Vrolike en vurige gerf feestydprogramme op RSG

Feestyd word vanjaar luisterryk op RSG gevier met regstreekse opnames van Jak de Priester se Glasiewynfontein tydens vanjaar se Woordfees, braaityd-kuierprogramme met Ettienne Ludick en ‘n spesiale keur van gewilde programme asook gewilde reekse wat herhaal word.

Programme soos Op en Wakker geniet vanaf Maandag 22 Desember tot Vrydag 2 Januarie ‘n welkome blaaskans, maar luisteraars kan uitsien na ‘n keur van RSG se programbestuurder Kobus Burger se Midas van Musiek-reeks. Kunstenaars soos Phil Collins, Cher, Tracy Chapman, Neil Diamond, Laurika Rauch en die James Bond-klankbaankomponis John Barry se grootste treffers sal elke weekoggend net na 07:00 gehoor word. Die vyfde reeks van Midas van Musiek het vroeër vanjaar op RSG gedebuteer en belig die musiek en talent van kunstenaars wat soos die mitologiese koning Midas die gawe het of gehad het om dit wat hulle aanraak, in goud te laat verander.

Net na 08:00 gaan ‘n keur van Eloise Cupido se gewilde Goue Oues-programme gehoor word met saamsing-treffers van die jare 80 en 90.

Van Maandag 22 Desember tot Vrydag 26 Desember om 12:00 – maar nie op Kersdag nie – word ‘n paar gewilde en bekroonde radiodramas soos Hendie Grobbelaar se Leniesgif uitgesaai. Die ander dramas sluit in Ontruim, Ons gaan huis toe en Die somer van 56.

RSG Sport gaan ook vir twee weke lank rus en daarom word daar op Saterdag 27 Desember om 17:00 ‘n spesiale opname van Jak de Priester se Glasiewynfontein uitgesaai. Hierdie keer gesels hy met Hentie de Wet van Hentie’s Juices oor Desembervakansies, dansliedjies, liefdesliedjies asook sy allergunsteling.

‘n Uur later gaan Ettienne Ludick die braaivleisvure aansteek met die beste partytjiemusiek. Luisteraars kan via WhatsApp-stemnota’s hul gunstelinge versoek.

Van Maandag 29 Desember tot Vrydag 2 Januarie om 12:00 word ‘n reeks gewilde dokumentêre programme oor onder andere Anton Goosen, Taco Kamstra, Laurika Rauch en die Bergklub van Suid-Afrika uitgesaai. Tharien Oosthuizen se uurlange dokumentêr, Die kleur van lakens, wat vroeër vir ‘n gesogte Telkom SA Radioprys benoem is, word op Vrydag 2 Januarie om 12:00 uitgesaai.

Een van 2025 se heel gewildste programme en reekse was Allan se stories waarin Sue Pyler-Slabbert saam met die akteur, stemkunstenaar en wêreldreisiger Allan Dyssel deur sy lewe en ervarings gereis het aan die hand van spesiale musiekkeuses. Reeds sedert die eerste uitsending is RSG oorval met versoeke vir ‘n herhaling. Allan se stories sal van Maandag 22 Desember tot Vrydag 2 Januarie om 18:00 uitgesaai word. Luisteraars sal vroegaand na twee episodes op ‘n slag kan luister.

Op Saterdag 3 Januarie om 17:00 is Jak de Priester terug met nog ‘n opname van Glasiewynfontein en hierdie keer kuier hy saam met die befaamde kunstenaar Portchie, wat vanjaar sy 35ste jaar in die kunstewêreld vier. Portchie, wat deesdae op Stellenbosch woon, deel sy stories en musiek. Net daarna sal Ettienne Ludick weer die vure en deuntjies laat knetter met sy spesiale braaiprogram.

Van Maandag 22 Desember tot Vrydag 2 Januarie sal Spektrum, Brandpunt asook Geldsake met Ryk van Niekerk ‘n blaaskans geniet, maar alle programme en die gewone RSG programskedule word vanaf Maandag 5 Januarie hervat.

Vir meer inligting besoek RSG se webblad by rsg.co.za.

“Musiek het my gehelp om te ontsnap” – Kate Borthwick gesels oor haar reis met kanker en haar musiek

Kate Borthwick is in 2022 met aggressiewe miëloom gediagnoseer.

Sy kon danksy ‘n skare-fondsinsameling wat deur haar suster, Hannah begin is, begin met uiters duur nuwe immunoterapie. Vorige behandelings – chemoterapie en ‘n beenmurgoorplanting – het nie tot voldoende remissie gelei.

Sy het midde-in die behandeling met Mari Hudson gesels oor haar reis met kanker, wat baie pyn ingesluit het, en haar musiek, wat haar help om van donker gedagtes te ontsnap.

Luister hier na die program:
https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-17-desember-2025

Sy komponeer klankbaanmusiek.

Luister hier na twee van haar komposisies. 

Nana
https://youtu.be/W-yNRYr4g1s?si=R7EyoWCEcc3UJFY0

Imaginarium
https://youtu.be/fRMvBMXSBpc?si=MM8HPPEj2uQXrQAO

Ikoniese “Pendoring Edms Bpk” weer op RSG uitgesaai   

Luister Donderdagaand na Pendoring (Edms) Beperk deur Ampie van Straten.

Dit skep ‘n komiese blik op die beheptheid met korrekte taalgebruik. Baie relevant in die jaar wat Afrikaans 100 jaar vier.

https://omny.fm/shows/radioteater/pendoring-edms-beperk-deur-ampie-van-straten

Pendoring Eiendoms Beperk het twee pryse gewen waaronder die SAUK-prys vir radio dramas en radio dokumentêre by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1977.

Die radiodrama fokus op die eksentrieke kopieskrywer Gert Klopper, gespeel deur Matthys du Toit, wie se passie vir Afrikaans – wat hy liefderik beskryf as sy “meisie” – bots met konvensionele taalreëls.

Die relaas is sprankelend, vol woordspeling en taalhumor, en dit laat ‘n mens dink oor hoe mense taal gebruik en soms misbruik.

Katinka Heyns as Sarie, ’n jong vrou wat by Gert kom werk, is geboei deur sy ongekunstelde, avontuurlike taalgebruik en sy sjarmante uitlatings (oor sy taalliefde én haar gemmerkoekies!). Hulle  humoristiese en hartlike verhouding is die hooffokus van die verhaal.

Die rolverdeling is

Sarie – Katinka Heyns,

Gert – Matthys du Toit,

Arno Kotze, Martie Lee, Paul Eloff, Francois Nel, Hennie Oosthuizen, Will Bernard, Francois de Bruin, Willie Pretorius, en Allewyn Lee.

Roelf Jacobs het die regie behartig en die klankbaan is opgeneem met ‘n lewendige orkes onder leiding van Theo Erasmus.

Na afloop van die uitsending sal die opname beskikbaar wees op potgooi en Spotify

 Die radiodrama, Pendoring Eiendoms Beperk, deur Ampie van Straten is op 2 November 1975 die eerste keer uitgesaai. Dit is die jaar wat Afrikaans  50 jaar ‘n amptelike taal was, en dit was ook die inwyding van die Afrikaanse Taalmonument. In die jaar wat Afrikaans se eeufees as amptelike taal gevier is, is dit gepas om dié radiodrama uit die argief op te diep.

Ná Pendoring (Edms) Beperk het nog twee titels, Pendoring en Kie en Pendoring en Seun, gevolg om die Pendoring trilogie te voltooi. Ampie van Straten is met dié radiodrama verewig as ‘n invloedryke skrywer van sy tyd.

Erika Terblanche se skrywe oor Ampie van Straten (1937-1997) op LitNet (2014) haal die volgende aan uit  ‘n 1988-onderhoud met Van Straten in die Kaapstadse Bibliotekaris, oor die inspirasie vir die Pendoring radiodramas: “Dit het ontstaan in my jare in die reklamewese. Ek het vroeg-vroeg agtergekom dat sekere ongesofistikeerdes hoë woorde gebruik om te kompenseer vir die gemisse wat hulle in hulself aanvoel. Hulle sê nie sommer net iets nie: hulle maak gewag daarvan, opper die feit, bring dit te berde, lug die opinie, is die mening toegedaan … dat dit baie warm is. Soos die rugbykommentator wat nooit sê Naas Botha skop van die kwartlyn nie; nee, hy neem die skop van die kwartlyn af waar. Soos die dame wat meen dis ‘plat’ om te sê iets is te kry by alle goeie apteke. Jy moet sê dis verkrygbaar by alle goeie apteke.”

Pendoring (Edms) Beperk deur Ampie van Straten word Donderdagaand 18 Desember om 20:00 op RSG uitgesaai. Dit kan ook aanlyn gehoor word op die webwerf rsg.co.za. Na afloop van die uitsending sal die opname beskikbaar wees as potgooi op rsg.co.za en op Spotify.

 

Wanopvattings oor borskanker en gene kos lewens: hier is die feite

Wanopvattings oor borskanker en gene – selfs onder algemene praktisyns en ginekoloë – ontneem vroue die reg om hulle eie lewens te red.

Feite: 
1. BRCA1 en 2 het niks met lewerdetoksifkasie te doen nie.
2. Daar is baie meer gene wat betrokke is borskanker en ander kankersoort as BRCA1 en 2.
3. Niks wat enige mensen doen, kan die gene waarmee jy gebore is en dominant is, verander nie.
4. Angelina Jolie se ma is vroeg aan borskanker dood en sy dra self die BRCA1 geen, wat jou risiko vir bors- en eierstokkanker tot 80% maak, nie min of laag soos die naturopaat gesê het nie. Sy het haar eie lewe gered deur profilaktiese mastektomie en ovarektomie en lewe vandag nog. Dit was beslis nie onnnodig nie. In SA is verskeie jong borskankerpasiënte wat hierdie geen dra, maar nie ’n mastektomie ondergaan het nie, en op 28 reeds aggressiewe, metastatiese borskanker het, binne ses maande nadat hulle vorige mammogramme skoon was. Hierdie is nie speletjies nie en daar is nie ruimte vir foutiewe inligting nie
Hier is die korrekte mediese inligting.
Deel 3 oor Borskanker en gene

Die eerlike en onstellende vertelling van ‘n borskankerpasiënt lê bloot hoe ‘n algemene praktisyn en ginekoloog se gebrekkige insig in genetika haar ontneem het om haar eie borskanker te keer.
Marí Hudson gesels met ‘n borskankerpasiënt, ‘n onkoloog en genetiese raadgewer in die finale episode van die kort reeks oor borskanker en gene.

https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-10-desember-2025

Deel 2
Slegs ‘n klein persentasie van borskanker-pasiënte dra een van die foutiewe gene wat ‘n rol in borskanker speel, en het dan ongelukkig ‘n groot risiko om borskanker te kry. Maar as jy weet jy het een van dié gene, kan jy besluite neem wat jou lewe kan red. Marí Hudson praat met ‘n onkoloog oor borskanker en gene.
Deel 1
Is daar ‘n verband tussen sekere gene en kanker? En wat van die genetika van die kankerselle self? Kan dié kennis help om sekere kankersoorte beter te behandel? Marí Hudson praat met ‘n genetikus wat bevestig dat die bekende borskankergene 1 en 2 inderdaad jou risiko vir verskeie kankersoorte verhoog, en dit kan nie deur lewerdetoksifikasie verander word nie.

Donderdag: Misverstand is vol konkel en uiteindelik verrassings

Luister Donderdagaand na Misverstand deur Anene Loots. Dis ‘n radiodrama is vol knoei en konkel en uiteindelik verrassings.

Die spelers is Joanie Combrinck, Albert Maritz, Nic de Jager en Ané Fourie. Thomas van Niekerk debuteer as radiodrama regisseur.

 Die storie

In Misverstand reël Elna vir haar man ‘n verrassingspartytjie om sy 60ste te vier, en hul wankelrige huwelik te probeer red. Maar Bert, haar man, het planne van sy eie. Hy raak agterdogtig en kom tot sy eie gevolgtrekkings.

Bert (Albert Maritz) vier oor ‘n paar dae sy sestigste verjaarsdag. Sy vrou, Elna (Joanie Combrink), is bekommerd oor hulle huwelik wat sy vonk verloor het.

‘n Jarelange vriend en wewenaar, Willem (Nic de Jager), oortuig Elna om ‘n verrassingspartytjie vir Bert te reël. Elna besluit om vir Valerie (Ané Fourie), ‘n junior ouditeur by Bert se maatskappy, te vra om haar daarmee te help.

Bert begin vermoed dat Elna en Willem ‘n verhouding het omdat hulle skielik WhatsApp- boodskappe vir mekaar stuur. Bert bekom ‘n dwelmmiddel deur Valerie om Elna se bloeddrukpille te vervang.

Die aand voor sy verjaarsdag en die oggend van sy verrassingspartytjie, gee hy van die dwelmmiddel vir Elna in. Sy raak onstabiel en gaan in ‘n beswyming in. ‘n Smoordronk Bert maak die deur vir die gaste oop en besef dit was als ‘n misverstand.

Van die skrywer – Anene Loots

Anene het in die sestiger- en sewentigerjare grootgeword en radio was deel van hulle daaglikse lewe.

“Ek was van kleins-af lief vir lees en stories maak en het elke middag die vervolgverhale geluister. Sondae middae, wanneer ons stil in ons kamers moes wees, het ek stories gemaak, die stories se verskillende karakters gespeel, myself met ‘n bandopname opgeneem en dan die kasset teruggespeel, ”vertel Loots.

Dit was haar droom om in radiodramas ‘te speel’. Anene het inderdaad die droom bewaarheid toe sy haar debuut as speler gemaak die in die radiodrama ‘Leniesgif’(2025).

Van die regisseur – Thomas van Niekerk

“Die hele opname en alles wat daarmee gepaardgaan was vir my ‘n voorreg en ek is RSG en almal betrokke baie dankbaar vir die geleentheid.”

Om met sulke groot name in die bedryf te werk was vir Thomas ook ‘n heerlike ervaring. Hulle het hulle insigte en talente ook na die tafel gebring en dit was wonderlik om dit te sien.

Dit was ook heerlik om die vryheid te hê om musiek en byklanke te kies wat by die teks pas.

Die post-produksie was vir hom die grootste leerskool, veral met die keuses van musiek. Thomas vertel hy het geleer om eerder meer as minder te hê, want in jou kop het jy dalk iets in gedagte, maar na die opname werk die musiek wat jy in gedagte het dalk nie.

Misverstand, deur Anene Loots, Donderdagaand 11 Desember in Radioteater om 8 uur op RSG of rsg.co.za en beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

Luister weer na ‘Vlugvoos’

‘n Moord, baie geheime, verskuilde agendas, ‘n bekommerde vriendin en ‘n verliefde swaer is van die bestanddele van Vlugvoos, deur Ronel Mostert.

Die spelers is Juanita de Villiers, Mariëtte Engelen, Anton Engelen, Andreas Jordaan en Claudia Jones.  Die regisseur is Ina Strydom.

Ja, alles is nie altyd soos wat dit lyk nie – en die liefde laat hom nie voorskryf nie!

https://omny.fm/shows/radioteater/vlugvoos-deur-ronel-mostert

Die storie/As ‘n mens se sondes jou inhaal…

In RSG Radioteater op 4 Desember word daar na ‘n moordenaar gesoek – en die logiese verdagte is die jong weduwee.  Maar in Vlugvoos, deur Ronel Mostert, is alles nie soos wat dit op die oog af lyk nie.

Die weduwee Cumi was maar vir enkele maande met André getroud voor sy hom dood op die sitkamervloer aangetref het. Hulle het mekaar in Viëtnam ontmoet waar sy op vakansie was, en is ná ‘n blitsromanse getroud.

Skielik is daar verskeie geheime wat nou op die lappe kom – soos dat haar oorlede man ‘n broer en ‘n ouma het waarvan sy nie geweet het nie.

