enigiets wat ‘n lewe bedreig – van ongelukke tot siekte. Daar is min hospitale in Suid-Afrika wat traumaberading bied en dr. Steenkamp vertel van sy daaglikse uitdagings.

Luister weer

2 Januarie
Die seisoen skop op Donderdag 2 Januarie om 20:00 af met die omroeper Kobus Rudolph se program oor die Bergklub van Suid-Afrika, die reddingsdienste wat hul bied, die verskillende vorme van bergklim asook hul rol in die bewaring van die natuur.
Lees meer oor dié dokumentêr.

 

9 Januarie

Kaalkop die Waarheid
‘n Week later laat val Flip Loots die soeklig op haarverlies – ‘n dilemma vir talle jong én ouer mans. Wat is die redes daarvoor en hoe beïnvloed dit die manier hoe mans sosialiseer? Die dokkie bekyk ook moontlike oplossings.

Watter invloed het haarverlies op veral jonger mans se emosionele ingesteldheid? Is daar hoop dat iets aan die kaalkoppe gedoen kan word? Flip Loots  het die antwoorde gaan soek by ‘n haarkapper, ‘n dermatoloog, ‘n sielkundige en ‘n verteenwoordiger van ‘n maatskappy wat hulp in dié verband verleen.

16 Januarie
Die verdwyn van die Afrika pikkewyn

Op Donderdag 16 Januarie vertel Martelize Brink dat sommige omgewingskundiges voorspel dat die Afrika-pikkewyn teen 2035 sal uitsterf. Wie kan hiervoor blameer word? En hoekom is daar soveel sektore wat versuim om ‘n oplossing te vind?

Lees meer oor dié dokumentêr.

23 Januarie
Die ander Jamestown
Haidee Muller-Isaacs reis op Donderdag 23 Janurie na die ander Jamestown – ook bekend as Webersvallei. Luisteraars leer ken die mense en kultuur van dié klein dorpie buite Stellenbosch.

Lees meer: https://www.rsgplus.org/donderdagaand-dokumenter-oor-jamestown/

30 Januarie

Mariëtta Kruger

Dan kuier Ina Strydom op Donderdag 30 Januarie by die veteraan-uitsaaier Mariëtta Kruger, wat beide televisie en radio in Afrikaans met haar professionaliteit laat skitter het. Wie is die mens agter hierdie tydlose stem?

Lees meer: https://www.rsgplus.org/vanaand-profielsdokumener-oor-mariette-kruger/

13 Februarie

Screenshot

Die skatkis van die SAUK
Die daaropvolgende week, op Wêreldradiodag, gaan snuffel Elsje van Jaarsveld in die SAUK se argief – ‘n skatkis van kosbare klank. Hoe en waar word al hierdie skatte bewaar? En wie is die mense wat daagliks verseker dat alle uitsendings vir die nageslag bewaar word?

Lees meer: https://www.rsgplus.org/13-feb-n-skatkis-vol-herinneringe/

20 Februarie

Chrisjan Joubert

Swartskops se seesoutpanne
Op 20 Februarie gaan Jacques Arendt by Swartkops se soutpanne inloer. Die panne is bekend om sy braaisout wat op talle luisteraars se tjoppies en in hul kospotte beland. Hoe beland die seewater in die panne en hoe woord die braaisout vervaardig?
Lees en luister meer: https://www.rsgplus.org/luister-weer-swartkops-soutpanne-van-see-tot-sout/

27 Februarie
Paroolwet moet verander
Ilse Salzwedel, aanbieder van Skrywers en boeke, praat op 27 Februarie met verskeie slagoffers asook kenners oor die verandering van die Paroolwet.

