Skip to content

Lentehoender met geurige pastarys

RESEPTE

Lentehoender met geurige pastarys

Lentehoender met geurige pastarys

By: Surita Riffel
Lentehoender met geurige pastarys

Bestanddele

Vir die hoender
6 hoenderstukke
sout en vars gemaalde swartpeper
braaispeserye van jou keuse
olie, vir braai
4 preie, in ringe gesny (3 medium uie kan ook gebruik word)
3 knoffelhuisies, fyngekap of gerasper
sap en fyngerasperde skil van ½ suurlemoen
1 skeut witwyn (opsioneel)
1 handvol vars pietersielie, fyngekap
½ - 1 koppie room
gekrummelde feta, vir afronding (opsioneel)

Vir die pastarys en groente
1 koppie pastarys (risoni)
600 g roerbraaigroente van jou keuse
5 ml sout, vir die pastarys se kookwater

Metode

Geur die hoenderstukke goed met sout, peper en jou gunsteling braaispeserye.
Verhit ’n bietjie olie in ’n groot pan en braai die hoenderstukke oor matige hitte tot goudbruin aan albei kante - ongeveer 15 minute.
Haal die hoender uit die pan en hou eenkant.
Plaas die preie of uie in dieselfde pan en braai stadig tot sag en deurskynend.
Voeg die knoffel by en braai dit vir ’n minuut of twee saam.
Geur liggies met sout en peper.
Plaas die hoenderstukke terug in die pan, bo-op die uie.
Voeg die suurlemoensap en ’n klein bietjie water by - net genoeg om te keer dat die hoender of uie aan die bodem vassit.
Die uie moet sag en lig van kleur bly en nie verbruin nie, aangesien dit die kleur en voorkoms van die gereg sal verander.
Voeg die witwyn by indien jy dit gebruik.
Bedek, en laat die hoender ongeveer 30 minute oor lae hitte stadig prut en gaar word.
Verwyder die pan van die hitte en hou eenkant.
Kook die risonirys volgens die aanwysings op die verpakking. Ek kook dit gewoonlik in kokende water met ongeveer 5 ml sout vir sowat 12 minute.
Dreineer die pastarys goed, maar moenie dit onder koue water afspoel nie. Hou dit in die pot waarin dit gekook het.
Stoom intussen die roerbraaigroente in ’n vergietes oor ’n pot kokende water totdat dit net sag genoeg is, maar steeds ’n bietjie byt behou.
Skep die gaar pastarys by die hoender-en-uiemengsel.
Roer dit baie versigtig deur sodat die hoenderstukke heel bly.
Geur weer met sout, peper en ’n bietjie braaispeserye indien nodig.
Giet die room oor die hoender en pastarys, bedek die pan en laat dit vir ongeveer 5 minute baie sag prut. Die room moet net warm word en die geure mooi laat saamsmelt - moenie dit hard laat kook nie.

Om voor te sit
Skep die romerige hoender en pastarys op ’n groot opdienbord.
Rangskik die gestoomde groente bo-oor en rond af met ’n ruim strooisel gekrummelde feta, vars gekapte pietersielie en die fyn gerasperde suurlemoenskil.

Wenk
Moenie bang wees om die suurlemoen te gebruik nie. Die vars suurlemoengeur sny deur die romerigheid en bring die hele gereg mooi in balans. Soos met baie van my kos, is dit ’n gereg wat jy maklik jou eie kan maak - gebruik groente wat in seisoen is en waarvan jy hou.

Deel nou