Luister weer na “Eindfluitjie” en beleef weer die 1995 Wêreldbeker-oorwinning

Waar was jy tydens die 1995 Rugby Wêreldbeker finaal? En onthou jy nog Stransky se skepskop?

Regisseur Johan Rademan was saam met Heinrich Marnitz 30 jaar gelede in die kommentaarspan.

In Donderdagaand se radioteater onder regie van Johan Rademan, beleef jy saam die 15-12 Springbok oorwinning oor die All Blacks en al die skoppe (waarvan drie skepskoppe) in Albert Short se Eindfluitjie.

https://omny.fm/shows/radioteater/eindfluitjie-deur-albert-short

Die storie en die werklikheid

‘n Seun wie se droom om eendag die groen-en-goud te dra, het nie kaartjies vir die eindstryd nie, maar beland langs die Ellispark Rugby-stadion waar hy self wonderwerke beleef en ‘n liefde ontdek in ondernemende geselskap.

Die drie skoliere word vertolk deur Stefan Vermaak, Jane de Wet en Eloff Snyman, terwyl Wilhelm van der Walt, Roeline Daneel en Deon Lotz die ouer garde verteenwoordig.

Deon Lotz was toevallig in ‘95 met sy Springboktruitjie as ‘n toeskouer in die pawiljoen. Een van die Springbokke se troefkaarte was Roger Whittaker se lied, “I don’t believe in if anymore” wat oor en oor op die bus van die hotel af gespeel is.

Daar was die Lebombo – Boeing 747 verby vlugte. Dalk was Lebombo ons “Bom-squad” in 1995.

Ou Suzie wat die All Blacks op hol gehad het.

Leon Schuster se “Hie kommie Bokke”, Mandela se 6-Trui en PJ Powers se “World in Union.”

Hoor jy dit, ruik jy dit en voel jy dit nog?

Luister Donderdagaand 20 November om 20h00 na dié radiodrama. Staal jou vir ‘n grote! Beskikbaar op rsg.co.za as Potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

 

 

Ons nuwe Bekbasaar ‘Die Reine Wynheid’ is ‘n ryk verkenning van SA se wynerfenis

RSG, Suid-Afrika se grootste Afrikaanse radiostasie, is verheug om die bekendstelling van sy nuutste, opwindende bekbasaar, Die Reine Wynheid, wat fokus op wyn en alles wat daarmee te doen het, aan te kondig.

Onder leiding van die ervare radiopersoonlikheid Martelize Brink, beloof hierdie program om luisteraars op ‘n intieme en insiggewende reis deur die ryk en diverse wêreld van die Suid-Afrikaanse wynbedryf te neem.

Die Reine Wynheid is meer as net ‘n program oor wyn; dit is ‘n viering van ons nasionale wynerfenis, wat strek van die historiese begin in 1659 tot die hedendaagse wyn-innoveerders.

Martelize Brink sal weekliks legendes, nuwe wynkunstenaars, sommeliers, wingerdboukundiges, bemarkers en passievolle sjefs in die ateljee verwelkom.

Wat Luisteraars Kan Verwag:

  • Historiese Rykdom: Die program delf in die nalatenskap van ikone soos Groot Constantia, die impak van die KWV, en die opkoms van streeksfenomene soos die “Mavericks van Malmesbury”.
  • Diverse Stemme: ‘n Platform vir groot en klein wynprodusente uit al die wynstreke van Suid-Afrika, wat hul stories, uitdagings en suksesse deel.
  • Insiggewende segmente: Martelize se weeklikse segment “my wyn van die week” bied persoonlike aanbevelings, terwyl sy ook interessante en soms vreemde wynfeite van regoor die wêreld deel.
  • ‘n Speelse Afsluiting: Elke episode eindig met vyf vinnige, persoonlike vrae aan die gaste, insluitend die heerlike intrige: Wie is hulle wynmaker “crush” en indien hulle ‘n wyn was, watter wyn sou hulle persoonlikheid die beste verteenwoordig?

“Ons is ongelooflik opgewonde oor Die Reine Wynheid,” sê Louise Jooste, RSG se Sakebestuurder.

“Hierdie program beklemtoon RSG se verbintenis om kwaliteit, opvoedkundige en vermaaklike inhoud te verskaf wat luisteraars toelaat om hulself te verdiep in die passie en kundigheid agter een van Suid-Afrika se trotse bedrywe. Martelize Brink se kundigheid en warmte maak haar die ideale gids vir hierdie bekbasaar.”

“Dit is vir my heerlik om hierdie Bekbasaar aan te bied,” sê Martelize Brink “Ons wynbedryf en sy mense is vol stories, heerlike interessanthede en stories wat jy eksklusief op die bekbasaar sal hoor.”

Die Reine Wynheid sal beskikbaar wees op al RSG se digitale platforms (rsg.co.za, SABC+, Spotify en YouTube).

Jy kan elke Woensdag uitsien na nuwe episodes. Luister saam en word deel van die gesprek wat die ryk, vrugbare grond van ons wynkultuur eer.

 

Ouma wen 2025 se Bakgat-beskuitkompetisie: bestel die wenners se beskuit hier

‘n Ouma van Pretoria met nege kleinkinders wat behoorlik smul aan haar beskuit, is as die algehele wenner aangewys in RSG en Virseker se landwye soektog na die land se “bakgatste” beskuit. Magda Janse van Vuuren (71) het ‘n totale pryspakket ter waarde van meer as R700 000 ontvang.

Van Vuuren met haar “Alles in een”-ontbytbeskuit het ook in die modern-kategorie gewen met Dominique Stander van Alberton en Martie Lamprecht van Klerksdorp in onderskeidelik in die tweede en derde plek.

Neels Heydenreich (58) van Ermelo het in die tradisioneel-kategorie koning gekraai met sy anysbeskuit. Izanne Barnard van Gqeberha was in die tweede plek en Carine van der Merwe van Jeffreysbaai in die derde plek.

Marthlé Smit van Gqeberha, 2024 se Bakgat-wenner, was een van die eindronde se beoordelaars en het die algehele wenner regstreeks op RSG aangekondig.

Van Vuuren was sprakeloos toe sy na afloop van die finale proe-beoordeling as Bakgat-bakster aangewys is.

Die 2025 Bakgat-beskuitkompetisie was vanjaar dubbeld so groot en het luisteraars uitgenooi om in twee kategorieë in te skryf: Tradisioneel en Modern. Die passie en kreatiwiteit van Suid-Afrika se bakkers het alle verwagtinge oortref.

Die uitdunproses was vanjaar besonder uitdagend weens die twee afdelings. Tydens streng proe-rondes is die oorspronklike inskrywings tot ‘n groep van top-finaliste verminder, wat die beoordelaars se taak om die wenner van die land se beste beskuit te bepaal, net moeiliker gemaak het. Die Top 6-finaliste se beskuit is op Nasionale Beskuitdag, Donderdag 13 November, een laaste keer geproe om ‘n wenner aan te kondig.

Die ses van die bestes van Suid-Afrika se bakkers is tydens ‘n luisterryke geleentheid by Virseker se kantore in Johannesburg geproe met RSG se Eloise Cupido en Derrich Gardener as die gasvrou en gasheer.

Die finale paneel beoordelaars het onder andere 2024 se wenner, Marthlé Smith ingesluit, asook bekendes en kenners uit die kos- en entrepreneurskapswêreld.

Die 2025-prys is spesifiek saamgestel om die wenner in staat te stel om hul eie sake-onderneming te kan begin en uit te brei:

  • R500 000 se lugtyd op RSG.
  • Die ontwikkeling van die wenner se onderneming se korporatiewe identiteit.
  • Blootstelling op Maroela Media ter waarde van R70 000.
  • Beskuitpanne van Panneman
  • R30 000 kontant geskenk deur Virseker.
  • Mentorskap deur Michelin-Chef, Jan-Hendrik van der Westhuizen!

Die wenners in elke kategorie ontvang ook elk R10 000 van Virseker. Die tweede en derde plek ontvang elk R5 000 geskenk deur Virseker. Panneman borg ook beskuitpanne vir al die top-finaliste.

“Ons voel Virseker en Afrikaans gaan hand aan hand soos koffie en beskuit. Ons deel RSG se liefde en opwinding vir Afrikaans,” sê Morné van Emmenes van Virseker oor hierdie besonderse vennootskap. “Om entrepreneurskap te bevorder terwyl ons die Afrikaanse gemeenskap deel maak van die projek, is vir ons ongelooflik vervullend.”

Louise Jooste, RSG se sakebestuurder, het haar dankbaarheid uitgespreek. “RSG se luisteraars is werklik die heel beste. Ons is oorweldig deur die passie van die deelnemers en die verskeidenheid baksels in die nuwe kategorieë. Nogmaals dankie aan elke deelnemer. Mag julle dryfkrag vir julle vele deure open.”

Soos in verlede jaar, sal die oorblywende beskuit-inskrywings aan behoeftige mense en instellings versprei word in samewerking met liefdadigheidsorganisasies, om sodoende ‘n tasbare verskil in die gemeenskap te maak.

As jy by ons finaliste wil beskuit bestel, kontak hulle gerus:
  • Neels Heydenreich – Anys: neelsheydenreich@gmail.com
  • Dominique Stander – Death by Chocolate: nikkistander7@gmail.com
  • Izanne Barnard – Karringmelk: mammasegebak@gmail.com
  • Martie Lamprecht – Pistatio en cranberry Biscotti fingers gedoop in koffiesjokolade: martielamprecht@gmail.com
  • Carine van der Merwe – Karringmelk: vdmfam@hotmail.com
  • Magda Janse van Vuuren: Haar beskuit sal eersdaags in Plato’s landswyd te koop wees, waarna sy eersdaags haar eie winkel sal loods. Hou ons platforms dop vir verdere inligting.

Vir meer inligting, besoek rsg.co.za of die stasie se sosiale media.

Luister weer: ‘Desembersterre’ gee ‘n komiese kykie in die lewe van TV-sterre

Glanspaartjies en die leefwêreld van bekendes is nie altyd maanskyn en rose nie. In Desembersterre wat op 13 November uitgesaai word,  het Helena Hugo haar ervaring as aktrise en skrywer vervat in ‘n pittige komedie wat juis die wel en weë van die voorbladgesigte ontbloot. Geniet ‘n kykie agter die skerms in die lewe van TV-sterre.

Die storie

Desembersterre is geskoei op ‘n komiese liefdesverhaaltjie wat Helena ‘n paar jaar gelede geskryf het. Dit is gebaseer op haar eie ervaring van die toneelwêreld, die wel en weë van akteurs, aktrises en ja, gewilde sepiespelers.

Agter die skerms is hulle ook maar net gewone mense wat hopelik soms vir hulself  kan lag.

Die lewens van bekende sepiesterre prikkel die verbeelding van Jan Alleman. Voorblaaie vertel die stories van hul lewens agter die kameras. Deesdae neem sterre die storie in hul eie hande en deel hul lewens op sosiale media. Beide die platforms vertel steeds net geselekteerde en soms gepoetste weergawes van dit wat die sterre en die vervaardigers met ons wil deel.

Desembersterre bied ‘n humoristiese kyk op die regte lewens van ‘n paar sepiesterre en ons leer meer oor hul persoonlike en professionele uitdagings. 

Die akteurs

Lizelle Pike, Dihan Keun, Botha Enslin, Mia-Anne O’Kennedy, Sean Brebnor en Rian Terblanche is in die rolverdeling.

Van die skrywer – Helena Hugo

“Ek het my CV gaan raadpleeg en met ‘n skok besef dat ek my eerste radiotekste, al in 1978 geskryf het: Atlantis, ‘n vervolgverhaal van 15 episodes vir Iris Bester se Jongspanateljee.”

Daarna het sy verskeie boekverwerkings gedoen voordat sy haar eie stories vir volwassenes begin skryf en opgevoer het. Sy is nogal trots is op haar  ATKV-veertjie vir Swane. “Radiodrama as genre fassineer my geweldig en ek is dankbaar dat ek steeds my bydrae kan lewer,” sê Hugo.

Van die regisseur – Estel de Beer

“Ek het besluit om die karakters, selfs wanneer hulle nie op die kassie is nie, ietwat as karikature uit te beeld. Nie omdat akteurs in die regte lewe altyd so is nie, maar omdat die publiek soms vergeet dat akteurs ook net gewone mense is.”

Helena se spitsvondig skryfstyl en dialoog in die drama het juis ruimte geskep vir die interpretasie. Ons leun werklik in die drama in.

Desembersterre het talle musiekbrûe. Dit spreek ook tot die wêreld van die vermaaklikheids-industrie waar musiek ‘n groot rol speel in die vervaardiging van produksies. Daar is deur die hele drama van instrumentale musiek gebruik gemaak sodat die enigste dialoog die van die akteurs is, juis omdat die kollig altyd op hulle val. Die liedjies is egter nie lukraak gekies nie en musiekliefhebbers wat die liedjies herken sal verstaan hoe die lirieke (wat jy in jou gedagtes kan saamsing) by spesifieke tonele inpas.

 

 

 

 

Wat is akwakultuur? En rooigety?

Wat is akwakultuur? Ons stel ondersoek in aan die hand van ongewone voorbeelde van die uithoeke van die aarde af.

Ons hoor by ‘n kenner hoe om akkuraat te antwoord wanneer die kleinspan vra wat rooigety is.

Ferdie Endeman, ‘n spesialisvoorligter in akwakultuur by die Departement van Landbou in die Wes-Kaap, deel stories oor ‘n plaaslike waterboer.

https://omny.fm/shows/rsg-landbou/rsg-landbou-3-november-2025

Illustrasies: https://www.researchgate.net/figure/Different-aquaculture-production-systems-in-closed-tanks-ponds-and-raceways-and-open_fig1_380643763

Luister weer na Athol Fugard se drama ‘Daar leef mense daar’

Die drama, Daar leef mense daar (2012), word vanaand om agtuur weer uitgesaai as huldeblyk aan die bekroonde dramaturg Athol Fugard wat vroeg in 2025 oorlede is.

Fugard was alom bekend as dramaturg van protesteater. Met Daar leef mense daar (People are living there) beeld hy in die tragikomedie ’n middeljarige vrou, Millie, uit wat vasgevang is tussen haar verlange na betekenis en die harde werklikheid van haar eensaamheid.

Die toneelstuk is vertaal deur Marko van der Colff en vir die radio verwerk en regisseer deur Margo Luyt.

In die rolverdeling is Deidre Wolhuter, Johann Nel, Wessel Pretorius en Hannah Borthwick.

Die toneelstuk is vir die eerste keer in 1968 in Suid-Afrika opgevoer.
https://omny.fm/shows/radioteater/daar-leef-mense-daar-deur-athol-fugard

Die storie

Die radiodrama speel af in ‘n vervalle losieshuis in Johannesburg met ‘n paar karakters wat elkeen hulle eie storie het om te vertel.

Millie, die middeljarige eienares van die losieshuis, wat afgesonder en onvergenoegd voel, probeer te vergeefs die aandag van ‘n lang verlore kennis trek. Op die vooraand van haar verjaarsdag besluit sy om ‘n partytjie saam met haar loseerders te hou in ‘n poging om te bevestig dat “mense daar woon”, dat hul lewens betekenis het ten spyte van hul onbekendheid en eensaamheid. Soos die aand ontvou, verander die partytjie in ‘n rou, emosionele konfrontasie oor mislukking, veroudering en die behoefte aan menslike verbintenis.

Die loseerders in haar huis word opgekommandeer om haar met hierdie planne by te staan.

Don is ‘n filosoof van aard wat sy intellektuele vermoë laat geld deur gedurig Millie se geestestoestand te analiseer.

Shorty, ‘n ongeskoolde posbode, loseer saam met sy vrou Sissy by Millie.

Daar leef mense daar deur Athol Fugard, 6 November op RSG en rsg.co.za om 20:00. Beskikbaar op rsg.co.za as Potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

 

En die Top 6 beskuitbaksels is…

Die finale 72 beskuitbaksels is geproe en die top ses bakkkers/baksters is aangewys.

Top 3 Tradisioneel is:

Izanne Barnard van Port Elizabeth
se Mamma se gebak (karringmelk)
Neels Heydenreich van Ermelo

se Anys-beskuit

Carine van der Merwe van Jeffreys Baai
se Karringmelk-beskuit
Top 3 Modern is:
Martie Lamprecht  van Klerksdorp
se Pistatio en cranberry Biscotti fingers gedoop in koffiesjokolade
Dominique Stander van Alberton
se Death by Chocolate
Magda Janse van Vuuren van Pretoria
se Alles in een ontbyt

Hier is die tabelle dop met die genommerde baksels, die bakker se naam en die puntetelling uit 200 punte.

TRADISIONELE BESKUIT

Nr van baksel

Bakker

Punte uit 200

1 Sarah Raubenheimer 148
2 Leon van Eeden 144
3 Dwane van Nieuwenhuysen 113
4 Neels Heydenreich  171*
5 Christiaan Jansen van Vuuren 134
6 Soné Pretorius 153
7 Wilida Crous 153
8 Veronica Klue 148
9 Elaine Zeeman 143
10 Magda Janse van Rensburg 127
11 Ernestine Campher 139
12 Francois Cloete 118
13 Joenita Friedrichs 146
14 Karen Madgwick 143
15 Carine van der Merwe 171*
16 Leonie Beukes 156
17 Azaria Priem 142
18 Coen Scheepers 160*
19 Franco de Jager 154
20 Leonie Gertenbach 149
21 Marleen Swart 118
22 Thys de Beer 127
23 Amanda Griezel 124
24 Willem van Niekerk 154
25 Thea Meyer 159
26 Stephan Tinderholm 144
27 Marie Bester 133
28 Adri Hendriks 111
29 Wilna Labuschagne 93
30 Freda Maree 123
31 Hettie van der Merwe 140
32 Ivana Viljoen 155
33 Johanna Swanepoel 151
34 Ilze Pont 169
35 Elzette Giliomee 164
36 Izanne Barnard 179

 

MODERNE BESKUIT

Nr van baksel

Bakker

Punte uit 200

1 Elna van der Nest 170
2 Magda Janse van Vuuren 171*
3 Pierre Lombard 146
4 Stefan van der Merwe 136
5 Carla van Vuuren 127
6 Gertruida van Rooyen 146
7 Morne Lloyd 150
8 Deidre Viljoen 134
9 Ella Potgieter 158
10 Alicia van Nieuwenhuysen 151
11 Edna Coetzee 147
12 Ronel Bergh 138
13 Willa Geldenhuys 137
14 Eliza van Ryssen 137
15 Cornelia Nel 138
16 Marlene van Rensburg 157
17 Carene Nieuwoudt 142
18 Inge van Zyl 125
19 Yolandi Theron 115
20 Johannie Badenhorst 149
21 Marleen Potgieter 144
22 Carien Marais 161
23 Maria Alana Smit 132
24 Rene de Wet 168
25 Elsabe Botma 160
26 Genevieve Cillie 168
27 Sonja van Coller 168
28 Martie Lamprecht 184*
29 Ansie Wessels 146
30 Dominique Stander  180*
31 Dedré Oosthuizen 143
32 Mari Carillon 147
33 Sharadean Eksteen 142
34 Ilze Slabbert 162
35 Julita Weyers 154
36 Karin Amm 152

Luister weer na die komedie ‘Genade Professoor!”

Die komedie Genade Professoor, geskryf deur Nico Luwes, is ‘n lekker lag klassieke klug propvol uiteenlopende musiek en pittige dialoog. Ons ontmoet ons hoofkarakter die Rachmaninoff – liefhebbende Professor Weiss (vertolk deur die formidabele André Odendaal) peinsend besig met die taak om sy geliefde Musiek Departement te probeer red.

Die storie

Prof Weiss (André Odendaal) is hoof van ‘n musiek departement by ‘n universiteit. Die finansies druk en hy sal moontlik personeel laat gaan. Die sekretaresse, Mej. Strampe (Sulette Thompson), is bevrees haar kop is dalk op die blok, maar wat gaan dan van haar kat, Mephistophelies, word? Die mooi weduwee van Menslike Hulpbronne, Mev. Schimper (Bertha le Roux – Wahl) het die oplossing. Verhoog konsertinkomste as derdestroominkomste. Die teaterbestuurder, Jean-Pierre, moet kontantverkope kontroleer. Maar iewers raak kontant weg? Is dit Juf. Strampe, Jean-Pierre of dalk Die programbestuurder, Verster, met toegang tot die kluis? Dalk die desperate musiekstudent, Amoré -Mine (Mada Oosthuizen), wat vir haar rockorkes instrumente moet koop? Dalk prof Weiss self wat sy woelige vroutjie, ‘n operaster in Wene moet onderhou?

Oor die skrywer

Hierdie ligte radiodrama is gemotiveer deur Nico Luwes se jarelange kennis van ‘n musiekdepartement se mense en hulle soms vermaaklike persoonlikhede so tussen hulle unieke ego’s as uitverkore talentvolle en dikwels eksentrieke karakters.

Luwes was 40 jaar hoof van die UFS Dramadepartement met meer as 40 dramas en komedies vir die verhoog uit sy pen. Vir die radio by RSG het hy nog net laasjaar se Paasdrama, Lam vir die Pase, twee kort Chekhov komedies en hierdie prettige komedie, Genade, Professoor! geskryf. Toe die SABC destyds nog ook uit Bloemfontein uitgesaai het, het hy in talle radiodramas en vervolgverhale as stemkunstenaar opgetree. Hy is tans afgetree en skryf steeds teaterstukke vir kunstefeeste.

Die rolverdeling en karakters

Die rolverdeling word is Professor Weiss (André Odendaal),
Mej. Schimper (Bertha le Roux – Wahl),
Mej. Strampe (Sulette Thompson),
Jean – Pierre (Botha Enslin) en
Amoré – Mine (Mada Oosthuizen),
met regie deur Karen Wessels.
Die drama sal op Potgooi en Spotify beskikbaar wees na afloop van die uitsending.