DIE PROBLEMATIEK VAN PAROOL deur Ilse Salzwedel

Ilse Salzwedel ondersoek ‘n kwessie wat die laaste paar maande dikwels voorbladnuus gehaal het: Behoort geweldsmisdadigers parool te kry, of nie? (Die program is nie geskik vir sensitiewe luisteraars of kinders nie, aangesien dit beskrywings van geweld bevat)

6 Maart
Die week daarna gaan kuier Ettienne Ludick by die Liedjieboer wat klassieke treffers vir Sonja Herholdt en Laurika Rauch geskryf het. Anton Goosen, wat steeds albums vervaardig en konsert hou, vertel meer oor die mens agter die kunstenaar.

Conrad Theys

13 Maart
Johan van Lill kuier by Conrad Theys, die laaste Kaapse impressionis. Hierdie veelbekroonde kunstenaar woon in Bellville-Suid en is al met die ‘n toekenning van die ATKV vir sy lewensbydrae bekroon.

CONRAD THEYS: LAASTE KAAPSE IMPRESSIONIS deur Johan van Lill

Conrad Theys staan bekend as een van die laaste Kaapse impressioniste. Johan van Lill het by hom in sy huis in Bellville-Suid gaan kuier. Hierdie geliefde Suid-Afrikaanse kunstenaar is al met vele pryse vir sy skilderwerk vereer, onder meer ‘n eredoktorsgraad, ‘n medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en onlangs die Suidoosterfees en die ATKV se toekenning vir ‘n lewensbydrae in kuns.

20 Maart
Kaapstad en Tafelberg se kabelkar is bykans 100 jaar oud en Johan Rademan gaan op 20 Maart meer uitvind oor hierdie toeriste-attraksie wat steeds jaarliks derduisende besoekers lok.

Klik hier vir meer inligting oor die dokumentêr.

 

Luister weer: Tafelberg se kabelkar

Luister op 20 Maart na Tafelberg se kabelkar –  saamgestel en aangebied deur Johan Rademan.

Johan Rademan vertel die verhaal verder van vandag se twee roterende moderne kabelkarre wat 65 passasiers elk dra en 900 mense per uur teen 10 meter per sekonde vervoer in “Tafelberg se kabelkar” op RSG.

TAFELBERG SE KABELKAR deur Johan Rademan

Die afgelope 96 jaar word Tafelberg se kabelkar ingespan om mense en goedere op en af te laat ry. Johan Rademan het in die skadu van ou Tafelberg gaan kuier.

 

Johan Rademan en Collette van Aswegen.

Die eerste mense het verwys na Hoerikwagga, die berg wat in die see staan. Tafelberg isoor eeue berym, besing en beklim met bykans ‘n 100 staproetes.. Sedert 1929 kan Tafelberg per kabelkar bestyg word en bykans n miljoen besoekers per jaar besoek tans die ikoniese berg via die Tafelbergsweefspoormaatskappy.

Daar is n honderd staproetes en meer as 2 000 plantspesies(meer as in die hele Verenigde Koningkryk) in een van die 7 Natuurlike wonders van die wereld wat deur Sanparke bedryf word.

Johan Rademan het met Besturende-direkteur Wahida Parker, Bemarkings en kommunikasie bestuurder, Collette van Aswegen, ingenieur Andries de Vries, Omgewingskundige, Dave Pepler en Meesterplantkundige van Babylonstoren Erns van Jaarsveld gesels oor die 300 miljoen jaar oue berg en die moderne konteks waarbinne die kabelkar funksioneer. ‘n Paar besoekers aan die berg via die kabelkar sorg vir n bietjie komiese verligting tussen rotse wat tot 600 miljoen jaar oud geskat word.

Agtergrond inligting

In 1998 is nagenoeg 25 000 hektaar wat Tafelberg en die gebied om dit insluit, as die Tafelberg Nasionale Park verklaar. Die gebied strek van Vlaeberg (Seinheuwel) oor Tafelberg, Duiwelspiek, die middestad tot by Kaappunt.

Hoerikwaggo (Berg in die see) genoem deur die Khoi-bevolking en Taboa de Caba (Tafel van die Kaap) deur die eerste Europeër wat die berg geklim het, Antonio de Saldanha en dit is die wêreld van die Koningsprotea en eksotiese Rooidisa, twee van amper 2300 plantspesies wat jy slegs in die gebied op die aardbol kry.

Navorsers reken dat van die rotse tot 600 miljoen jaar oud kan wees en Tafelberg self tot 300 miljoen.

Die hoogste punt op Tafelberg is die Maclear-baken wat Sir Thomas Maclear met ‘n klipstapel aangedui het in 1865 en n rol gespeel het in die meting van die ronding van die aarde.

Sir Thomas Maclear, ʼn sterrekundige, het in 1865 ‘n groot klipstapel, 1 086 meter bo seevlak, gebou wat die hoogste punt van Tafelberg aandui. Dié kliphoop, wat die Maclear-baken genoem word, is destyds gebou om te help om die aardkromming te meet en is, sowat  19 meter hoër as die huidige kabelkarstasie.

1929 openings kabelkarretjie
Opgegradeerde kabelkarretjie
Die rit van vyf minute met die sweefspoor na die kruin van Tafelberg bied aan die besoeker ʼn 360⁰-panoramiese uitsig oor die oseaan, strande, stad en berg. Die twee roterende moderne kabelkarre kan tot 65 passasiers op ʼn keer dra en vervoer 900 mense per uur teen ’n rustige spoed van 10 meter per sekonde. Op die kruin is daar 350 verskillende voetslaanpaaie. Daar is ook ʼn selfdienrestaurant en ʼn winkel waar jy aandenkings kan koop. Dié winkel is in die oorspronklike kliphuisie ingerig.
Johan Rademan gesels met meganiese-ingenieur Andries de Vries by die enjinkamer van die Tafelbergkabelkar

Die Table Mountain Aerial Cableway het in 1929 amptelik die publiek verwelkom. Vandag, 95 jaar later besoek amper n miljoen mense jaarliks Tafelberg deur die Tafelbergsweefspoor of “Kabelkar” met  ʼn 360 ⁰-panoramiese uitsig, tydens ‘n rit van vyf minute na die kruin van Tafelberg, Suid-Afrika se mees besoekte toerisme baken.

Johan Rademan vertel die verhaal verder van vandag se twee roterende moderne kabelkarre wat 65 passasiers elk dra en 900 mense per uur teen 10 meter per sekonde vervoer in “Tafelberg se kabelkar” op RSG.

RSG en ATKV bied vanjaar 1e keer saam ‘n Kuierkol program by KKNK aan

Feesgangers na die KKNK kan vanjaar vir die eerste keer uitsien na ’n geskiedkundige geleentheid wanneer die ATKV en RSG gesamentlik die Kuierkol aanbied.

Die KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees) is waarskynlik Suid-Afrika se mees geliefde Afrikaanse familiefees, waar oud en jonk bymekaar kan kom om onder meer die Afrikaanse kunste, kultuur, toneel en musiek te vier en geniet.

Kom geniet ’n propvol program met regstreekse uitsendings, vermaak, speletjies vir oud en jonk, kinderpret, slypskole en musiekoptredes. Feesgangers word uitgenooi om RSG se gewilde omroepers te ontmoet terwyl hulle heerlike versnaperings rondom die Kuierkol kan geniet.

Kuierkol: ATKV en RSG span saam by KKNK

Die KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees) is waarskynlik Suid-Afrika se mees geliefde Afrikaanse familiefees, waar oud en jonk bymekaar kan kom om onder meer die Afrikaanse kunste, kultuur, toneel en musiek te vier en geniet.

Feesgangers kan vanjaar vir die eerste keer uitsien na ’n geskiedkundige geleentheid wanneer die ATKV en RSG gesamentlik die Kuierkol aanbied.

Kom geniet ’n propvol program met regstreekse uitsendings, vermaak, speletjies vir oud en jonk, kinderpret, slypskole en musiekoptredes. Feesgangers word uitgenooi om RSG se gewilde omroepers te ontmoet terwyl hulle heerlike versnaperings rondom die Kuierkol kan geniet.

Volgens Amoré Swanepoel, bemarkingsbestuurder van RSG, gaan die Kuierkol ’n hoogtepunt by die KKNK wees.

“Dit is die eerste keer dat die ATKV en RSG ’n Kuierkol by die KKNK het en dit is ’n vennootskap waaroor ons baie opgewonde is,” sê sy.

“Ons werk al vir so ’n paar jaar saam met die ATKV aan die Radiodramaskryfkompetisie en ons het al hoe meer begin gesels oor sake wat ons gemeen het wat ons twee entiteite betref; die ooreenstemming in terme van ons teikengehore, ons liefde vir Afrikaans en sy mense en waar ons onsself oor ’n paar jaar sien. Alles het net eenvoudig so goed ooreengestem. Dit is ’n baie gemaklike vennootskap wat eenvoudig net lekker sal kan werk.”

Amoré beklemtoon dat die Kuierkol vir die hele gesin is.

“RSG is baie opgewonde om terug te wees by die KKNK, maar in ’n ander formaat as voorheen. Die Kuierkol bied waarlik iets vir elke lid van die gesin – en sommer net ’n lekker plekkie om jou moeë feesvoete te rus!”

Amoré sê daar is ’n wonderlike verskeidenheid geleenthede waarna gaste kan uitsien.

“Ons het daagliks ’n regstreekse uitsending van RSG-programme (Eloise Cupido en Martelize Brink), boekbesprekings, lewendige musiek, Bazoo en Tippie kom kuier, gesigverf, ’n blitskafee, radiodramawerkswinkels, ’n komedie-uur en soveel meer!”

Amoré sê RSG beoog om vir sy luisteraars vermaak op ’n vars en splinternuwe wyse aan te bied.

“Ons wil saam met ons luisteraars kuier en vir die res van die land ’n smakie van die KKNK gee, asook lekker verhoudings bou om Afrikaans as taal en kultuur sterker en nog lekkerder te maak!”

Gerrie Lemmer

Gerrie Lemmer, die ATKV se uitvoerende hoof van kultuur, is net so opgewonde oor die ATKV en RSG se vennootskap.

“Dit is inderdaad die eerste keer dat die ATKV, RSG en die KKNK ’n Kuierkol aanbied. Oor die jare heen het die ATKV en RSG ’n verskeidenheid vennootskapprojekte aangebied. Die Kuierkol is ’n geleentheid wat nog ’n suksesverhaal sal afskop,” sê hy.

“Die ATKV heg groot waarde aan strategiese vennootskappe met diegene wat tot Afrikaans se voordeel dink, belê, werk en droom. Die ATKV en RSG het gedeelde waardes en strategiese doelwitte, wat ’n vennootskap soos dié baie spesiaal maak. Dié vennootskap is ’n uitvloeisel van projekte soos RSG en die ATKV se Radiodramakompetisie.

“Daar is geen ingangsfooie by die Kuierkol nie. Die ATKV, RSG en KKNK stel graag ’n lekker, gratis kuierruimte vir feesgangers beskikbaar om hul feeservaring te verryk.

“Dit is vir die ATKV en RSG kernbelangrik om vir alle Afrikaanssprekendes ’n vriendelike, kreatiewe en akkommoderende ruimte by die KKNK te skep en sosiale kohesie te bewerkstellig,” voeg hy by.

Die jongspan kan ’n draai maak vir gesigverf, saam met Tippie die olifant en Bazoo die vriendelike bergskilpad kuier en ’n liefde vir lees kom koester.

Oom Karoolus en Lente is ook daar om saam met die maatjies te sing en dans.

Daar word daaglikse pryse soos wonderlike leesboeke en die ATKV se eie Meer bek as binnegoed-bordspeletjie weggegee.

Besoekers aan die Kuierkol staan ook die kans om ’n midweek-blaaskans vir vier persone by ’n ATKV-oord van hul keuse te wen.

Nog meer om na uit te sien

Estel de Beer

Estel de Beer, senior regisseur: mandaat drama en opvoedkunde van RSG, sal onder meer ’n Radiodrama-blitswerkswinkel op Dinsdag 1 April aanbied. Tydens hierdie werkswinkel kan daar uitgesien word na ’n bespreking oor hoe ’n radiodrama werk en hoe om ’n toneel met klank te skep. Estel sal ook gesels oor stemspeluitdagings en klankeffekte-orkeste.

’n Skryfwerkswinkel sal ook op 3 April aangebied word. Tydens hierdie werkswinkel sal daar bespreek word hoe die skryf van ’n radiodrama verskil van ander mediums, hoe karakters geskep word, wat belangrik is met betrekking tot dialoog en wat die struikelblokke vir nuwe skrywers is.

Op 2 April sal ’n boekbespreking met Chareldine van der Merwe (projekorganiseerder van die Vriende van Afrikaans) en Schoemé Steenkamp (programkoördineerder van kinderteater by die KKNK) ook kinderstories en die belang daarvan onder die loep neem.

Die nimlike Antoinette Pienaar neem ook op 4 April aan ’n boekbespreking deel, terwyl nog ’n boekbespreking met skrywer Hannes Visser op Sondag 6 April plaasvind.

Jak de Priester, Petronel Baard, Selby Williams, Yaaseen Barnes en vele meer is van die kunstenaars wat by RSG en die ATKV se Kuierkol gaan optree. Jerome Rex en Taalgenoot-RUK EN RYM se Floris Voges gaan ook in aksie wees.

Die Kuierkol-program bied iets vir die hele gesin.

Hier is die Kuierkol program vir 1 tot 6 April 2025

29ste RSG-Radiodramaskryfkompetisie aangekondig

RSG bied met trots die 29ste RSG-Radiodramaskryfkompetisie aan. Tydens die kompetisie kry skrywers die geleentheid om hul hand te waag aan ‘n radiodrama. Talle van RSG se gesoute skrywers het heel eerste pen op papier gewaag toe hulle vir die RSG-Radiodramaskryfkompetisie ingeskryf het.

Die kompetisie is uniek omdat dit aan skrywers gratis hulpbronne verskaf. RSG is ook opgewonde dat daar weer in 2025 in samewerking met die ATKV gratis slypskole in Johannesburg en Kaapstad aangebied word. Deelnemers sal ook die opname van ’n kort radiodrama kan bywoon en kenners sal die fynere kunsies van radiodrama deel.

Die totale prysgeld is vanjaar R115 000. Die algehele wenner ontvang R50 000, die naaswenner R25 000 en die drama wat die derde plek beklee kry R15 000.  Die Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) sal ook R15 000 ontvang. ‘n Bykomende merieteprys van R10 000 word toegeken aan ‘n drama wat deur die beoordelaars gekies word uit die finaliste wat nie vir die vier topposisies kwalifiseer nie.

Buiten die prysgeld word die wendramas ook in 2026 op RSG uitgesaai.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 31 Julie 2025. Inskrywings kan slegs aanlyn ingedien word.

Sonél Brits

RSG is opgewonde om hierdie jaar die gesogte kompetisie saam met die ATKV aan te bied. “Die ATKV is trots om die 29ste RSG-Radiodramaskryfkompetisie te ondersteun. Om in mense se lewens te belê deur geleenthede in hul moedertaal te skep, is ons grootste vreugde en ons belangrikste plig”, sê Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW.

Die ATKV glo dat hierdie kompetisie ’n nuwe geslag radiodramaskrywers skep en só bou aan die relevansie van radioteater. Brits voeg by dat kompetisies soos hierdie ’n bydrae lewer tot ons taal se groei en vooruitgang.

Die ATKV is opgewonde oor die nuwe seisoen en ook oor radiodramas se voetspoor wat vergroot word danksy digitale en sosialemediaplatforms.

Marion Erskine by Clare Clark Photography 9

Marion Erskine is in 2024 as die algehele wenner aangewys en sê dat “daar min dinge so betowerend vir ’n skrywer is as om te hoor hoe hul woorde tot lewe kom.”

Volgens hom skep ‘n skrywer ’n storie uit ‘n gewone idee, en dan kom ’n regisseur, talentvolle akteurs en klankkunstenaars saam om dit met hul unieke sprankel te omskep in iets groot. Die woorde op wit papier, word ’n werklikheid. Dit word ’n storie wat voel, asemhaal en mense raak.

Die basiese riglyn vir die kompetisie is as volg:

  • Daar is geen voorgeskrewe tema nie.
  • Inskrywings  moet nuwe en oorspronklike radiodramas wees. Geen verwerkings van bestaande materiaal of verhoogdramas of stories wat al voorheen gepubliseer is, sal aanvaar word nie.
  • Die volle spektrum van Afrikaans se variëteite kan gebruik word.
  • Slegs een inskrywing per persoon word toegelaat.
  • Die duur van die dramas moet tussen 40 en 50 minute wees.
  • Die dokument kan ‘n maksimum van 45 A4-bladsye wees wat volgens die wedstrydreëls getik is.
  • ‘n Maksimum van sewe karakters word toegelaat.

‘n Volledige handleiding, die reëls en inligting rakende die slypskole, is gratis op RSG se webblad beskikbaar. Besoek RSG se webblad by rsg.co.za vir besonderhede oor die kompetisie.

Hier is die skakels na die nodige inligting:

Kompetisie inskrywing: https://forms.gle/11n1BcXMoqitY51g6

Registreer hier vir die slypskool: https://forms.gle/hcig775UUfQ6jjtE8

Slypskool inligting_RSG radiodramaskryfkompetisie 2025

Reels 2025

RSG Radiodramahandleiding 2025

Handleiding en skryfwenke_Eben Cruywagen_RSG Radiodramaskryfkompetisie 2025

Vir meer inligting, kontak Estel de Beer Senior Regisseur Mandaat: Drama en Opvoedkunde.
E-pos: estel@rsg.co.za

 

 

 

Sukkel jy om jou doelwitte te bereik?

Sukkel jy om jou doelwitte te bereik? Hoekom sukkel die meeste van ons daarmee? Is daar iets met jou verkeerd, of die doelwitte wat jy stel? Kom vind uit hoe om sukses te behaal.

Onlangse Meerkat-ontdekking; Hoe sonseil-satelliete kan waarsku teen gevaarlike ruimteweer

Stefan Lotz van SANSA op Hermanus bring ons op hoogte van die jongste ruimteweer.

Ons beantwoord ’n luisteraarsvraag oor ’n onlangse Meerkat-ontdekking, en ’n soortgelyke merkwaardige ontdekking deur radioteleskope in Europa.

Die span bespreek ‘n tegniek waar sonseil-satelliete ingespan kan word as vroeë waarskuwing wanneer gevaarlike ruimteweer die aarde mag bedreig.

Die POPI-wet; Padongelukkefonds vasgevat

Igna Klynsmith bespreek ‘n luisteraarsvraag oor die POPI-wet.

Spesialisgas Susan de Wet vertel van ‘n saak oor die Appèlhof wat die Padongelukkefonds vasgevat het.

Wet op Egskeidings: gades kan teen mekaar se boedels eis

 

Igna Klynsmith praat oor Sportreg.

Familieregkenner Riëtte Oosthuizen bespreek die geldigheid van Artikel 7(7)(c) van die Wet op Ekskeidings, wat handel oor gade wat nou teen mekaar se boedels kan eis, al is hulle buite gemeenskap van goedere getroud.

Hoekom is prosteses so duur in SA?

Hoekom is prostese so duur in Suid Afrika? Hoekom word dit nie hier ontwikkel nie? Barrie Ferreira praat hieroor met kenners wat dit wil probeer verander.