Iemand sing van ‘n boer in beton; ‘n groep noem hulleself ‘n Boere boy-band; vir sommige mense beteken dit ook die polisie. En dan is daar nog die mense wat kos op die land se tafels sit. Wat beteken boer en Boer vandag? Prof. Marné Pienaar van die Universiteit van Johannesburg het ‘n akademiese artikel geskryf waarin sy die gebruike en betekenis ondersoek.
Hoekom skuif kerke en gemeentes so maklik van Afrikaans na Engels as geloofstaal? Die Afrikaanse Taalraad ondersoek dié kwessie. Die ondervoorsitter van die ATR, dr. Hendrik Theys, die bestuurshoof, dr. Conrad Steenkamp, en die taalkundige, prof. Wannie Carstens, vertel vir Ina Strydom wat die agtergrond tot die ondersoek is, en gee inligting oor ‘n simposium wat beplan word om die skakel tussen taal en geloof te belig, en ‘n basis vir gesprek te skep.
Die kwessie van standaardtaal is die afgelope tyd in die kollig. Daar is diegene wat meen “standaard” sluit mense uit. Maar wat is standaardtaal; wat is die doel daarvan; hoe werk dit elders in die wêreld; en is dit nodig om ‘n standaardtaal te hê? Die gesaghebbende taalkundige, prof. Ernst Kotze, beantwoord Ina Strydom se vrae.
Waarom gebruik ‘n mens ‘n komma as desimale skeier, en nie punt nie? En waarom kan ‘n mens nie maar net soos wat die gewoonte geword het, van biljoen praat in plaas van miljard nie? Die vertaler en taalpraktisyn, Tom McLachlan, vertel vir Ina Strydom wat die rede hiervoor is.
Die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het onlangs ‘n seminaar gehou met die tema: Die einde van Standaardafrikaans? Die kommissie se voorsitter, Suléne Pilon, vertel vir Ina Strydom wat hulle gedagtegang oor dié kwessie is.
Luisteraars se taalnavrae word beantwoord. Alet Cloete en Gerda Odendaal van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal is saam met Ina Strydom in die ateljee, en vertel onder meer wat “kiri slam” beteken wat in ‘n gedig van ID du Plessis voorkom; en waar die woord “iesegrimmig” vandaan kom.
Afrikaans is oor twee jaar 100 jaar oud. Die projek om dié geleentheid te vier, is onlangs aangekondig. Teen hierdie agtergrond is dit dan ook nodig om bestek te neem van Afrikaans se infrastruktuur: wat is daar, en in watter toestand is dit? Prof. Wannie Carstens van die NWU verduidelik vir Ina Strydom wat Afrikaans se infrastruktuur is, en hulle besin oor onderhoud en instandhouding.
Luisteraars se taalnavrae word beantwoord. Van die kwessies wat bespreek word, is die gebruik van manlike en vroulike vorme; waarom tagtig met ‘n t begin en nie “agtig” is nie; en die verskil tussen insette en insae. Alet Cloete en Gerda Odendaal van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal is saam met Ina Strydom in die ateljee.
Vloek jy in Afrikaans of Engels? Vloek is ‘n interessante kwessie, en verskillende woorde is meer of minder aanvaarbaar vir verskillende mense. Maar watter rol speel tweetaligheid, en vloek ‘n mens dalk makliker in Engels as jy Afrikaans is, of anders om? Die taalkundige, prof. Gerhard van Huyssteen van die NWU, vertel vir Ina Strydom van ‘n internasionale projek waarmee hy besig is.
Die verskil wat ‘n letter kan maak! Is dit ‘n tikfout of ‘n taalfout? Die bekendstelling van nuwe banknote het tot groot ontsteltenis gelei by sommige lede van die Tsonga-taalgemeenskap omdat die woord “bangikulu” wat Reserwebank beteken, sonder ‘n “n” gespel word soos op die vorige stel note. Die taalpraktisyn van Akademia, Karien Brits, vertel vir Ina Strydom waaroor die ontsteltenis gaan.
Aanbieders
E-nuusbrief
E-nuusbrief
Teken in op die RGS E-nuusbrief
E-nuusbrief
Teken in op die RGS E-nuusbrief
Bel Ons
(011) 714 2702
Navrae
info@rsg.co.za