Korrupsie: Wie beskerm die fluitjieblasers?

Die moord op die prokureur en fluitjieblaser, Bouwer van Niekerk, in Sandton het die land oor die naweek geskud. Intussen is adv. Norman Arendse deur ’n parlementêre ad hoc-komitee as bewysleier aangestel om die ingewikkelde waters van polisiekorrupsie te navigeer.

Maar in ’n land waar selfs die fluitjieblasers in Sandton nie meer veilig is nie, vra al hoe meer mense: wie is volgende?

Ons praat hieroor met George Nell, ’n senior sakereddingspraktisyn by Corporate Business Rescue, en Pieter du Toit, assistentredakteur vir ondersoekende joernalistiek by News24.

 

Bestaan die nuwe stokkies-insek wel?

Hier is ‘n baie interessante video van ‘n nuwe “stokkies gogga” wat in Australië ontdek is. Met al die vals nuus wat deesdae versprei word, wil ons graag by die Hoe verklaar jy dit? span hoor of dit die waarheid is, en dalk bietjie meer uitvind oor hierdie stok goggas in die algemeen.

Entomoloog, Dr. Johan Pretorius gaan Anoniem van Kaapstad se vraag beantwoord.

Luister Sondag na sy antwoord.
 
https://www.bbc.com/news/videos/cy98ql1v8wdo

Is dit waar dat ‘n nuwe stokinsek in Australië ontdek is? Hoe is dit moontlik dat niemand dit al vroeër opgelet het nie? Waarom kry seekoeie en krokodille so min sepsis met sulke diep oop wonde wat tydens gevegte opgedoen word, in die vuil water waarin hulle leef? Kan ons iets daaruit leer?

Luister weer na “Laurika: Lied van ‘n lewe”

Luister vanaand net na agtuur na die dokumentêre program Laurika: Lied van ‘n lewe. Die dokumentêr is saamgestel deur Jacqui January.

Dié dokumentêre program is oor die lewe en werk van Laurika Rauch. Van Kinders van die Wind tot die hartklop van die land, volg ons haar reis deur musiek, herinnering en menswees. Dis ’n eerbetoon aan ’n ikoon, wat nie net gesing het nie, maar ons laat voel het.
https://omny.fm/shows/rsg-dokument-r/laurika-lied-van-n-lewe-deur-jacqui-january

Laurika se loopbaan het in haar laat 20’s begin met haar eie toonsettings van gedigte van bekende digters soos Ingrid Jonker, ID du Plessis en Boerneef. Dié veelsydige kunstenaar het haarself gereeld in haar loopbaan herontdek.

In die 70’s maak sy opslae as kabaret sangeres. Sy het tussendeur ook die mooiste liedjies van ander kunstenaars gesing, maar meestal die liedjies wat haar man Chris Torr vir haar geskryf het.

Laurika het ‘n Afrikaanse gemeenskap met haar interpretasies van die liedjies bekoor! Sy het gehore met ‘n kop-knik, ‘n handgebaar en gesigsuitdrukking luisterend “vasgehou”.

Na 50 jaar in die bedryf het vele van haar liedtjies die toets van tyd weerstaan.

‘n  Laurika Rauch liedjie soos Kinders van die wind of Hot Gates of selfs van haar laaste album Huis word beskryf as nostalgies, bring emosie mee en diep herinnerings op.

‘n  Laurika Rauch liedjie soos Kinders van die wind of Hot Gates of selfs van haar laaste album Huis word beskryf as nostalgies, bring emosie mee en diep herinnerings op.

 

RSG en Virseker se Bakgat-beskuitkompetisie vanjaar dubbeld so groot!

RSG en Virseker se gewilde Bakgat Beskuitkompetisie is terug met ‘n pryspakket ter waarde van meer as ‘n halfmiljoen rand. Dié opwindende kompetisie, wat bakkers landwyd aanmoedig om hul beste beskuitbaksels in te stuur, beloof om ‘n hoogtepunt op die kalender van elke beskuitliefhebber te wees.

“Ons is baie trots op die 2024-kompetisie en die ongelooflike positiewe reaksie wat ons ontvang het,” sê Morné van Emmenes, hoof van bemarking by Virseker. “Die kompetisie weerspieël die hart van die Suid-Afrikaanse kultuur – warmte, gasvryheid en die deel van iets wat met liefde gemaak is. Ons kan nie wag om te sien watter nuwe en opwindende beskuit ons vanjaar gaan ontvang nie.”

Vir vanjaar se kompetisie moet deelnemers besluit of hulle in die tradisionele of moderne kategorie wil inskryf. Anys-, karringmelk- en boerebeskuit val in die tradisionele kategorie, en enigiets anders sal dan in die moderne kategorie ingeskryf word.

Deelnemers moet seker maak hulle beskuit word teen Vrydag 19 September afgelewer. Alle besonderhede kan op die webblad rsg.co.za gevind word.

Daar sal ‘n top 32 in die tradisionele kategorie bepaal word, sowel as ‘n top 32 in die moderne kategorie. Die top 3 uit elke kategorie sal dan die finaal op Donderdag 13 November, Nasionale Beskuitdag, bywoon waar dié top 6 baksels weer deur ‘n paneel beoordelaars geproe sal word. Die hoogste puntetelling uit die ses finaliste, sal dan as die wenner aangekondig word.

“Ons is ongelooflik trots om ‘n platform te bied waar bakkers hul passie kan deel en om te sien hoe die kuns van beskuitbak voortleef in ons gemeenskappe. Ons kan nie wag om te sien watter verrassende en heerlike beskuit en resepte vanjaar ingeskryf gaan word nie,” sê Amoré Swanepoel, RSG se bemarkingsbestuurder. “Ons moedig deelnemers aan om kreatief te dink en hul eie, unieke stempel op hul beskuit af te druk. Die kompetisie is oop vir enigiemand wat ‘n passie vir bak en ‘n liefde vir beskuit het. Of dit nou ‘n ouma se beproefde resep is of ‘n moderne kinkel wat jy self ontwikkel het, alle inskrywings is welkom.”

Die inskrywings en kompetisie open op Maandag 1 September 2025 en volledige besonderhede is op RSG se webblad en sosiale media platforms beskikbaar. Finale inskrywings moet teen Vrydag 19 September ingedien word.

Hierdie jaar se prys sluit onder andere in:

    • R500 000 se lugtyd op RSG

    • R30 000 kontant van Virseker

    • Korporatiewe ontwikkeling vir die wenner se eie sake-onderneming

    • Blootstelling by Maroela Media ter waarde van R70 000

    • Beskuitpanne van Panneman

    • Mentorskapprogram wat eersdaags bekend gemaak sal word

Die wenner sal weer op Nasionale Beskuitdag, Donderdag 13 November, bekend gemaak word by Virseker se kantore in Midrand.

Om in te skryf, besoek gerus: https://www.rsg.co.za/rsg-fm/kompetisie/

EINDE

Kontakpersoon vir navrae:

Amoré Swanepoel

Bemarkingsbestuurder: RSG

amores@rsg.co.za

 

Hartversaking tref een uit elke ses mense

Hartversaking beteken letterlik dat jou hart versaak en nie voldoende bloed uit jou hart pomp sodat jou liggaam en brein goed kan funksioneer nie.

Luister hier na die program: https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-27-augustus-2025

‘n Gesonde en sterk hart pomp sowat 60 tot 65% van die bloed met elke sametrekking/pompslag/klopslag uit jou linkerventrikel na jou liggaam en jou brein sodat al jou organe en weefsel voldoende suurstof kry.

Maar ‘n hart in versaking funksioneer nie optimaal nie.

Daar is twee hoofsoorte hartversaking, verduidelik dr Sumanth Karamchand van die Cape Town AF Center in Panorama Mediclinic.
1. As jou hart minder as 50% van die bloed uit jou linkerventrikel pomp, word dit hartversaking met ‘n verminderde uitwerpingsfraksie genoem. Die brein en res van die liggaam kry dan minder suurstof.
2. Dan is daar ‘n tweede hoofgroep waar die hart steeds 60 tot 65% bloed uitpomp, maar die hartspier is hard, en dik en styf. Dit is hartversaking met ‘n normale uitwerpingsfraksie. Maar omdat die hart styf is, verplaas dit sy drukking na die longe. Die hoofsimptoom is dan kortasemheid en hulle het nie meer genoeg asem om die aktiwiteite te doen wat hulle voorheen kon doen nie.

Hartversaking is dus ‘n kliniese sindroom met die hoofsimptoom kortasemheid en aktiwiteit-inkorting.

Die oorsaak van hartversaking kom van een van die dele van die hart:
1. een of meer van die hartkleppe is foutief of lek, moontlik aangebore of as gevolg van ‘n streptokokkus infeksie. Die hart kan vergroot met hartbersaking.
2. of die hartspier is verswak (kardiomiopatie) waar die hart dikwels vergroot
-wat geneties kan wees,
-of dit kan volg na chemoterapie,
-of middels geneem het wat die spierselle beskadig,
-of as ‘n vorige virus-infeksie die hartspier beskadig het (miokarditis)
-of (en dit is een die hoofoorsake van hartspierskade) as die kroon-are vernou is (aterosklerose) of die persoon reeds ‘n hartaanval gehad het.
-Maar ‘n vinnige hartspoed (tagikardie) of Atriale fibrillasie kan ook die hartspier beskadig.
-Slaap-apnee kan ook die hartspier beskadig
3. en in Suid-Afika is die hoofoorsaak van hartversaking inderdaad hoë bloeddruk wat nie goed beheer word nie. Dit is ‘n stil moordenaar omdat dit tot in ‘n baie laat stadium geen simptome het nie. Onbeheerde hipertensie laat die ventrikelspier verdik, terwyl dit ook die klein bloedvaatjies in die brein, hart, niere en ander organe oor ‘n tyd beskadig. Dit kan dus tot albei soorte hartversaking lei met erge kortasemheid.
4. In peri-partum kardiomiopatie word swanger vroue se harte laat in swangerskap baie siek. Die oorsaak is geneties of die hormone wat geproduseer word in swangerskap. Die vroue herstel gewoonlik goed, maar het behandeling nodig.

‘n Hart in hartversaking klop vinniger as ‘n gesonde hart. As die hart begin swaar trek weens een van die oorsake hierbo genoem, begin die hart vinniger saamtrek in ‘n poging om meer bloed uit te pomp. Dit help op die korttermyn, maar in die langtermyn kan die hart dit nie volhou nie.

‘n Vinnige hartklop is self ‘n teken dat die hart siek is. Veral mense ouer as 60 jaar, wat al ‘n tyd lank hipertensie het, of ‘n beskadigde hartspier, kan ‘n hartritmestoornis soos atriale fibrillasie ontwikkel en dié hoë en onreelmatige hartklop kan dan ook weer die hartspier beskadig – die hart raak uitgeput soos ‘n atleet wat 20 100m wedlope onmiddellik opeenvolgens doen. Gelukkig kan dié hartritmestoornis met medikasie, maar veral met ‘n ablasie, baie goed behandel word en kan die hartspierskade omgekeer word.

As iemand dus in hartversaking is, moet die kardioloog kyk
1. is hipertensie goed beheer
2. is die kroon-are oop
3. is daar infeksie op die hartkleppe
4. Is daar hartritmedefekte – veral dié wat bokant die ventrikels ontstaan soos atriale fibrillasie – wat hartversaking kan veroorsaak. Atriale fibrillasie lei tot ‘n chaotiese, onreelmatige vinnige hartklop van tot 300 tot 600 slae per minuut wat die ventrikels totaal uitput. Dit beskadig die spierselle op ‘n sellulêre vlak deur van die kalsiumkanale in die selle te beskadig en die hartspier te verswak. As die hartritmestoornis doeltreffend behandel word met middels of ‘n ablasie, kan die hartspier mettertyd herstel.

Dit is belangrik om die oorsaak vas te stel, sodat die oorsaak eerste behandel kan word. En dan die oorblywende hartversaking.

Ons kyk ook na Pulmonale Hipertensie

Dit gebeur as die drukking in die longe so groot raak dat dit die regterkant van die hart verswak.
Dit is moeilik om te behandel.

Hartversaking deel 2

Hoekom en hoe bou vog in die longe op met hartversaking? Hoe kan ‘n middel soos Ozempic help in die behandeling van hartversaking? Hoe klink hartversaking? In die tweede program in die reeks oor hartversaking, praat ons oor hierdie en ander aspekte.

Reis saam met RSG op Bessie se onthoupad

“Die saamstap op Bessie se onthoupad herroep die lief en leed van ‘n klein gemeenskap in die tyd van houtstowe, Valiants, inryteaters, aanmaakkoeldrank, tuisgebakte koekies, dikwielfietse, en laagwaterbruggies; die kortsigtigheid, veroordeling en naïwiteit wat daarmee saam gegaan het, maar ook die samehorigheid en onbaatsugtige naasteliefde.” So skryf die resensent Anschen Conradie oor wyle Madelein Rust se roman, Bessie se hangkasbiblioteek.

Dié boek, wat op ‘n ware karakter geskoei is, word vanaf Dinsdag 26 Augustus elke weeksoggend om 10:45 op RSG voorgelees. Die veelbekroonde aktrise en stemkunstenaar Rika Sennett skuif agter die mikrofoon in vir dié nuwe voorlesing. Sy was onder andere die voorleser van Elsa Joubert se Spertyd op RSG.

Madelein Rust was nie net ’n briljante en veelsydige skrywer nie, maar ook ’n merkwaardige mens. Intelligent met ’n sin vir humor, deernisvol, en altyd blymoedig, ondanks die fisieke stryd wat sy so dapper die laaste vyf jaar trotseer het. Sy is vroeër vandeesmaand in die ouderdom van 58 jaar oorlede.

Meer oor die storie

Bessie Botha, deesdae weduwee Botha, woon saam met haar broer, Willem, op ’n kleinhoewe buite Bloemfontein. 1974 was tot dusver nie ’n goeie jaar nie, en om alles te kroon is oorlede Stefaans se welgestelde broer en sy jong neus-in-die-lug vrou op pad om te kom kuier. Wanneer die veertienjarige Annatjie de Villiers weer een Sondag ná kerk langs die treinspoor staan en flikkers gooi vir al wat ’n treindrywer is, besluit Bessie om die tiener onder haar vlerk te neem.

RSG nooi jou om saam met ons uit te vind wat Bessie se hangkasbiblioteek alles oplewer. Dis Madelein Rust op haar joligste, deernisvolste beste!

Daar is geen potgooi van die oggendboekvoorlesing nie, so maak seker dat jy elke weeksoggend inskakel.

Nuwe wet kan jou huwelikskontrak verander

Suid-Afrika se egskeidingswette staan op die rand van ’n groot verandering. ’n Nuwe wetsontwerp wil howe die mag gee om bates te verdeel – selfs in huwelike buite gemeenskap van goedere sonder aanwas. Dis ’n poging om gades te beskerm wat nie self ’n inkomste verdien het nie, maar steeds tot die huwelik bygedra het.

Bertus Preller, ’n gesinsregprokureur, help ons verstaan wat dié veranderinge beteken, en wat dit vir jou huwelikskontrak kan beteken.

Nuwe wet kan jou huwelikskontrak verander

Wat laat bome bot?

Daar is ‘n droë dam, bietjie reën en die babers is vollop, waar kom hulle vandaan?

Wat beïnvloed die tyd wanneer bome uitloop, en hoekom is dit nie altyd dieselfde tyd nie?

https://omny.fm/shows/hoe-verklaar-jy-dit/hoe-verklaar-jy-dit-10-augustus-2025