Hulle was ook nie van haar bestaan bewus nie.  Sy weet ook nie eintlik wat Andre vir ‘n lewe gedoen het nie. En nou is sy die hoofverdagte in die moord.

Intussen wil haar oorlede man se familie haar beter leer ken. Daar is talle vrae. Wat het André weggesteek – en wat was die aard van sy transaksies in Viëtnam? Is Cumi so onskuldig soos wat sy voorgee? As sy nie die moord gepleeg het nie, wie het dan en hoekom?

Die akteurs en karakters

Kom ontmoet die karakters in Vlugvoos, en probeer die geheime ontrafel en die raaisels ontsyfer.

Benewens die jong weduwee Cumi (Juanita de Villiers) is daar ook Zander (Anton Engelen) die broer van die vermoorde André, en Ouma Ellie vertolk deur Mariëtte Engelen.

Dan is daar ook nog Lyla (Claudia Jones) Zander se assistent en vriendin wat glad nie geneë is met Cumi se teenwoordigheid nie.

Die polisieman wat die moord ondersoek is Kaptein Steyn (Andreas Jordaan).

Alles is nie soos wat dit lyk nie, en almal is nie so onskuldig soos wat hulle voorgee om te wees nie.  Die vraag is net, wie praat die waarheid?

Die skrywer

Die skrywer, Ronel Mostert sê sy het die idee  vir die storie gekry toe sy en haar man in 2017 met vakansie in Viëtnam was. “Tydens ons ekskursies, die ontmoetings met nuwe mense en die ontdekking van onbekende plekke, het ek besef dat Viëtnam se unieke atmosfeer en verhale ’n ryk agtergrond sou bied vir ’n radioteater.

Hierdie indrukke het die saad geplant waaruit die verhaal van Vlugvoos begin groei het – ’n storie waarin die misterie en geheime van mense se lewens verweef word met die kleurvolle wêreld en vele fasette van Viëtnam.”

Ronel het al verskeie radiodramas vir RSG geskryf, en haar debuutmiddagvervolgverhaal, Die spoke van Duinebult, is in 2022 uitgesaai.  Sy het ook verskeie tydskrifverhale en ‘n roman op haar kerfstok.

Vlugvoos, deur Ronel Mostert word op 4 Desember om 20:00 in Radioteater op RSG en rsg.co.za uitgesaai en beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending. Die regisseur is Ina Strydom.

 

 

Luister weer na ‘Vermis, Ophelia’

Luister weer na Vermis, Ophelia deur Maria Vos op RSG.

Vermis, Ophelia is ’n heerlike, ligte luister ervaring. Dit is ’n warm, goedvoel-storie wat deur misverstande, dorpdrama en miskommunikasie aan die gang gesit word.

Die inspirasie vir Vermis, Ophelia deur Maria Vos (Dit Klink na Donderweer (2021), Wie Nie Wil Hoor Nie (2022), Lank Lewe die Keiser (2023) spruit uit ’n lekker dag in die Overstrand toe Maria tydens die plaaslike kerkbasaar agter die koektafel gewerk het. (Sover sy weet het geen skenkings hier uit die saal ontsnap nie.)

Juanita de Villiers het die regie behartig.

https://omny.fm/shows/radioteater/vermis-ophelia-deur-maria-vos

Die storie
Nella kuier op ’n klein kusdorp om haar ouers te help intrek, maar nadat sy met die uitpakslag ’n klompie glase breek, besluit haar ma sy wat Nella is moet eerder die plaaslike kerkbasaar se reëlings oorneem.

Dié eenvoudige guns ontaard in ’n besonder stresvolle geleentheid toe ’n boer met die verkeerde soort skenking opdaag en die buurdorp se oorbedrywige polisiesersant die kleinvee aan die stert beetkry.

Die akteurs
Lizelle Pike, Pietie Beyers, Elzette Maarschalk, Hannes Brümmer, Nana Stapelberg en DeWaal Stemmet in die rolverdeling.

Die aktrise Elzette Maarschalk is met hierdie radiodrama uit haar aftrede gelok. Dit is 35 jaar sedert sy laas in ’n radiodrama gespeel het, en ons is almal ongelooflik bly — haar talent is eenvoudig uitsonderlik.

Van die regisseur – Juanita de Villiers
Dit was heerlik om ’n teks te ontvang wat lig van toon is, met ’n scenario wat regtig snaaks uitspeel. Die belangrikste vir ons was om ’n natuurlike vloei te behou tussen die twee hoofliggings waar die verhaal afspeel. Hierdie oorgange bepaal die stemming en gevoel van die storie.

Ons het ook daarop gefokus dat die ritme en aanslag van die twee ruimtes duidelik hoorbaar moet wees. By die basaar is dit besiger, selfs effens chaoties, terwyl dinge in die Verbarium stadiger en meer ingestel beweeg. Hierdie kontras help ook om die komedie van die situasie uit te lig.

Verder het ons seker gemaak dat die spel so eerlik en opreg as moontlik bly. Al is dit ’n komiese situasie, is dit nie ’n klug nie — sulke misverstande gebeur daagliks in die regte lewe wanneer mense mekaar misverstaan of net nie mooi luister nie. Dit gee die storie sy menslike kern.

Al hierdie elemente saam maak dit ’n radiodrama waarby ’n mens gemaklik kan terugsit en vir sowat 50 minute jou eie wêreld kan vergeet.

Vermis, Ophelia is ná die uitsending beskikbaar op Potgooi en Spotify.

 

 

Nuwe feestyd-vervolgverhaal begin 24 November

Kersversierings van hoop deur Joe Kleinhans, is ‘n oorspronklike middagvervolgverhaal wat vanaf 24 November elke weeksdag om 14:45 uitgesaai word.

Kleinhans, die wenner van die  2007 RSG Radiodramaskryfkompetisie, is goed bekend aan luisteraars van radioteater en middagvervolgverhale. Hy vertel dat Kersversierings van hoop hom weliswaar uit sy gemaksone gedruk het.

Lelia Etsebeth is die regisseur, en het haar ervaring ingespan om aan elke karakter lewe te gee.

Die rolverdeling bestaan onder andere uit gunstelinge soos Tobie Cronjé, Marina Coetzee, André Stolz, Karen Wessels, Leon van Nierop, Heidi Mollentze en Charlie Bouguenon.

Die storie

In die verhaal word die rol en invloed van ‘n hopie kersversierings op ‘n huisgesin toegelig.

Hannes (Charlie Bouguenon) en Lena (Heidi Mollentze) word groot met ‘n kersboom en kersversierings. Dis ‘n tradisie wat hulle voortsit met hulle kinders Emma (Imarie Oberholzer) en Ben (Dihan Keun).

Maar met Emma uit die huis en Ben op pad universiteit toe, sit die twee ouers met die dreigende leënessindroom. Skielik staan die boks vol kersversierings half vergete in die pakkamer.

Die kersversierings is maar al te bewus van die spanning in die huis. Ben se matriekwegbreek en die slegte nagevolge van sy besluit, verhoog die spanning. Hannes word onverwags na sy baas se kantoor ontbied met dramatiese gevolge en dit voel vir die kersversierings of Kersfees  besig is om te ontspoor.

Kersversierings van hoop fokus op mens (én kersversierings) se stryd teen die wêreld se beweging na modernisering en die wegdoen met simboliek. Emma en Ben se reis na jong volwassenheid weerspieël die universele konflik oor hoe om volwasse te wees sonder om die betowering van die tradisie en nostalgie prys te gee.

Die kersversierings het elke jaar een seisoen. Hierdie tydsdruk plaas hulle normaalweg onder spanning, maar vanjaar is dit erger. As hulle nie daarin slaag om hulle waarde en relevansie te behou nie, word hulle moontlik vir altyd weggegee. Terwyl hulle die lief en leed van die huismense intens beleef, voel die kersversierings die omgekeerde is nie waar nie. Hulle soek naarstiglik na beter maniere om met die huismense te kommunikeer.

Dit lyk asof die kersversierings hartlik en feestelik saamleef, maar die vrede word dalk versteur. Hulle verskille is juis vanjaar groter vanweë die moontlikheid dat hulle nie langer in dié huis gebruik gaan word nie. En dan is daar natuurlik die impak wat Worsie (Phillru van Achterbergh) die worshond op hulle het. Die Dachshund verpes die kersversierings omdat hulle gedurende die Kerstyd al die aandag kry wat hy glo hom toekom. Hy maak dit sy doelwit om ‘n einde te bring aan die kersboom en kersversierings in die huis.

Wie is wie: die rolverdeling

Hannes (Charlie Bouguenon) is in sy middel vyftigs, stil en bedagsaam, geheg aan tradisie, maar laat Lena sy vrou, aanvanklik die leiding neem. Hy is ‘n knap meulmaker, wat gemoeid is met die herstel en installering van meganiese toerusting wat elektries aangedryf en beheer word. Na dertig jaar se diens verander sy beroepslewe skielik sonder waarskuwing.

Lena (Heidi Mollentze)  het pas vyftig geword, is goedhartig en prakties. Sy is trots op haar huis maar wil eenvoudiger leef omdat die kinders uit die huis gaan. Die dreigende leënessindroom kan haar laat ontspoor. Nostalgie krap haar om. Maar Lena is die een wat meer kontak met die kersversierings begin maak en sy begin met haar gunsteling Gloria, die goue engel, haar “kersboomkroon”.

Emma (Imarie Oberholzer) is uit die huis verpleegkollege toe. Sy werk en studeer en voel haarself geroepe om haar in verpleging te bekwaam. Maar dit bring ‘n nuwe leefwyse mee waarin die wonder van die kersboom in dié stadium van haar lewe nie meer naastenby so belangrik is as wat dit in haar kinderjare was nie.

Ben (Dihan Keun) het pas matriek geskryf. Hy is ietwat van ‘n rebel en hy glo Kersfees is ‘n truuk om geld te maak.  Hy wil nie langer soos ‘n kind behandel word nie. Hy kry die idee vir ‘n matriekwegbreek in Ballito saam met sy vriende.  Daarvoor het hy maande lank as kelner gewerk  om geld te spaar. Maar hulle kry motorprobleme  en beland in ‘n ernstige motorongeluk met tragiese gevolge.

Meneer Eben Glas (Leon van Nierop) is ‘n afgetrede ornamentmaker in sy vroeë sestigs. Hy het elke jaar die kersversierings van sy gereelde kliënte nagegaan, maar vanjaar doen hy sy laaste rondte. Hy moes sy winkel “Glas en Gees” toemaak weens ‘n dalende vraag na sy dienste, maar by terugskouding weet hy dis onder andere omdat hy nie in pas gebly het met die moderne manier van bemarking nie. Hy is glad nie vertroud met die impak van sosiale media nie en daarom klop hy by Ben aan.

Blink (De Waal Stemmet) is ‘n ou diskobal-ornament uit 1980. Hy is sinies en kla baie. Tog sit daar ‘n sagte hart agter sy sarkasme.

Tinsel (Tobie Cronjé) is ‘n dramatiese hiperaktiewe string klatergoud. Hy is baie emosioneel en dit vererger ná hy ontvoer word en in die tuin in die krismisroos opgehang word. Hy is mal oor flair en toneelspel. Jy wil vir hom lag, én jy kry hom jammer.

Oupa Krismis (Allan Dyssel) is ‘n tradisionele rooi-en-groen, handgeverfde glasornament in die vorm van ‘n miniatuur Kersvader. Hy was eens kroon op die kersboom  voor Gloria hom onttroon het en hy staan hy bedeesd onder die Kersboom.

Luma en Lux (Karen Wessels en Lizelle Pike) is die vonkelende kersliggies. Hulle is soos ‘n tweeling wat saam kan praat en sing. In hulle helder lig lewer hulle maklik sosiale kommentaar. Hulle kan mekaar afwissel deurdat een liggie prakties kan dink terwyl die ander liggie ‘n regte dromer vir die oomblik is.

Oubaas Denne (André Stolz) die herbruikbare kunsboom word uit verskeie dele saamgestel en is gekoop toe die regte kersboom siek geword en doodgegaan het. Dit was ‘n regte tranedal in die huis, en dit was die enigste rede waarom Lena ingestem het dat die nuwe Oubaas Denne gekoop kon word.

Worsie (Phillru van Achterbergh) is die worshond van die huis. Sy voorsate kom uit Duitsland en daarom verkies hy om Dachshund genoem te word. Hy is gespierd met kort, stomp bene. Sy voorpote is buitengewoon groot en spaanvormig en hy hou daarvan om gate te grawe. Worsie misbruik natuurlik al sy stamina om die kersversierings te terroriseer.

In Kersversierings van hoop moet  daar uiteindelik ‘n besluite geneem word oor die kersversierings se pad vorentoe. Die verhaal is spesiaal vir RSG geskryf deur Joe Kleinhans. Met Tobie Cronjé, Marina Coetzee, André Stolz, Karen Wessels, Leon van Nierop, Heidi Mollentze, Charlie Bouguenon, Dihan Keun, Imarie Oberholzer, De Waal Stemmet, Luan Jacobs, Allan Dyssel, Lizelle Pike en Phillru van Achterbergh.

Oud en jonk kan vanaf 24 November op  weeksdae om 14:45  opnuut kom deel in die betowering van Kersfees en die besonderse rol van kersversierings in dié tydperk. Luister op RSG, rsg.co.za en SABC Plus. Elke episode is na afloop van die uitsending beskikbaar op RSG se  potgooi en op Spotify.

Prestigetoekennings vier taal- en kultuurreuse

Tydens ’n spoggeleentheid by Die Boekklub in Johannesdal buite Stellenbosch is vier vooraanstaande Suid-Afrikaners – Magdaleen Kruger, Max du Preez, Hein Willemse en Philip de Vos – met die ATKV se Prestigetoekenning vereer vir hul onmiskenbare impak op die Afrikaanse taal- en kultuurwêreld.

Elke ontvanger het ook ’n skildery van Henk Serfontein ontvang. Die seremoniemeester van die aand was Kabous Meiring. Sy het gesê dis belangrik dat hierdie mense se name by vorige ontvangers gevoeg word, omdat hulle die ruimte in Afrikaans geskep het waarin ons tans in Afrikaans kan werk en kreatief wees. Sy het ook van die groot datums in Suid-Afrika se geskiedenis sedert 1930 uitgelig en gesê met elkeen van daardie gebeurtenisse was die ATKV die afgelope 95 jaar deel daarvan.

Die ontvangers

Magdaleen Kruger is vereer vir haar bydrae tot radio, waar sy vir meer as 32 jaar as verslaggewer, regisseur, redakteur, omroeper en eindelik stasiebestuurder van RSG gewerk het. Wat sy vir openbare diensradio verrig het, is van onskatbare waarde.

Kobus Burger – radioman by RSG, kunstejoernalis, regisseur en rolspeler in die Afrikaanse kultuurlandskap – het die commendatio vir Kruger gedoen. Hy werk as kuns- en kultuurredakteur en is betrokke by verskeie radiodramas en musiekprogramme.

Kobus was by RSG ’n jarelange kollega van Magdaleen en het in sy commendatio gesê: “In die gange van die SAUK, onder leiding van Magdaleen Kruger, is daar na RSG verwys as die ‘olieboor van die SAUK’. In die sowat 15 jaar as RSG se stasiebestuurder, het sy die nasionale Afrikaanse uitsaaier se winsgewendheid en gehaltesuksesse uitgebou.

“Haar liefde vir taal, asook die kunste en kultuur, het reeds tydens haar jare by die ATKV uiting gevind toe sy die organiseerder vir toneel en klassieke musiek was. Later was sy aanbieder van Taaldinge op RSG, en tans is sy steeds die anker van Loof die Here, een van die oudste programme op Afrikaanse radio.

“Van nuus en musiek tot taal, talentbestuur en selfs die georganiseerde vakbondwese, het Magdaleen Kruger in haar meer as drie dekades by die SAUK haar stempel afgedruk en seker gemaak dat die verveling van voorspelbaarheid nie die vlamme van die draadloos blus nie.”

Magdaleen het met ontvangs gesê die toekenning is ’n groot eer, dat sy ’n sagte plek het vir die ATKV en dat die tyd by die ATKV vroeg in haar lewe haar baie goed voorberei het vir die posisies wat sy later in haar lewe beklee het. Daar het sy geleer organiseer en om mense te kan bestuur.

Sy het gesê sy moet vir heelwat mense dankie sê, want haar sukses is te danke aan ’n groot klomp mense se bydrae.

Prof. Hein Willemse, akademikus, skrywer en kultuurdenker, is vereer vir sy werk oor kanonisering, kreolisering en marginalisering in die Afrikaanse letterkunde, die meervoudige geskiedenisse van Afrikaans en die rol van bruin en swart Afrikaanssprekendes in die taal se ontwikkeling. Hy het wyd gepubliseer oor temas soos identiteit, taalpolitiek en die dekonstruksie van die Afrikaanse kanon.

Willemse is bekend as ’n dekoloniale denker wat Afrikaans help beskou het as meer as net “die taal van die onderdrukker”. Sy werk het ’n groot invloed op die verbreding van die Afrikaanse literêre en kulturele gesprek gehad.

Die akademikus en literator, prof. Willie Burger, verbonde aan die Universiteit van Pretoria as professor in die Afrikaanse letterkunde en bekend vir sy werk oor narratologie, literêre teorie en Afrikaanse prosa, het prof. Willemse se commendatio behartig.

Hy het gesê Willemse het ongetwyfeld ’n volgehoue bydrae op verskeie terreine van die Afrikaanse taal- en kultuurlandskap gelewer, “maar sy belangrikste bydrae is dat hy in der waarheid die manier waarop ons óór die konsep ‘Afrikaanse taal en kultuur’ dink, help verander het.

“Die variëteit van Afrikaans wat in woordeboeke en grammatikas beskryf is en tot amptelike taal verhef is, het ’n groot groep Afrikaanssprekendes uitgesluit. In ons dae het hierdie kennis nou al gemene besit geword en (byna) almal stem daarmee saam, maar dit het algemene kennis geword danksy die werk van onder meer Hein, wat met onverdrote ywer die gevestigde opvatting van Afrikaans en die Afrikaanse literêre kanon uitgedaag het.

“Hein het die gemaksone van beskouings oor Afrikaans se herkoms en die literêre kanon deur sy navorsing uitgedaag. Sy boek Aan die ander kant is baanbrekerswerk. Hy grawe vergete, gemarginaliseerde stemme uit en wys voortdurend dat daar ook ’n ander kant aan elke verhaal is. Ná blootstelling aan Hein Willemse se werk, kan geen kritikus meer onbewus bly van die kant waarvandaan hulle kyk nie.”

Prof. Willemse het met ontvangs gesê een van die groot dinge wat ons met die geskiedenis van Afrikaans verloor het, toe Afrikaner-nasionalisme Afrikaans gekaap het, is die taal se bindingskrag oor die hele land. “Ek dink ons kan dit herwin; Afrikaans behoort nie net aan een groepering nie. Dis – naas Engels – die een taal wat al die spore van hierdie land dra – van alle gemeenskappe en oor alle grense heen.”

Max du Preez is ’n invloedryke figuur in die Suid-Afrikaanse media- en kultuurlandskap. Sedert sy vroeë werk in koerante en sy toonaangewende stigting van Vrye Weekblad tot sy latere werk as skrywer en kommentator, illustreer sy loopbaan ’n strewe na onafhanklike joernalistiek en ’n bereidheid om risiko’s te neem ter wille van die waarheid en regverdigheid.

Hy het verskeie boeke geskryf, waaronder sy memoires Pale Native: Memories of a Renegade Reporter (in beide Afrikaans en Engels) en ander werke soos Of Warriors, Lovers and Prophets en Of Tricksters, Tyrants and Turncoats.

Du Preez staan bekend as ’n Afrikaner wat gedurende ’n tydperk van groot politieke verandering sy taal- en kultuurruimte gebruik het om magstrukture uit te daag. Hy beklemtoon dat joernalistiek nie bloot verslag doen nie, maar ook ’n morele rol in die burgerlike samelewing speel.

Die skrywer en joernalis Jacques Pauw – wat bekend is vir sy ondersoekende joernalistiek – het Du Preez se commendatio behartig. Pauw het vir verskeie koerante en televisieprogramme gewerk en talle korrupsie- en politieke skandale ontbloot.

Hy het oor Du Preez gesê: “Toe ek hom in 1987 leer ken het, het hy geglo in vryheid, gelykheid en ’n geleentheid vir almal. Dis dié beginsels wat ons probeer uitleef het toe ons die Vrye Weekblad ’n jaar later begin het.

“Max du Preez is ’n held, al vir vyf dekades lank. In die donkerste tye in Suid-Afrika, soos met die noodtoestand van die later-80’s, het hy ’n lig op die verskriklikhede geskyn vir diegene wat wou sien. Elke boek wat hy geskryf het en elke stukkie joernalistiek wat uit sy pen gevloei het, is ’n standbeeld vir een van Suid-Afrika se grootste seuns.”

Du Preez het met ontvangs gesê hy praat Vrystaatste Afrikaans – die neutraalste van al die Afrikaanse variëteite, maar hy is mal oor die taal; hy is trots om te sê dis sy moedertaal en hy is mal oor die taal in al sy variëteite en aksente. Dis ’n wonderlike ding waarmee hy graag speel en eksperimenteer.

Hy het vertel dat hy aan geen party of organisasies behoort nie, maar hy is ’n lid van die ATKV – die minste rasgereguleerde beweging in die land – en dit sê iets.

“Dis vir my ’n vreemde ding om erkenning vir die Afrikaanse deel van my te kry. Dit kom min vanuit Afrikaanse geledere en dit maak dit vir my baie meer spesiaal.

“Afrikaans is vir my ’n hartsding en dit moet die mooiste storie wees van ’n taal wat ooit ontstaan het.”

Philip de Vos is vereer is vir sy werk as onderwyser, operasanger, skrywer en fotograaf. Hy het sedert 1984 al meer as 30 boeke in Afrikaans en Engels gepubliseer, met ’n sterk fokus op kinderliteratuur, limerieke en “nonsenspoësie”. Fotografie vorm ’n belangrike deel van sy werk. Hy het verskeie solo-uitstallings gehou, fotobundels gepubliseer en baie erkenning vir sy werk as fotograaf ontvang. Sy nuutste boek, Die jaar toe dit gemmerbier gereën het, is onlangs gepubliseer.

Frieda van den Heever – musikant, sangeres, liedjieskrywer, aktrise en radioaanbieder – het die commendatio vir Philip gedoen.

Sy het in haar toespraak gesê: “Een van my gunstelingskrywers het eens gesê: ‘Storytelling is an act of hospitality.’ Philip de Vos is gasvry verby. Hy steek sy meegevoelers uit (om ’n metafoor te gaan leen by sy geliefde goggas) in alles wat hy aanpak – of dit in verse skryf, foto’s neem of musiek is. In alles wat hy deel, skemer die donker én lig deur, die swoeg én sweef, die pyn én plesier, die klippe kou én die lugkastele bou. Nie omdat hy probeer nie, maar omdat die lewe so is en hy lewensgetrou skep.

“Philip se aanvoeling en intuïsie is inspirerend, en sy ligvoetige styl het al diep spore in my en soveel ander lesers se binnelandskap gelaat. Dit word gekenmerk deur wonder, avontuur, verbeelding, humor, verrassings, oënskynlike paradokse en woorde wat musiek maak.”

Sy het Nelia Gerber, ’n leerder van die Laerskool Totius, voorgestel, wat een van Philip se versies opgesê het.

Philip was oorbluf en het gegrap dat hy op 86 amper so oud soos Afrikaans as amptelike taal is! Hy het gesê hy is dankbaar dat hy rym ontdek het en al weet hy tot vandag toe nie hoe om te skryf óf hoe om te sing nie – hy dóén albei net – weet hy:

“Elke voëltjie het sy lied –

selfs die seevoël en die kokkewiet.

Of dit nou fraai of goor of gek is,

elkeen sing maar soos hy gebek is.”

Philip het die hoop uitgespreek dat hy nog baie kan sing soos hy gebek is.

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, het gesê dis vir die ATKV belangrik om platforms te skep waar mense hulself kan uitleef. “Dis belangrik vir Afrikaans om sy plek in die land in te neem – nie as verdeler nie, maar as brugbouer en medium waarin versoening en nasiebou kan plaasvind.

“Ons het vanaand voorbeelde van mense wat uitgestyg het omdat hulle nie noodwendig gekonformeer het nie – nie in ’n bepaalde boksie gebly het waarin ons mense wil plaas nie.

“Afrikaans is groot, dis wyd, dis baie divers. Dit het baie tongvalle; dit het baie invalle en ’n ryk geskiedenis wat baie verder strek as net die amptelike 100-jaar-viering van Afrikaans in 2025.”

Sy het gesê dis ’n taal wat gebore is uit ’n behoefte van mense wat in ’n land aangekom het en wou kommunikeer met dié wat hulle hier aangetref het. “En as dit die oorsprong van ’n taal is, kan ek nie sien hoekom die taal nie sal voortleef nie.”

Vorige ontvangers van die ATKV-Prestigetoekenning sluit in dr. Anton Rupert (sakeleier), PG du Plessis (skrywer), lt.genl. M. van Vuuren (kultuurleier), Mimi Coertse (operasangeres), prof. Elize Botha (akademikus), prof. TT Cloete (digter), Elsa Joubert (skrywer), Peet van Staden (mediaman), Riaan Cruywagen (TV-nuuslegende), Antjie Krog (digter), prof. Richard van der Ross (akademikus), David Kramer (musikant), Tim du Plessis (joernalis), Marida Swanepoel (mediaskepper), Coenie de Villiers (sanger en liedjieskrywer) en Diana Ferrus (skrywer).

Jou oë verklap baie van jou gesondheid

Jou oogkundige kan baie uitvind van jou oë en jou gesondheid wanneer oog-ondersoeke gedoen word.

Buiten om vas te stel hoe gesond jou lense, jou retina en jou makula is, kan die oogkundige ook ‘n idee kry of jy verhoogde bloeddruk of cholesterolvlakke het, diabetes, verhoogde tiroïed-funksie, harsingskudding en nog meer.