05:55 - 06:00

Vroegoggendgedagte

Nou op die lug: 06:00 - 07:00

Monitor

Met Udo Carelse

Udo Carelse

Volgende: 07:00 - 09:00

Op en Wakker

Met Renske Jacobs , Gustav Greyling

09:00 - 11:30

Intussen met Eloise

Met Eloise Cupido

Tuis | Aanbieders | Derrich Gardner
Derrich Gardner

Derrich Gardner

Die stem agter die mikrofoon en die gesig voor die kamera!

RADIO
Die radiogogga het Derrich op Universiteit gebyt. Hy begin sy loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf by Radio Highveld in 1987. Toe die stasie in 1997 (Highveld Stereo) verkoop is, verskuif hy na Jacaranda 94.2fm waar hy die Saterdagoggendprogram aangebied het. Later was hy die man agter die mikrofoon tussen drie en sewe saans, toe ontbyt en nou is hy die man saam met wie Suid-Afrika huistoe gaan op RSG se Tjailatyd.

TELEVISIE
Sy gemak agter die mikrofoon het aan hom die geleentheid gebied om ook sy plek vol te staan in die televisiebedryf. Hy was reeds die aanbieder van verskeie programme. Opvoedkundige mediese programme soos Eduspectrum, die gewilde natuurlewe program 50/50, aanbieder van Crime Stop en ‘n reeks programme wat handel oor die sub-kulture in SA genaamd Shadow World is maar enkele van die hoogtepunte. Derrich Gardner het ‘n huishoudelike naam geword as kontinuïteitsaanbieder vir SABC 2 en die ou TV1. Hy werk later as veldaanbieder vir die gewilde program Pasella. Deesdae is hy lid van die kykNet familie waar hy veldaanbieder vir Kwêla en ook die aanbieder van DKNT, oftetwel Die kykNet Top-Tien, is. Hier het hy al die geleentheid gehad om van die land se bekendste musici as ateljeegaste te hê.

STEMWERK
Daar is geen keer aan Derrich se talente nie. Hy het reeds ‘n groot aantal stemopnames vir Topsport, SABC promosies, SABC 2 se promos, Kwêla se programskedule, asook Radio en TV advertensies gedoen. Sy besonderse stem en aanslag en tweetaligheid (beide Afrikaans en Engels) verseker ook dat sy stem op verskeie groot maatskappye die antwoorddienste gebruik word.

KORPORATIEWE MARK
Die korporatiewe mark is vir hom geen nuwe ervaring nie en blyk uit die talle optredes by produkvrystellings, motiveringskongresse en jaareindfunksies vir ‘n verskeidenheid van maatskappye wat wissel van bankgroepe tot skoonheidsprodukte tot van die groot casinos. Selfversekerdheid op die verhoog maak dat Derrich in groot aanvraag is as seremoniemeester by modeparades, musiekkonserte en ‘n breë spektrum van kultuurverwante gebeurtenisse. Hy word gereeld genooi na verskeie CD bekendstellings en daar word groot waarde geheg aan sy mening. Sy status as bekende Radio- en TV-persoonlikheid word deur verskeie groot maatskappye gebruik om hulle produkte te onderskryf. Hy tree soms ook op as beoordelaar by modevertonings en het al self ‘n keer of wat vir van die tydskrifte sy stap op die loopplank gedoen.

STOKPERDJIES
Hy doen die naam Derrich Gardner gestand en is in wye kringe bekend as ‘n ywerige tuinier. Soveel so dat ‘n roos onlangs na hom vernoem is. Sy besondere belangstellling in en kennis van tuinbou het meegebring dat hy dikwels genooi word as beoordelaar by verskeie tuinboukompetisies en ook om praatjies te lewer in die verband. Hy het ook al ‘n paar eksklusiewe meenthuistuine ontwerp en self uitgelê. Die berese Derrich het onder andere al plekke soos Australië, Morokko, Brasilië en Egipte besoek. Hy was ook deeltyds toerleier vir Thompsons na verskeie bestemmings soos Europa, Kenia en Mauritius. Hy beoefen sy beroep met toewyding en glo dat eerlikheid die sleutel is tot enige sukses. Dit geld op die verhoog, die skerm en ook agter die mikrofoon. Derrich is baie goed tweetalig en die perfekte keuse om ekstra glans aan enige funksie te verleen. Sy ondervinding van die afgelope bykans 20 jaar in die vermaaklikheidswêreld is ook nie te versmaai nie, en is hy rolmodel vir menige aspirant radio- en tv-aanbieders.

POTGOOI (aanddiens)

INTERAKTIEF

Volg ons op sosiale media: