23:10 - 23:59

Tjil

Nou op die lug: 23:10 - 23:59

Deurnag (Maandag)

Volgende: 05:25 - 05:55

RSG Landbou

Met Lise Roberts

05:55 - 06:00

Vroegoggendgedagte

Tuis | Potgooi | Potgooi Resultaat
  • Program

Skrywers en boeke 17 Augustus 2022

17 Augustus 2022

Suzette Kotze Myburg gesels met Chase Rhys oor MISFIT: STORIES VANNIE ANNE KANT, sy bundel rubrieke en kortprosa. Daar is nuus oor die vier kortlyste vir die KYKNET/RAPPORT-boekpryse. In internasionale nuus bring Johan Myburg hulde aan die skrywer David McCullough en skrywer en illustreerder Raymond Briggs, wat albei onlangs oorlede is. Hy vertel ook meer oor Neil Gaiman, pas aangewys as die wenner van die St. Louis-letterkundeprys, en bespreek die werk van die baie gewilde Brits Pakistanse digter Nikita Gill. As jy gewonder het waaroor gaan die bohaai rondom Salman Rushdie en THE SATANIC VERSES, kom luister saam.


Skrywers en boeke 10 Augustus 2022

10 Augustus 2022

Die digter Sheila Cussons is vandeesweek ‘n 100 jaar gelede oorlede. Jy kan luister na ‘n dokumenter oor haar lewe en werk. Johan Myburg vertel meer oor Babes in the Wood, ‘n nuwe Margaret Atwood-kortverhaalbundel, die kortlys vir die Ursula K. Le Guinprys vir wetenskapsfiksie en The Last White Man, Mohsin Hamid se nuwe roman.  Kom vind ook meer uit oor 14 Augustus se Koop-‘n-Afrikaanse-boek-dag.


Skrywers en boeke 3 Augustus 2022

3 Augustus 2022

Augustus is die maand waarin Afrikaans in al sy vorme gevier word. Ons luister na ‘n hoorbeeld uit die argief oor AHM Scholtz, skrywer van die bekroonde roman VATMAAR. In Johan Myburg se internasionale nuus gesels hy oor die Britse boekbedryf, die Bookerprys se langlys en Ada Limon, die nuwe amptelike digter van die VSA. Ilse Salzwedel gesels met Annie Olivier, uitgewershoof by Jonathan Ball, oor die publikasieproses en die Suid-Afrikaanse boekbedryf.


Skrywers en boeke 27 Julie 2022

27 Julie 2022

Brian Fredericks praat met Suzette Kotze-Myburgh oor sy roman HOU JOU OË OOP. Troula Goosen, ‘n jeugromanskrywer, gesels oor haar skryfwerk en gratis kreatiewe skryfkursus wat sy vir skole beskikbaar stel. Johan Myburg bespreek Claire Keegan se SMALL THINGS LIKE THESE en ander wenners van die Britse Orwell-pryse; en BODIES OF LIGHT, Jennifer Down se roman wat met die Australiese Miles Franklin-prys bekroon is. Johan bring ook op ‘n treffende manier hulde aan die digter Don Matera, wat verlede week oorlede is. Jy kan o.a. luister na ‘n pragtige klankproduksie waarin Don Matera een van sy gedigte voorlees terwyl die ikoniese Pops Mohamed vir agtergrondmusiek sorg.


Skrywers en boeke 20 Julie 2022

20 Julie 2022

Ilse Salzwedel gesels met Ilse Verster, ‘n slagoffer van mishandeling, oor haar inspirerende boek, SO LYK ‘N VROU – MY 40 JAAR SAAM MET ‘N NARSIS. Marie Lotz gesels oor haar nuwe spanningsroman, POLSSLAG. In sy internasionale bydrae het Johan Myburg nuus oor John Galsworthy, skrywer van The Forsyte Saga, wat tans op TV te sien is. Johan gesels ook oor nuwe internasionale vrystellings vir jou boekrak, en ‘n nuwe boek deur Karen Armstrong oor die mens se band met die natuur, getiteld SACRED NATURE: HOW WE CAN RECOVER OUR BOND WITH THE NATURAL WORLD. Jy kan ook luister na ‘n kort uittreksel uit ‘n toespraak waarin Armstrong oor haar boek praat.


Skrywers en boeke 13 Julie 2022

13 Julie 2022

Ilse Salzwedel gesels met Helena Gunther oor haar bundel, DIE HART HET SY REDES. Johan Myburg vertel meer oor die Nederlandse digter en skrywer Remco Campert, wat onlangs oorlede is, en die Duitse vertaling van die skrywer Cristina Morales se boek EASY READING wat pas met ‘n internasionale letterkundeprys bekroon is. Hy gesels ook oor ‘n heruitgawe van die Antiguaans-Amerikaanse skrywer Jamaica Kincaid se roman, Annie John. Jy sal ook kan luister na ‘n uittreksel waarin Kincaid vertel hoe sy as driejarige reeds leer lees het. Gewilde skrywers soos Irma Joubert, Rudi van Rensburg, Chris Karsten, Helene de Kock en Sophia Kapp praat oor ‘n verskynsel wat ‘n groot invloed op die Suid-Afrikaanse boekbedryf het  – die onwettige verspreiding van e-boeke.


Skrywers en boeke 6 Julie 2022

6 Julie 2022

Kaptein Ben Booysen, die man wat die Electus Per Deus-moordbendem aangekeer het, wat Krugersdorp sedert 2012 geterroriseer het, gesels met Ilse Salzwedel oor sy boek OP DIE DUIWEL SE SPOOR (geskryf in samewerking met Nicki Gules).  In sy internasionale insetsel bring Johan Myburg hulde aan die Australiese skrywer Frank Moorhouse, wat onlangs oorlede is. Jy kan ook hoor wat die Britse skrywer Philip Pullman te sê het oor die Sheffield Hallam-universiteit in Brittanje se besluit om letterkunde as graadkursus te skrap. Jy kan ook luister na ‘n insetsel waarin die bekroonde skrywer Hilary Mantel oor haar werk gesels. Ina Strydom gesels ook kortliks oor RSG se radiodramaskryfkompetisie, waarvan die sperdatum op 1 Augustus is, en sy vertel meer oor Rudi van Rensburg se HANS BREEK DIE BIOBORREL, RSG se nuwe oggendboekvoorlesing.


Skrywers en boeke 29 Junie 2022

29 Junie 2022

Die skrywer en dramaturg Athol Fugard het op 11 Junie sy 90e verjaarsdag gevier. Kom luister saam na ‘n profiel oor hom, saamgestel deur wyle Margot Luyt, waarin bekende teatermense, soos Sandra Prinsloo, John Kani, Marius Weyers en Yvonne Bryceland oor Fugard en sy werk gesels. Fugard self kan ook daarin gehoor word. Dan kan jy luister na ‘n uittreksel uit ‘n 1993-onderhoud waarin Fugard aan Gerda Coetzee vertel oor die inspirasie vir sy bekende Master Harold and the Boys. In Johan Myburg se internasionale bydrae, gesels hy oor Ruth Ozeki en haar boek The Book of Form and Emptiness, en die polemiek rondom ‘n onlangse uitlating van die topverkoperskrywer James Patterson.


Skrywers en boeke 22 Junie 2022

22 Junie 2022

Ilse Salzwedel gesels met die Christelle Van Rooyen-Wessels oor haar misdaadroman OM BETER TE KAN MOOR. Voornemende radiodramaskrywers kan luister na die laaste van Ina Strydom se radiodramaslypklasse. Ina gesels met ‘n vorige wenner van die radiodramaskryfkompetisie, Lee Doubell.  Johan Myburg se bydrae oor die internasionale boekewêreld klink bietjie anders as gewoonlik. Jy kan luister na ‘n gesprek tussen Yves T’Sjoen, hoogleraar in Letterkunde aan die Universiteit van Gent, en Daniël Hugo, digter en die Afrikaanse vertaler van die Belgiese skrywer Hugo Claus se HET VERDRIET VAN BELGIË.


Skrywers en boeke Bonuspotgooi 15 Junie 2022

15 Junie 2022

In hierdie bonuspotgooi is daar onderhoude met twee baie uiteenlopende Afrikaanse skrywers, wat albei op die 13e Junie gebore is. Verna Vels, die skepper van die legendariese Liewe Heksie, is in 1922 gebore, en die Sestiger Etienne Leroux in 1933. Albei is reeds oorlede, maar hulle boeke word steeds gelees en geniet. Die onderhoud met Verna is in 2013 deur Ilse Salzwedel opgeneem, byna presies ‘n jaar voor haar dood op 21 Augustus 2014 (sy was 81). Die onderhoud met Etienne Leroux is op 14 Junie 1987 uitgesaai in KUIERGASKEUSE. Dit was ‘n dag na sy 65e verjaarsdag. Twee jaar later is hy in die ouderdom van 67 oorlede.


POTGOOI (aanddiens)

INTERAKTIEF

Volg ons op sosiale media: